top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 15 September 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (35)

Paulus en Silas in Berea (4)


Ekstreme volgelinge van Jesus


Hand. 17:13-15 – “Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep. 14 Die gelowiges het dadelik vir Paulus na die kus toe laat wegbring, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. 15 Die mense wat vir Paulus begelei het, het hom tot by Atene gebring en toe teruggegaan met die opdrag van Paulus aan Silas en Timoteus om so gou as moontlik na hom toe te kom.”


Deur die werking van die Heilige Gees, het daar in Berea reeds ’n gemeente ontstaan uit die Jode wat die Skrifte ernstig bestudeer het om Paulus se boodskappe te toets. Saam met die Jode het ook ‘n groot groep Griekse vroue en mans tot geloof in Jesus gekom. Maar, ook hier – die ewige menslike ‘maar’ wat nooit wegbly nie, veral nie as dit om die eer van God gaan nie – het die bevooroordeelde Jode van Tessalonika egter gehoor dat Paulus in Berea is, en het hulle daar ook “oproer gaan stook en mense opgesweep.”


Waar die Here sy kerk begin, soos in Berea, bou satan onmiddellik ‘n kapel. Hierdie owerste van miljoene trawante kan geweldig organiseer want hy slaap of rus nooit. Sy ongewenste berigte deurkruis elke sekonde die ganse wêreld en sy slegte invloed bereik die Jode van Tessalonika: “Julle Jodegemeenskap word deur Paulus in Berea ondermyn. Julle moet ontslae raak van hom én van die evangelie wat daar posgevat het!” En na die heerlike seëninge in Berea volg die bittere vervolging. Paulus moet weer vlug. ‘n Groep gelowiges van Berea het nie gewaag om Paulus alleen te laat nie. Hy moes buite die bereik van sy vervolgers kom. Hulle vergesel hom per skip tot in Atene, ongeveer 350km weg van Berea.


Ek wonder wat het deur Paulus se gedagtes gegaan terwyl die skip weggevaar het van die kuslyn van Masedonië? Miskien bekommernis oor Silas en Timoteus wat in Berea agtergebly het, daarom die opdrag deur die begeleiers van Paulus met hulle terugkeer, dat Silas en Timoteus so gou moontlik na hom in Atene moet gaan. Dalk het hy getwyfel of hy voldoen het aan die versoek van die Masedoniese man wat hy in ‘n gesig gesien het – “Kom oor na Masedonië en help ons.” (16:9). In Filippi, Tessalonika en Berea het hy spreekwoordelik die vlam van die evangelie aan die brand gesteek, maar gaan dit aanhou brand?


Miskien het hy begin twyfel aan sy “apostelskap” en sy boodskap van die evangelie. Hy het nie die regte ‘papiere’ gehad soos Jesus se dissipels wat drie jaar saam met Hom gewandel en gewerk het nie. Hy het moontlik nie eers vir Jesus geken nie, en het maar op hoorsê-getuienis van Hom gepreek. Maar, dit dra nie water nie. Die opgestane Here Jesus het Sélf aan hom verskyn en Sélf aan hom die opdrag gegee om die evangelie te verkondig. Daarom is hy met die Gees vervul om die evangelie wat Jesus aan hom gegee het, te doen. Hy was dus committed. Hy was selfs bereid om te sterf daarvoor “ ... want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins ... selfs te midde van teenstand” (Fil. 1:21 en 28).


Dit is die boodskap van Paulus aan die gemeente in Filippi. Hy voeg in Fil. 1:29 by: “God het julle (ons) die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen om in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.” Is ons bereid om vir Jesus Christus te ly, of selfs te sterf vir Hom? Indien nie, dink ek moet ons gerus ons pols neem, dalk is ons reeds geestelik dood! Nee, wag, dit klink nou vreeslik ekstreem. Miskien moet ons eerder vra: Is ek en jy bereid om onsself te commit om vir Christus te leef? Ons weet mos Christenskap is nie vir sissies nie. Kyk maar wat sê Jesus in Markus 8:34-35: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”


‘n Jong predikant êrens in Afrika het die volgende neergeskryf en teen die muur van sy huis geplak: “Ek is ‘n dissipel van Jesus Christus. Ek het opgehou om bloot net te bestaan. Ek koester my in God se teenwoordigheid, kry krag in gebed en verdiep my in sy Woord. Ek het min ondersteuners en vriende op my smal pad wat lei na die hemel, maar my Gids is betroubaar en my doel is duidelik, al probeer die vyand my anders oortuig. Ek sal nie met hom maatjies maak nie! Ek sal nie stilbly of tou opgooi nie. Ek sal aanhou getuig van Hom wat Sy lewe vir my gegee het, totdat Hy weer kom om my te kom haal. Hy sal my dadelik herken, want ons kom al ‘n lang pad saam.”


Christenskap kwalifiseer vir die ekstreme. Dit grens aan lewensgevaarlik sê Jesus. Dit is om te gaan waar ek en jy nog nooit was nie. Om Christus-volgeling te wees moet ons adrenalien-verslaafdes wees volgens William Barclay. Gelukkig hoef ons nie aan buitengewone dinge soos valskermspring, saam met haaie swem, rotse uitklim sonder toue of rekspronge van die Van Stadensbrug gaan deelneem om hoër of dieper of vinniger Christene te word nie. Jesus vra nie vir my en jou op watter moeilikheidsgraad ons graag wil deelneem om in Sy span te wees nie. Hy sê eenvoudig: “Volg My!” Ja dit vat guts, dis ekstreem, maar dis ‘n avontuur. Sien jy kans?


“Moenie dink as jy Christus in jou lewe het, gaan die son altyd vir jou skyn nie. Maar Hy skyn altyd in jou”

(John Muir).


Gebed: Hier is ek weer, Here, met my laste en besware. Dankie dat U my aflaaiplek is. Dankie dat ek op so ‘n manier U kan volg en by U kan tuismaak. Help tog asseblief dat wanneer ek hier opstaan, ek nie weer my sak laste optel en verder dra nie. Neem dit by my, ek sien kans om U te volg. Amen.



留言


Recent Posts