top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 22 September 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (40)

Paulus in Atene (5)


Die verhouding tussen God en die wêreld


Hand. 17:23-25 – “Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ‘n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ‘n onbekende god.’ ‘Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld en alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.”


Paulus gryp die kans om die Ateners toe te spreek met albei hande aan. Hy sluit by hulle situasie aan en noem dat hulle godsdienstigheid hom dadelik opgeval het. As voorbeeld hiervan meld hy dat hy ‘n altaar in Atene raakgeloop het met die woorde daarop: ‘Aan ‘n onbekende god.’ En dit is presies oor hierdie God wat hulle dien sonder dat hulle Hom eens ken, waaroor hy hulle wil vertel.


Dan beklemtoon Paulus God se groot krag. Die verhouding tussen God en die wêreld word benadruk wanneer Paulus aan hulle verduidelik dat God die Skepper van alle dinge is. Hy woon ook nie in tempels soos in dié wat hulle vir hul gode in Atene opgerig het nie. Omdat God groter as Sy skepping is, is Hy ook nie afhanklik vir enige offers van Sy skepsels of raadgewers wat Hom moet bedien met raad nie. Hy is dié God wat lewe en asem gee aan alles en almal wat leef op aarde.


Terwyl ons daar by die Areopagus-rots tussen die markplein en die magtige Akropolis gestaan het in Atene, het ek gewonder hoe klein Paulus moes voel terwyl hy hier vir die beroemde Ateners van sy tyd, die mees dramatiese en mees volledige toespraak van sy sendingloopbaan gelewer het. Paulus het Bybelse terme, en deur sy gebruik van Griekse woordspel, sy gehoor probeer lei na die lewende God van die Bybel. Paulus praat so na hulle sin. Hulle kan saamstem met hom. Hulle digters het al gesing van Zeus, skepper en vader van alle dinge. Maar in ‘n paar kernagtige woorde het Paulus die dwaling van die Ateners bestry.


Dit gaan nie oor Zeus nie! Zeus is nie ‘die lewende, die lewensasem’ van alles wat geskep is nie. Die God van die Bybel het die lewensasem in die eerste mens se neus geblaas (Gen. 2:7) en vorm elke kind in die moederskoot (Ps. 139:13-16). Alles is sy geskenk. Daarom is ons vir alles op Hom aangewys. Dis asof Paulus ‘n voorhamer gryp en al die tempels en beelde en altare stukkend slaan. Sonder om doekies om te draai, wys hy eintlik dat hy in verbinding staan met die lewende God. “Ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe” (1 Kor. 8:4-6).


Dit is deesdae nogal mode om allerlei items uit te wys wat glo satanies is en blykbaar met allerlei slegte kragte gelaai is. Sommige liedjies wat, as dit agteruit geluister word, mense en veral kinders na dwelms en bose dinge toe lei. Iemand vertel eendag vir ons dat sy selfs die engel-beeldjies uit haar huis verwyder het want sy was bang sy begin hulle aanbid of hulle bring dalk ‘bad luck’ in haar lewe. Sekere speelgoed, CD’s en selfs skilderye val konsuis ook in hierdie kategorie van afode. Paulus bied hier ‘n belangrike antwoord op die vraag of daar wel onheilspellende kragte in hierdie ‘afgode’ steek.


Paulus se antwoord aan sy destydse luisteraars is vandag steeds geldig vir ons ook. Daar bestaan geen ander gode nie. Daar is net een God: “God, wat die wêreld en alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde.” En Hy is God ons Vader, en een Here, Jesus Christus. Al die ander afgode is dood en beteken niks. Hulle besit nie duistere magte wat in ons kan inklim nie. Is daar duistere magte in liedjies, CD’s, skilderye en wat ook al? Nee, hulle is kragteloos en morsdood. Vra maar vir Jesaja. Hy beskryf in hoofstuk 40 van sy boek hoe groot ons God is, niks of niemand kan met Hom vergelyk word nie, soos ‘n Herder versorg Hy sy kudde. “Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes. 40:31). (My Comrades leuse.)


Ons as Christene moet nie bygelowig wees nie. God is die enigste Here. Daar bestaan geen ander god nie. Ons hoef dus nie vir dooie dinge bang te wees nie. God is Skepper en Hy is die Here – daarom mag daar geen ‘vermensliking’ (soos gode vermenslik word), van die lewende God wees nie – dit was ‘n groot dwaling van die ou tyd, maar ook in ons moderne tyd. Soos Paulus Atene se gode van hulle voetstukke spreekwoordelik laat aftuimel het en die lewende God bekend gemaak het deur sy toespraak, so moet ons ons vertroue in Hom plaas. Ons is vir alles van Hom afhanklik, nie van dooie gode nie. Ek en jy is selfs afhanklik van Hom vir ons lewe en ons asem. En dis nie ek wat so sê nie, “So sê God die Here ... Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg” (Jes. 42:5).


“Dit waaraan jou hart hom vasklem, dit waarop jy ten diepste vertrou – dit is jou god” (Martin Luther).


Gebed: Dankie God van hemel en aarde, dat ek kan vashou aan ‘n belofte wat ewigheidswaarde het, ‘n belofte dat ek maar op U kan vertrou want U alleen is die ware lewende God. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page