top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 12 September 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (32)

Paulus en Silas in Berea (1)


Begenadigde reisigers op die Here se pad


Hand. 17:10-12 – “Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan. 11 Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. 12 Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.”


Die vyandige houding en opstand teenoor Jason in Tessalonika laat die ergste vrees vir Paulus en Silas se veiligheid ontstaan. Die gelowiges stuur daardie aand vir Paulus en Silas na Berea wat verder suidwes langs die kus van die Egeïese See lê. Deur die nag stap hulle die ongeveer 80 kilometer oor die berge. Na hulle aankoms in Berea, die moderne Vervia, het hulle, soos die gewoonte was, na die Joodse sinagoge gegaan. Berea is nie vir hulle ’n toevlugsoord waarheen hulle gevlug het nie, maar ’n nuwe geleentheid vir verkondiging van Jesus as God se Seun, wat Hy as Verlosser vir die wêreld gegee het (Joh. 3:16). Hulle begin dan ook om die evangelie, die goeie nuus oor Jesus, eerste aan die Jode te bring.

Paulus-hulle se verblyf in Tessalonika word kortgeknip en hulle moet oornag vlug want die dag is te gevaarlik. Wanneer ons vandag se teks lees, is ons geneig om net die vertrek en aankoms waar te neem. Ons besef dalk nie dat 80 km per voet op ‘n eensame, donker pad oor die berge, ‘n bietjie uit die dorp is nie. Ons wat die Comrades marathon al gedoen het, weet. Ongeveer 90km, en dis teerpad. Wat het hulle gedink terwyl hulle stap? Waaroor het Paulus en Silas gesels? Hulle is veronderstel om sendelinge te wees, maar eintlik is hulle vlugtelinge. Dit lyk asof die verkondiging van die evangelie eintlik ‘n vernietiging van ideale is. Dan is dit nog nag ook. Dis die tyd wat die vors van die nag op sy beste sy aanvalle loods. Ek is seker hy het Paulus en Silas daardie nag nie met rus gelaat nie. Hy rus nooit!


Paulus en Silas ken egter die donker. Filippi se tronk was donkerder, en daar het hulle lofliedere gesing en gebid. Hulle is daar uit, meer as oorwinnaars. Op die eensame pad is daar darem lig – sterrelig en dalk ‘n maan, wat God se teenwoordigheid verkondig: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend” (Ps. 19:2). Daar is nie tyd om aan die vors van die nag te dink nie. Hulle voete is nie in ‘n houtblok nie, maar word voortgedryf deur die bereidwilligheid om die evangelie op ‘n ander plek te bring. Hulle kan ook nie eensaam wees nie want met God saam met hulle, verander eensame- na gemeensame omgang.


Daar kom dae dat ons gelowiges van vandag, net soos Paulus en Silas miskien wanhopig en moedeloos kan word. Wanneer ons vir die Here werk en getuig, loop jy jou soms vas teen mense wat hulle eie ding doen en gou vir jou sal vertel dat jy nie hulle koppe sal “swaai” nie. Elkeen wat sy eie ding wil doen, wil gewoonlik sy staal wys en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees, nie die nederige ‘skynheilige kerkmense’ wat gewoonlik die ja-meneer-goed-meneer outjies is nie. Hulle wat met die Bybel onder die arm loop en sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans – klink dit bekend?


Is dít die soort getuigskrif wat Jesus aan ons, Sy dissipels wou gee? Wanneer ons in afhanklikheid ons hand in die hand van God plaas en Hom vertrou, raak ons rustig en nederig want nederigheid het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense. Wanneer ons lewe dus deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige natuur nie (Gal. 5:16), maar die vrug van die Gees ontvang wat nederigheid insluit (Gal. 5:22-25).


Goddank vir die koers wat die Here vir ons aandui. Al stem dit nie noodwendig met óns padkaart ooreen nie. Die Here ken Sy kinders, Hy weet ons kies sommer die hasepad wanneer dinge nie na wense verloop nie. Hy beskerm ons eintlik teen onsself. Indien dinge in ons lewe begin skeef loop, soos van tyd tot tyd met ons almal gebeur, is dit maklik om onsself aan wanhoop oor te gee en te dink dat die lewe ‘n ongelyke stryd geraak het en dat dit onmoontlik lyk om aan oorwinning te dink. Daar was ‘n dag toe alles totaal verlore gelyk het toe Jesus Christus gekruisig is, toe die Een wat as Verlosser beskou was, op ‘n brutale manier soos ‘n misdadiger gebreek is en gesterf het. Maar toe tree God in en omskep die skynbare nederlaag van Goeie Vrydag, in ‘n triomfantelike oorwinning van Opstandingsondag!


Ons ou mensies wat so swaar dra aan al ons sorge en bekommernisse van die lewe, het beskerming nodig. Wanneer ons op hierdie moeilike pad reis, is ons ook geneig om die dinge van gister, dit wat lankal reeds geskiedenis is, saam te dra. En dit rem ons nog meer af. Wat ook al ons omstandighede is, hoe duister die toekoms ook miskien lyk, kan ons met vrymoedigheid en vol vertroue Jesus se voorbeeld volg. Hy het meer omgegee vir verlore siele as oor Homself.


In stilte en onskuldig het Hy vervolging, bespotting, veragting en leuens teenoor Hom verdra, daarom kon Hy sê: “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matt. 11:29). Ons moenie moed verloor nie, onthou dat God altyd met ons is en dat Hy volkome in beheer is van ons lewe. Ek en jy wat glo in Jesus Christus, is begenadigde reisigers. Hou koers!


“Dit kos ontsettend baie moed om sake in God se hande te laat; om ons volkome in Sy hand oor te gee – ons lewe, ons hoop, ons planne; om te volg waar Hy ons lei; om Sy wil ons s’n te maak. Daarteenoor kos dit slegs dwaasheid om die pad alleen te wil loop” (Betsey Kline).


Gebed: Dankie Here dat ek só bevoorreg kan wees dat U my in swaar tye, met bagasie en al op my lewenspad dra. Dankie dat ek die padkaart van my lewensreis aan U kan toevertrou. Dankie vir U sterk arms, U geduld. U weet die beste. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page