Gedagte vir Vandag
9 Februarie 2021
Koos Espach
Romeinse denarius
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (45)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (1).
(Matt. 20)
Gelykenis van die arbeiders in die wingerd (1)
God se genade kom wanneer ons swak is!
Matt. 20:1-7 – “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ Hulle is toe soontoe. Teen twaalf-uur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Omtrent vyf-uur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.”
Jesus verwys Petrus nou, na aanleiding van sy vraag oor “die loon wat hulle – en alle gelowiges – daarvoor sal ontvang wat Jesus gevolg het” (v. 27), dat God geen merietestelsel ooreenkomstig ons prestasies, in Sy hemelse koninkryk het nie. Om seker te maak ons verstaan dit, vertel Jesus ‘n gelykenis wat illustreer hoe God se genade presies werk.
Ter informasie, is dit belangrik om te weet die Jode in Palestina se werksdag het om sesuur soggens begin en weer sesuur saans geëindig. Die werkloses het al van vroeg af op die markplein rondgestaan met die hoop dat iemand hulle in diens sal neem. (Nogal ‘n bekende gesig op die hoeke van strate tans oral in ons land.) Die druiwe in Palestina was teen die einde September gereed om geoes te word en kort daarna het die reënseisoen aangebreek. Die druiweboere moes dus skarrel om die druiwe so gou as moontlik te oes om skade te voorkom.
“Die eienaar van ‘n wingerd” het elke drie uur (06:00; 09:00; 12:00; 15:00) werkers op die markplein gaan haal. Hy kom met die eerste groep ooreen om “hulle die gewone dagloon te betaal” wat destyds een denarius was (waarde van ongeveer 4 sent destyds.) Vir die 09:00 groep beloof hy “wat billik is”, terwyl samevattend gesê word dat hy 12:00 en 15:00 “dieselfde gedoen”het. Hoewel daar net ’n uur werktyd oor is, is dit só dringend dat die oes ingesamel moet word, dat die eienaar selfs 17:00, nog mense gaan huur. Maar daar word niks oor loon afgespreek nie, hulle kry net die opdrag om “in sy wingerd te gaan werk.”
Die gelykenis wil eerstens beklemtoon dat God besorg is oor almal op die “markplein.” Omdat God genadig is, kan Hy goed wees vir alle mense sonder dat hulle iets verdien, daarom dat hy by herhaling teruggaan om mense in sy wingerd in te roep. Tweedens word beklemtoon dat God regverdig is deurdat Hy gee wat Hy beloof het. Omdat die gelykenis nog besig is om te ontvou, kyk ons eers na God se onverdiende genade.
Genade is altyd ‘n eenrigtingverkeer van God na die mens. Dit is altyd onverdiend en dit bly steeds ‘n verrassing. Dit is altyd God wat na ons, uit genade uitreik om Sy liefde vir ons aan te bied. Alles wat ons het en is, is onverdiende genade. Tog lewe die meeste van God se kinders asof hulle geen benul het van genade nie en bly hulle verbete vasklou aan die verdienstesisteem – hoe meer jy vir God doen, hoe meer genade ontvang jy!
Daar is seker niks meer tragies as ‘n gesonde mens wat werkloos is, ‘n mens wat talentvol is en daar net geen werk beskikbaar is waar hy of sy ‘n eerlike inkomste kan verdien nie. Wat dit nog erger maak, is dat daar ‘n bekommerde eggenoot en honger kinders tuis is wat versorg moet word. Baie mense het die verwronge idee dat dit vir ‘n Christen teenstrydig is om emosies soos droefheid, angs en vrees te ervaar. Hulle redeneer dat ‘n Christen enige terugslag kan en moet oorwin, want hulle geloof moet só sterk wees, dat dit hulle in staat sal stel om enige teëspoed te kan hanteer. Dit is wel waar dat ons in die krag van Christus en die bystand van die Heilige Gees, teen die storms van die lewe kan stry, maar ons het steeds mekaar nodig, onderlinge aanmoediging, onderlinge diens en onderlinge eerbetoon, “sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor. 12:25).
Willie Jonker skryf dat die ergste wat met ‘n Christen-gelowige kan gebeur, is wanneer die duiwel dit regkry om hom of haar só in hulle skik te maak met hulleself en hulle geestelike kwaliteite, dat hulle nie meer besef dat alles wat hulle het en is, genade van God af is nie. Daarenteen is gemeentelede die kern van die gemeenskap van gelowiges, hulle bou onderlinge verhoudings, deel verantwoordelikhede en help mekaar.
Ons het mekaar in tye van die diepste krisis, smart en twyfel, die meeste nodig. Terwyl ons op die kronkelende pad van die lewe wandel en omstandighede ons afdruk tót op die punt waar ons geloof begin wankel, het ons gelowige vriende die nodigste: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2).
Deur die hele Skrif heen maak Jesus dit baie duidelik dat ons mekaar onvoorwaardelik moet liefhê, soos Hy ons liefhet. Hierin lê die oplossing van die probleem vir dié wat uit voeling met God geraak het, met dié wat nie meer bly is nie, met dié wat treur. Hoe reageer ek en jy op God se grenslose genade? Kom ons buig in aanbidding voor Hom uit dankbaarheid en wees gewillig, om onder die leiding van die Heilige Gees, ons medemens in nood te help.
“In skuldbesef kan jy bid. En telkens sal jou gebed ‘n ander vorm hê: dán sal dit woorde wees, dan ‘n glimlag, dan ‘n frons. Maar God sal daar wees om jou te hoor, want Hy is daar as jy gaan lê en as jy opstaan, as jy in die huis sit of as jy op reis gaan. En Sy genade vir jou en my is veelkleurig”
(Ferdinand Deist).
Gebed: Dankie Here dat U altyd presies weet waaroor ek hartseer is. Dankie dat my trane, U trane ontlok en U my, in U arms toevou wanneer ek huil. Dankie dat ek as Christen in U kameraadskap en krag kan stry teen die storms op my lewensweg want U het ál die emosies self ervaar. Dankie dat U deur U grenslose genade, altyd bereid is om my nog ‘n kans te gee en weer en weer kom aanbied op presies die regte tyd wanneer ek dit die meeste nodig het, en dat dit in volle werking kom wanneer ek op my swakste is. Maak my bereid om dit ook vir ander te doen. Amen.
Commentaires