Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 5 September 2023
Koos Espach
Paulus in Tessalonika (1)
Die oproer in Tessalonika (1)
Die kruisboodskap wat red
Hand. 17:1-3 – “Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar ‘n Joodse sinagoge was. 2 Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3 Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,’ het hy gesê, ‘Hý is die Christus.”
Paulus gaan in Masedonië op dieselfde wyse te werk as in Klein-Asië. Sodra hy gedwing is om ’n stad te verlaat, gaan hy, sonder om moed te verloor, so spoedig moontlik op ’n ander plek sy werk voortsit. Hy, Silas en Timoteus reis via die grootpad van Rome, die Via Egnatia, deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika, ongeveer 150km van Filippi af. Tessalonika, vandag die bekende Saloniki, is vernoem na Aleksander die Grote se suster. Dit was in daardie tyd een van die vernaamste hawe- en handelstede van Masedonië. Die inwoners het bestaan uit Jode, Romeine en Grieke, waarvan laasgenoemde in die meerderheid was. Die Jode het streng vasgehou aan hulle voorvaderlike geloof en baie heidene vir hulle geloof gewen. Die sedelikheid was in hierdie stad, soos in alle stede van hierdie aard, nie op ’n hoë vlak nie. Inteendeel, uiters beroerd!
Ongeveer vyf dae tevore is hulle weg uit Filippi met gekneusde liggame en heel moontlik geswelde voete as gevolg van die pynlike behandeling daar. Die spreekwoord sê egter: die vlees is swak, maar die gees gewillig. Hulle Geesvervulde gees het die gekneusde liggame gedwing – “... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ... tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8). Hulle moet voort, die evangelie moet bekend gemaak word. Vir drie weke, op die sabbatdag, het Paulus die Skrif in die sinagoge in Tessalonika uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan.
Vir die Jode, wat die vervulling in Christus nie sien of wil erken nie, is die Ou Testament ’n geslote boek, daar lê ’n sluier op hulle harte, wat hulle verhinder om die Skrif reg te verstaan (2 Kor. 3:14). Van ’n lydende en sterwende Messias wou hulle niks weet nie. Paulus het egter voortgegaan en beklemtoon die “moet” van God se heilsplan in verband met Jesus se sterwe en opstanding – “... ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin” (1 Kor. 1:23). Dit het in God se besluit gelê dat die Messias moes ly, sterwe en opstaan uit die dood.
Die verhaal van die kruis het net nie sin gemaak nie. Ons kan net dink hoe vreemd die prediking van Paulus op die oor van die gemiddelde mens moes val. Vir baie Jode en Grieke was dit ondenkbaar. Wel, vandag nog steeds, vir miljoene mense! Ek meen, die destydse Griekse wysgere was geleerde mense wat presies kon verduidelik wie en wat gode was. Die Joodse skrifgeleerdes in die ander kant, het die wet en hulle eie wette uit hulle koppe geken oor hoe ‘n mens God tevrede moes stel. Die boodskap dat God die kruis uitgekies het om die wêreld met Hom te versoen, was vir hulle ‘n aanstoot en ‘n struikelblok.
En nou kom ‘n tentmaker van beroep in die stad Tessalonika aan en verkondig hierdie vreemde boodskap. Dit kan mos nie waar wees dat iemand wat niks verkeerd gedoen het, die mees vernederende en wrede dood denkbaar, vir ánder mense se sonde aan ‘n vloekhout, moes sterf nie. Vir die Grieke wat alles van gode af geweet het, was dit ondenkbaar dat God mens kom word op aarde en moes kom ly het. Volgens hulle was die gode te heilig om met swakke mense te bemoei. Dis dwaasheid. Wie sou so iets onbegrypliks doen? En baie Jode wag nog vir die Messias om te kom.
Sou ons nie dalk ook so gereageer het nie? Vir drie sabbatsdae het Paulus dieselfde boodskap gelewer. Ek wonder of so ‘n eenduidige tema “dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan,” ons vandag sou tevrede stel. Ek dink, en dis my persoonlike opinie, dat ons hoorders gou uitgekuier gaan raak om Sondag na Sondag te luister na een snaar wat oor en oor getokkel word. Gelukkig raak ons predikers wyd uiteenlopende temas aan en wil ek amper sê, hulle ken ons harte en ‘klim’ spreekwoordelik in ons lewe in sodat die prediking in ons lewe kan grondvat.
Maar, dan moet ons byvoeg, die basiese boodskap wat Paulus destyds aan sy hoorders wou tuisbring, is vandag steeds die kern van ons geloof. Die kruisboodskap is steeds die enigste boodskap waardeur ons gered kan word. “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18). Dankie tog, God se plan was uiteindelik die meesterplan wat my en jou redding bewerkstellig het, wat verseker dat ons nie heen en weer geslinger word tot ons einde toe nie, maar die ware lewe verkry. “God het in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo” (1 Kor. 1:21b). Dit is die enigste boodskap tot ons redding. Ons kan dit glo en met ons hele hart daaraan vashou!
“Die Seun van God het mens geword sodat mense kinders van God kon word” (CS Lewis).
Gebed: Dankie Here vir my gemeente en die kerkgebou waarin ek die erediens kan bywoon. Maak my getrou daarin dat ek ook kan saamsê: “Die liefde vir u huis verteer my!” Seën ook ons predikers in ons gemeente en elke prediker in die wêreld, dat hulle sal aanhou om met wysheid te verkondig van Jesus, ‘Hý is die Christus, die Gekruisigde.’ By Hom, is ons eintlike adres. Amen.
Comments