Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Sep 19, 2023
- 4 min read
Woensdag, 20 September 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (38)
Paulus in Atene (3)
Deel van die koninklike “ons”
Hand. 17:19-21 – “Hulle het Paulus na die Areopagus toe geneem en gesê: ‘Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig?
Paulus se getuienis op die stadsplein het die mense se nuuskierigheid geprikkel. Die Griekse filosowe wonder dus wie die vreemde God Jesus, en sy vroulike godin Anastasis, tog kon wees. Daar is ‘n onheilspellende klank wanneer die wysgere Paulus uitnooi om by die Areopagus op te tree. Die prediking van vreemde gode is in Atene met die dood gestraf wanneer gemeen is dat die staatsgodsdiens daardeur bedreig word. Vandaar die byna dreigende opmerking in vers 20: “Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”
Ou gewoontes is moeilik om te verander en dit is net so waar met betrekking tot die kerk as op enige ander gebied van die lewe. Ek meen, oor baie jare raak mens gewoond aan tradisies, gebruike en sekere metodes wat ons dinge doen. Dan is ons ook geneig om dadelik kapsie te maak aan verandering met ‘n: Dit het nou al vir jare en jare só gewerk, moenie karring aan dinge wat werk nie. Ja, die geleerdes noem dit mense wat verandering met misnoeë en agterdog afskiet en dit gaan gewoonlik met konflik en selfs skeuring gepaard.
Dit is dan ook wanneer nuuskierigheid die oorhand neem en ons redes soek waarom nuwe idees ingevoer word. Is die nuwe idee ‘n verbetering? Het die ou idee of ou metode misluk? Of is die verandering ter wille van verandering, ‘n sommer-maar-net tipe verandering? “Hierdie nuwe leer wat Paulus verkondig”, gaan oor Jesus Christus, en ja, Sy metodes was en is in verhouding met godsdiens praktyke van sy aardse tyd, anders. En wanneer ons dit in verhouding met die woord van God ondersoek, is dit egter bewys dat dit reg was en steeds reg is.
Paulus beantwoord dan die mense van Atene se wens om meer te wete te kom van hierdie nuwe leer wat hy verkondig. Hy vertel hulle van die ware God – die God, wat die wêreld met alles daarin, gemaak het (v. 23). Wanneer ek aan hierdie God dink, word ek ook soms gekonfronteer met die misterie van hoe dit moontlik is dat Hy terselfdertyd by al Sy kinders teenwoordig kan wees. Dan kan ek maar net in liefde voor Hom neerbuig – Hy is oral van ewigheid af, en Hy is nou ook, elke oomblik by my. Die God wat ek dien, is oral – in die hemel, op die aarde en selfs in die see!
Maar Hy is ook verhewe bo dit alles, verhewe bo ons, want alles leef uit Hom en deur Hom en tot Hom. Hy het alles geskep en hou dit alles in stand. Ons kan hierdie ware God aanbid, niks en niemand kan ons van Hom skei nie. Sy Seun Jesus Christus het my en jou verlos en sy Gees is ons Trooster! Daarom aanbid ons die drie-Enige God: Vader, Seun en Heilige Gees. Aan Hom kom die lof en die dank toe tot in ewigheid. Soos vir Paulus, is die passie van my hart om almal wat my pad kruis, aan ons ware God voor te stel.
Op ‘n stadium tydens hierdie pelgrimstog in ‘n mens se lewe, word die “ek”, eensklaps “ons”. Ons as gelowiges in die drie-Eenheid is op God se voorgenome reisplan op Christus se triomftog in die wêreld. Ons as volgelinge van Christus behoort altyd aan onsself in die meervoud te dink. Ons is nooit enkelinge wat een of ander geestelike oorlog voer nie; ons word deur niemand minder as God self aangevoer. Is dit nie wonderlik nie? Ek en jy is inderdaad ‘n koninklike “ons”.
Soos Paulus “Kan ons ander te wete laat kom wat hierdie nuwe leer is wat ons verkondig.” Soos ons aan’t beweeg is, gaan daar ‘n wesenlike invloed van ons af uit. Ons versprei die kennis wat ons oor Christus het soos ‘n wonderlike geur (2 Kor. 2:14). Sommige wil daarna luister, die geur is so aangenaam dat hulle graag wil luister. Ander sal maklik hulle neuse toedruk. Dan is daar diegene wat sal luister of lees solank dit net nie langer as ‘n paragraaf is nie.
Nou ja, Paulus het hierdie “geur” wat versprei word, as beeldspraak gebruik aan die Korintiërs. Hy het egter die “geur” van die evangelie aan baie ander ook versprei, selfs daar op die Areopagus in Atene. Ek en jy kan bevoorreg wees om in Christus deel van Paulus se twintig eeue oue “ons” te kan wees. “Ons” is geskep deur die lewende God om lewe te bring so ver ons gaan en wanneer ons kan. Dit is werklik ‘n voorreg om deel te kan wees van die koninklike “ons”.
“Daar is geen groter troos of vreugde nie as die sekerheid dat jy midde-in jou nood omsluit word deur die liefde van God” (Johannes Calvyn).
Gebed: Dankie Here dat ek in my eenvoud en onvolkomenheid, deel kan wees van U triomftog hier op aarde. Dit is ‘n heerlike genade. Ek is werklik bevoorreg om deel van die “ons” te mag wees wat die “geur” van U liefde kan versprei. U Naam ter eer. Amen.
Recent Posts
See AllSaterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus Elke dag ‘n getuie van Jesus Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...
Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Comments