Gedagte vir Vandag
Donderdag, 14 September 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (34)
Paulus en Silas in Berea (3)
Sola Scriptura – die Skrif alleen
Hand. 17:11-12 – “Die mense (in Berea) was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. 12 Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.” (2).
Vergelyk ook Rom. 10:14-15 – “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15 En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”
God se Gees is hier in Berea werksaam. Die mense ontvang die woord wat Paulus bring met toegeneentheid. Ja, die woord verskil van hulle Messiasverwagting, maar dit raak tog die verlange in hulle harte om meer te wil weet. Om hulle te oortuig, ondersoek hulle elke boodskap van Paulus. Elke leer moet aan die Skrif getoets word. Selfs die woord van ‘n engel, of in hierdie geval, van ‘n apostel, moet sy vastigheid in die Skrifte vind. Iemand het gesê dit is wat elkeen moet doen wat die woord van God hoor – die waarheid moet getoets word in dit wat die Bybel sê – die Bybel sal die skeidsregter wees!
Dit was soos ’n vars briesie wat die Here bewerk het om Paulus en Silas te laaf na hulle moes vlug uit Tessalonika. Hier in Berea was hulle werk nie vrugteloos nie. Baie van die Jode het dan ook gelowig geword. Hier word dit duidelik dat God sy volk Israel nie vergeet of verstoot het nie. Na die vervolging en vyandskap op ander plekke deur hulle eie volk, ontvang Paulus en Silas hier ‘n kosbare geskenk, hulle landgenote kom tot geloof in Jesus Christus, “baie van hulle ...‘’.‘n Aansienlike getal van die vername Griekse mans en vroue, wie se posisie in die maatskaplike lewe van daardie tyd nie altyd so bevredigend was nie, het ook gelowig geword.
Ons het Sondag, 27 Augustus 2023 die ingebruikneming van die Afrikaanse Bybel se 90ste bestaansjaar gevier. Dit was dieselfde datum in 1933 waarop die Afrikaanse Bybel amptelik bekendgestel is asook die dag wanneer die Bybelgenootskap sy 203de verjaardag gevier het. Dit was ‘n besondere geleentheid om ons te herinner hoe bevoorreg ons is om God se woord in ons eie taal te kan hê. En ons kan met God in Afrikaans praat, met respek, Hy verstaan Afrikaans! Maar ja, dit help nie ons het ‘n Bybel en ons weet nie wat daarin staan nie. Ons moet dit lees ook! Nie net lees omdat die Bybel volgens “Writers Digest”, die nommer 1 verkoper in die wêreld is nie. Ons moet Bybel lees omdat dit die waarheid is. Dis God se woord en God is waarheid (Joh. 14:6).
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...” (2 Tim:3:16a). Hierdie sewe belangrike woorde vorm die grondslag van alles wat ons glo en van ons hele geloofslewe! Dit beteken dat God sy wil aan verskillende skrywers deur die eeue bekend gemaak het en dat hulle dit op hulle beurt, deur die krag van die Heilige Gees getrou neergeskryf het. Ek en jy moet seker maak dat die wêreld se geraas nie die stem van God, waar Hy deur Sy Woord praat, oordonder nie. God maak Homself vir ons bekend deur Sy Woord. Daar leer ons Hom en ook Sy wil vir ons lewe ken. Die Bybel leer ons Christus ken; dit leer ons onsself ken en dit leer ons die waarheid ken. Ek dink geloof is onmoontlik sonder die Bybel. Dit kom deur die hoor van die Woord van God: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Rom. 10:17).
Ons leef in ‘n post-Christelike era, ‘n tyd waar mense vir hulleself ‘n wet geword het. Hulle besluit sélf wat om te glo en wat nie. Hulle is wel bewus van die dinge wat God in sy Woord van ons vra, maar nie almal wend ‘n poging aan om hulle lewens in te rig volgens die Woord nie. Ons luister na ons eie stem en ons eie keuses en ons eie wil, elkeen doen wat na sy eie oordeel reg lyk – en uiteindelik na niemand of niks anders nie. Ons leef in ‘n tyd waar ander stemme van hulle gesag gestroop is, en selfs as ons nog verkies om die woord “god” te gebruik in ons luister, praat ons eintlik maar net van selfgesprekke, die eie-ek in my eie koninkrykie.
Wanneer ons egter met ons Bybel besig raak, praat God persoonlik met my en jou en word ons geloof gevoed deur die woorde van daardie Woord. Daarom is Paulus se aanwysings van ‘n intieme belewing en gemeenskap met Christus, vandag steeds van toepassing. Kom ons gebruik sy praktiese stappe deur die verse van Romeine 10:14-15 van ons teks vandag, óm te draai: “God sal iemand stuur wat die ware woorde van die Woord, Jesus Christus, sal preek. Die preek wat gehoor word lei tot geloof, ‘n geloof wat lei tot aanroeping van God in gebed want Hy luister daarna en deur genade lei Hy jou tot redding.” Verwoord dit nie ons geloof opnuut nie? Dit behoort ons te oortuig dat geloof in Jesus Christus, die enigste voorwaarde is vir ons redding.
Hoe kán ek en jy nou staande bly in hierdie geloof om die ewige lewe te kan ontvang? Hoe maak ons dit moontlik? “Gaan luister na God se gestuurde wat die ware Woord bring uit die Bybel daar waar hy binne die kerk die Woord van die lewende God bring sodat jy kan luister en hoor, in Hom glo en jy Hom kan aanroep in gebed en gaan doen dan wat Hy vra” (Rom. 10:14-15 agterstevoor om gelees). Met ander woorde, geloof dóén is ‘n lewenswyse van kerk toe gaan, Bybel lees en gebed – dóén dit oor en oor, dóén dit uit liefde, dóén dit van harte!
“Omdat geen mens uitgesluit is om tot God te roep nie, staan die hekke van verlossing oop vir almal. Daar is niks wat ons kan verhinder om in te gaan nie, behalwe ons eie ongeloof” (Johannes Calvyn).
Gebed: Hemel Vader, U is al waaraan ek kan vashou. Ewige God, my skuilplek teen die storms, my Rots om in te skuil. Ja, my geloof in U is my anker! Ek loof U Naam omdat ek U eiendom mag wees. Amen.
Comments