Gedagte vir Vandag
Woensdag, 27 September 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (42)
Paulus in Atene (7)
Christus bind ons saam
Hand. 17:28a – “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.”
Paulus skets vervolgens God se teenwoordigheid, wat nie ver van enigeen van ons af is nie. Om die waarheid te sê, “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” En dit is die voordeel van Christen wees. Ons moet dit altyd onthou dat die lewende Christus die sentrale punt is van ons geloof en bestaan. Dit is onvermydelik dat daar ná 2 000 jaar baie uiteenlopende verklarings van Jesus Christus se leerstellings is. Hy het ten tye van Sy aardse verblyf, Sy boodskap geïllustreer met eenvoudige stories vanuit die lewensomstandighede van die mense saam met wie Hy daardie tyd geleef het.
Vandag leef ons as Sy dissipels in ‘n gesofistikeerde wêreld wat totaal anders is. Die feit bly onwrikbaar staan, Jesus Christus het nie verander nie, Hy is nog steeds die middelpunt van ons verlange. In, of deur Hom leef ons – Hy gee die lewe aan ons. Deur Hom beweeg ons – ons kom en gaan word deur Hom bepaal. Deur Hom bestaan ons met sekere karaktertrekke. Wanneer Christus nie meer daarby betrokke is nie, gaan die kernwaarheid van ons geloof verlore. En met reg kan ons dan vra: Bestaan ons, of leef ons? Hoe kry ons lewe? Die bekende teoloog Andrew Murray het gesê: “Gee jouself aan Christus en jy sal waarlik lewe, nie net bestaan nie!”
Andrew Murray wat diep geestelike spore in Suid-Afrika getrap het, het met ander woorde die uitdaging van Jesus Christus net bevestig: “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (Joh. 5:39-40). Christus bind ons saam – “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” Dit is daarom voordelig om aan ‘n dinamiese Christelike kerk te behoort. In tye van terneergedruktheid word ons bemoedig deur vriende wat vir ons omgee. Wanneer ons nie deel is van die “gemeenskap van gelowiges” nie, kan ons iets van groot waarde verloor.
Ons kan dalk in die versoeking kom om plaasvervangers te kies. Dit is nie noodwendig slegte dinge nie. Maar geen hoeveelheid werk sal ooit my en jou verhóúding met die lewende Jesus vervang nie. Ons kan byvoorbeeld die hele Bybel uit ons kop ken en in staat wees om die fynste detail van Bybelse geleerdheid met ander deel, en nogtans in gebreke bly om die waarhede van God se Seun op elke bladsy te ervaar. Dit help nie om nét met die dinge van die Here besig te wees en daardeur die Here van die dinge nie te herken en erken nie. Die Here van die dinge argumenteer nie met die Jode of met ander mense nie, Hy gee feite omdat Hy hulle liefhet en hulle wil red!
Om Christus te ken en Sy lewende teenwoordigheid te ervaar, is die een faktor wat ál ons gelowiges verenig. So ‘n eenheid vernietig selfgenoegsaamheid en Christenskap begin vir ons opwindend te wees. Die lewe verloor sy eentonigheid en ek wil sê, kleurloosheid. Want as ‘n mens net bestaan, is die lewe kleurloos. Christenskap word dan eintlik eksklusief want die Gees van God neem besit van ons. Ek en jy leef dan daagliks in die teenwoordigheid van ons dinamiese Vader. Christus bind ons saam. Wanneer ek en jy onsself aan Jesus oorgee, sing ons saam in dieselfde koor: “Jesus, U gaan voor – ons volg in U spoor. U ken alle lewenspaaie, al die hoogtes, dieptes, draaie. Kom en vat ons hand na die Vaderland” (Liedboek 505:1).
“Ek mag in ‘n ander gebou as jy kerk toe gaan; mag in ‘n ander styl as jy aanbid; maar al wat vir ons kosbaar is, is God se gawe in Jesus Christus, wat ons Eenheid is. In Hom bestaan ons en kom ons niks kort nie”
(Michael Davis).
Gebed: Heilige Jesus, hou my denke op U gerig. Deur U leef ek, beweeg ek en bestaan ek. Laat my saam met Paulus alles prysgee wat waardeloos is, dit selfs as verwerplik beskou want om U, Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde – U ís ewigheidswaarde (Fil. 3:8). Amen.
Comments