top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 18 September 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (36)

Paulus in Atene (1)


Wees bewus van jou roeping


Hand. 17:16-18 – “Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17 Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18 ’n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: ‘Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?’ Ander het gesê: ‘Dit lyk of hy ‘n boodskapper van vreemde gode is.’ Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.”


Paulus is in Atene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom. Atene was destyds ’n soort wêreld op sy eie, ‘n kultuursentrum ryk aan tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die filosowe, die denkendes van daardie tyd. Maar ‘n kultuur sonder God. Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur, ‘n plek waar die inwoners nie die lewende God gemis het nie. Atene is omring met skatte van die wêreld – skoonste kuns en wysheid – álles, in diens van die leuen!


Paulus is aangegryp deur die skoonheid van die stad met al sy wysheid en kuns. Maar in sy eensaamheid as vreemdeling daar, raak hy verontwaardig weens die baie afgodsbeelde, altare en tempels te midde van al die skoonheid. Hy kan nie stilbly nie, en hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes (mense uit ander volke en kulture wat aangetrokke voel tot die God van Israel), te redeneer en later ook met die verbygangers op die stadsplein. Hy redeneer o.a. met Epikureërs. Hulle leier was die wysgeer Epikurus (341-270 vC) wat ‘n materialis was en nie belanggestel het in die lewe na die dood nie: “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons” (1 Kor. 15:32) – was hulle opvatting. Die Stoïsyne is deur Zeno gestig (336-264 vC), wat geglo het dat ‘n onsigbare goddelike krag alles en almal in die heelal deurdring.


Paulus was goed op hoogte van hierdie twee populêre filosofiese skole se opvattings en daarom seker nie verras dat hulle hier in Atene, die hart van die Griekse filosofie, met hom gestry het nie. Hulle is so selfversekerd en trots op hulle persoonlike filosofieë dat hulle hierdie vaal Joodjie met sy platgetrapte sandale afmaak as ‘n “’praatjiesmaker, ‘n boodskapper van vreemde gode.” Hy was so verontwaardig dat hy aan die Jode, die godvresendes en die heidene die evangelie begin verkondig het.


Die Epikureërs het dit onnodig geag om na God te soek en geen vrees vir sy oordeel gehad nie. Hulle het geleer dat die hele wêreld uit atome saamgestel is, en dat alles, ook die siel van die mens, ontstaan het uit ’n toevallige ontmoeting van hierdie atome. Volgens hulle hoef ’n mens nie vir die gode of vir die dood bang te wees nie, want die gode het niks met die mens te doen nie, en die dood is die einde van alles; die siel vergaan saam met die liggaam. Die Stoïsyne het in baie opsigte net die teenoorgestelde geleer. Vir hulle was die gode onpersoonlike magte en die mens moet in die noodlot berus. Die eenwording van die menslike siel met die goddelike, het tot gevolg gehad dat hulle die algemene broederskap van die mens geleer het. Hulle uitgangspunt was dat die siel van die mens na die dood terugkeer na die godheid, die groot wêreldsiel, en hou dit op om te bestaan.


Hoekom hou Paulus aan om die evangelie te verkondig? Hoekom verneder hy homself om met hierdie wysgere, wat vasgegroef was in hulle eie sienswyses, te redeneer? “Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” (1 Kor. 9:16), hoor ons hom antwoord. Paulus weet dat God uiteindelik van hom rekenskap gaan eis indien hy dit nie sou doen nie. En vandag? Het ek en jy ook daardie verantwoordelikheid om andersdenkendes te vertel van Jesus Christus se opstanding? Ek dink ons het nie ‘n verskoning nie. Al is ons dalk nie ‘n Paulus of ‘n predikant nie, is dit ons verantwoordelikheid om te getuig binne die werksterrein waar God ons geplaas het.


Die hoogtepunt in Jesus se lering op aarde word saamgevat in die Groot Opdrag waar Hy ons as Sy volgelinge beveel: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels ...!” (Matt. 28:19). Die eerste en mees vanselfsprekende antwoord by talle mense is dat die kerk die liggaam is onder bevel van Christus, en dit dus hoofsaaklik die taak van die leraar is om siele vir Christus te wen. Hulle is mos teologies en geestelik opgelei soos wat Jesus die dissipels gekies en opgelei het om die Ware Woord te gaan verkondig.


Nie heeltemal nie. Jesus se opdrag laat geen ruimte vir verskonings nie. Ons moet as die Here se verteenwoordigers (Gen. 1:26) in hierdie stukkende wêreld gaan leef, deur die toepassing van ons rentmeesterskap en getuies wees deur ons woorde en dade. Jesus het ons Sy Heilige Gees gegee sodat ons nie uit eie krag ons geloof en dienswerk in stand hoef te hou nie. “Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!” hoor ons Paulus sê. Dis wat ons ook sal moet doen!


“Paul might be the pioneer of Christ, but John was the witness of Christ. He was the man who was able to say: ‘I saw these things, and I know that they are true.’ To this day the final argument for Christianity is Christian experience. To this day the Christian is the man who can say: ‘I know Jesus Christ, and I know that these things are true" (William Barclay).


Gebed: Here, ék is nou U liggaam en verteenwoordiger hier op aarde. Gebruik my soos U goeddink. Amen.



Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page