Gedagte vir Vandag
Vrydag, 8 September 2023
Koos Espach
Paulus in Tessalonika (4)
Die oproer in Tessalonika (4)
Keep calm; Do good
Hand. 17:6-7a – “Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ‘n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: ‘Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, 7 en Jason het vir hulle huisvesting gegee.” (2)
Vergun my om nog so ‘n wyle te vertoef by hierdie gedeelte van die onbekende Jason wat dit moes ontgeld namens Paulus en Silas. Hy het eintlik goed probeer doen deur vir hulle huisvesting te gee en later as gevolg van ‘n afgunstige klomp Jode, onskuldig moes betaal vir dit wat eintlik op Paulus-hulle se rekening was. Ek wonder hoekom hy moes ly terwyl hy eintlik niks met die hele konflik te doen gehad het nie. Dit laat my dink aan wat Jakobus gesê het. Hierdie groot leiersfiguur in die vroeë kerk en aardse broer van Jesus skryf in sy brief: “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde” (Jak. 4:17). Jason het die regte ding gedoen. Dis beter om te ly as om te sondig.
Ons weet al te goed wat die verkeerde dinge in ons lewe is. Ons weet ons moet dit nie lug gee nie. Ons weet ons moet dit met wortel en tak uitroei, want dit maak vir seker nie die wêreld ’n beter plek nie. Ons weet dit is sonde en glad nie goed in God se oë nie. Wanneer ek en jy ons hart vir God gee, wanneer ons ons sondes bely en persoonlik vir Jesus as ons Verlosser aanneem, word die oogklappe van ons oë afgehaal. Gou begin ons die verkeerde dinge in ons lewe sien en leer ons wat God wil hê. Die Heilige Gees leer dan vir ons (ons gewete) wat sonde is. Baie keer is dit ’n lang lysie. Ons raak ongemaklik daarmee en begin hard daaraan werk om ontslae te raak van die verkeerde dinge in ons lewe, want die verkeerde goeters wat ons doen, skree nou kliphard teen ons nuwe identiteit as kind van God.
Maar, weer die menslike “maar”, daar kom ongelukkig egter nog dinge by hierdie lysie van sonde. Die sonde-lys raak feitlik daagliks langer. En ons weet wat die regte ding is om te doen, maar ons doen dit nie – “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.” Jason het byvoorbeeld die gawe ontvang om gasvry te wees, daarom dat hy Paulus-hulle huisvesting gegee het. Net so het elkeen van ons gawes ontvang. Gawes is daardie dinge wat ek en jy maklik kan doen, daardie dinge wat ons energie gee. Daardie dinge wat ’n verskil in ander mense se lewens maak. Gawes se styl is om die wêreld om te dop en vir almal beter te maak, al was dit nou nie dieselfde vir ou Jason nie, en tog is hy beskuldig dat hy medepligtig was van die "mense wat die wêreld in beroering bring."
As ons ons gawes onder ’n maatemmer wegsteek, die gawes wat ons ontvang het nie gaan uithaal, afstof, laat ontwikkel en daar waar God ons geplaas het laat grondvat nie, is dit sonde in die oë van die Skepper van daardie gawes. Ek wonder baie keer hoeveel mense gaan verlore omdat ons Christene net nie doen waarvoor ons hier op die aarde geplaas is nie. Dalk moes ons êrens iets gesê het, maar ons monde was toe. Dalk moes ons net êrens ’n klip uit iemand se pad gerol het, maar ons wou nie buk, en buitendien het die klip te groot gelyk. En dan draai ons die kop eerder weg. Ja, ek doen dit ook!
Dit is sonde om ons gawes te begrawe. Wanneer ons saans in die bed lê of so deur die nag wakker skrik, pop daardie voorval mos sommerso vanself op – ek moes eintlik daardie persoon gehelp het. Ek moes iets gedoen het en nou is dit te laat. Dis die gewete wat ons wakker maak. Die Heilige Gees weet wat reg en verkeerd in die lewe is. Dis Hy wat dit onder my en jou besige aandag bring dat ons geweet het wat reg is om te doen en dat ons dit nie gedoen het nie, want ons was te besig met ander dinge.
Wanneer ons bietjie dieper delf, sien ons dat die opdrag verder gaan as om net die regte dinge te doen. Goeddoen is veel meer as reg doen. Daar is soveel plekkies in ons elkeen se lewe om goed te doen. Ons moet die plekkies gaan soek, hulle sal nie ver van ons pad af wees nie. Ons sal tien teen een nie eens dieselfde drama wat Jason moes ontgeld, deurstaan nie. God wil in alle mense om ons ’n verskil maak. Hy wil goed wees vir hulle. Hiervoor gebruik Hy gewone mense soos ek en jy.
‘n Geesvervulde mens weet hoe om op die regte tyd die regte ding te doen. In ‘n wêreld vol giftige en dwase insidente, kan ek en jy wat onsself kinders van God noem, oftewel, Jesus-volgelinge, nie bekostig om ongehoorsaam aan Sy wil te wees nie. Die enigste oplossing om binne God se wil te kom, is om drasties tot inkeer te kom. Ons moet ons aan Hom onderwerp en van die sonde en die duiwel af wegvlug. Vol berou oor ons sondes moet ons voor Hom kom staan, en Hy sal ons in genade aansien. Kom ons doen eerder goed en maak: Keep calm; Do good ons lewensmotto! Daar is altyd plek by God vir mense wat laag voor Hom neerbuig.
“Liefdadigheid is nooit mooier nie as wanneer die gewer nie eens besef hy of sy het iets spesiaals gedoen nie: ‘Jy sê ek het jou gehelp? Vir my was dit net ‘n dansie van vreugde oor God se goeie aarde. Maar as dit vir jou iets beteken het ... kom ons dans saam!” (Anthony de Mello).
Gebed: Vader, ek ken die dinge wat nie reg is in my lewe nie. Ek weet ook van die plekke waar ek ’n verskil moet gaan maak en waar ek draaie om loop. Gee my krag om reguit daarna te loop en ’n verskil in ander se lewens te maak. In Jesus se Naam. Amen.
Comments