Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 21, 2023
- 4 min read
Donderdag, 21 September 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (39)
Paulus in Atene (4)
Jy moet gaan, Ek is by jou
Hand. 17:22 – “Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: ‘Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is ...”
Volgens oorlewering is die Areopagus ook die “heuwel van die oorlogsgod, Ares (Mars)” genoem. Elke Griek wat die trappies na die Areopagus bestyg het, het die indruk gekry dat hy daar met duistere magte in aanraking kom. Dit is dieselfde heuwel waar Atene se grootste filosoof Sokrates, ter dood veroordeel is om die gifbeker te drink, presies op die klag dat hy vreemde gode en vreemde leringe verkondig het. Paulus is dus in verhewe geselskap, voor die regbank van wysheid, gereed om te getuig vir die waarheid teenoor Atene se verdwaalde wysheid!
Die aanknoping by sy gehoor is ‘n lofprysing van hulle: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is” – godsdienstigheid in hulle baie afgodsbeelde en tempels, wat hulle toewyding aan hulle gode bewys, iets waaroor hy eintlik verontwaardig was. Hy weet hy is op dun ys, daarom begin hy sy rede met die heuningkwas. Fyn diplomaties sou ek sê, maar tog moeilik.
Paulus op die Areopagus se gedagtes word geneem na Jesus se woorde aan die apostels: “Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat” (Matt. 10:18-20). Paulus is nie meer bekommerd nie, en die Areopagus word ‘n Christelike kansel!
As kinders van die Here word ons dikwels gekonfronteer met die uitdaging om te getuig oor Jesus, ons geloof in Christus met iemand te deel of deur ongelowiges oor ons geloof uitgedaag word. En dan is dit vir die gemiddelde Christen soms ondenkbaar om ‘n antwoord te waag. Jesus het Sy apostels verseker dat die Gees hulle sal toerus om juis ook in hierdie situasie te kan getuig. Net so word gesante van Jesus, ek en jy, “op daardie oomblik deur God aan ons gegee wat ons moet sê. Dan is dit nie ons wat praat nie, maar die Gees van ons Vader wat deur ons praat.”
Jesus self doen ‘n beroep op ons om elke geleentheid te gebruik om van Hom te getuig, “Hy sal vir ons die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van ons teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie” (Luk. 21:15). Ons moet aan die wêreld uitbasuin van die Grootste Liefde ooit! Toe Martin Luther die waarheid in Christus ontdek het, het hy gesê: “My Here het my voor mense bely; ek sal nie daarvan terugdeins om Hom voor konings te bely nie.” Tot vandag toe nog word Martin Luther se belydenis deur Christene vereer! ‘n Amerikaanse teoloog, Lloyd Ogilvie het gesê: “Jou enigste taak is om jou denke in kalme verwagting oop te maak vir wysheid ver bo jou eie bekwaamheid. ‘n Christen is iemand in en deur wie die Here werk. Ons is nie bedoel om vir God te praat nie, maar om ons tonge onder Sy beheer te plaas sodat ons die gedagtes wat Hy in ons plaas, kan uitspreek.” Treffend né!
Die roepingsverhale in die Ou Testament sorg ook vir boeiende leesstof. Ons ken Moses, Gideon, Samuel en Jesaja s’n. Soos Moses en Gideon het Jeremia ook verskonings toe God hom wou stuur – hy is te jonk, hy kan nie goed praat nie. Soos by die ander, luister die Here na elke onwillige dienskneg en antwoord omdat Hy verstaan. By Moses se kan-nie-goed-praat-nie, laat God Aäron praat. God raak Jeremia se mond aan en sê: “Ek het nou my woorde in jou mond gelê” (Jer. 1:9).
Maar dit is die Here se antwoord op Jeremia se “ek-is-nog-te-jonk” verskoning wat ons gewone gelowiges moet laat regop sit. Die Here sit Sy voet neer: “Jy moenie so sê nie Jeremia! Ek stuur jou, en jy moet gaan.” Maar dadelik voeg God by: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek is by jou. Ek sal jou red.” Dit is al wat Jeremia wou weet. Dit is al wat Paulus op die Areopagus geweet het. En dis al wat ek en jy en elke geroepene kan weet: Die Éen wat ons geroep en gestuur het, is by ons! Al sé en doen ons dinge wat ons ongewild maak of selfs gevaar inhou, die Een wat ons geroep het, gaan saam met ons.
“God alleen is die Een wat nooit tevergeefs gesoek word nie, selfs wanneer ons Hom skynbaar nie kan vind nie, is Hy by ons” (Bernardus van Clairvaux: 1090-1153).
Gebed: Al moet ek deur donker dieptes gaan, is U by my. Dankie Here, ek is seker dat diegene wat aan my wil vat, eers by U moet verbykom. Ek weet U sal sorg dat ek nie buite U sig sal beweeg nie. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments