Gedagte vir Vandag
Donderdag, 31 Augustus 2023
Koos Espach
In die tronk in Filippi (12)
Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (6)
Oeps!
Hand. 16:38-39 – “Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39 Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.”
Lukas bring ‘n stukkie Goddelike humor hier in sy vertelling in. Ja, God het humor – Hy het dan die mens gemaak! Die volgende môre was die stad Filippi seker in rep en roer na die vorige nag se aardbewing. Al die mense was nuuskierig op straat om die skade te besigtig. Hulle het egter nie verwag dat die oggend sóveel drama sou inhou nie.
In Paulus se dae het Romeinse burgers veel meer regte gehad as al die ander landsburgers en inwoners van die Romeinse Ryk. Paulus staan op sy en Silas se regte en was nie bereid om die oggend vroeg stilweg, sonder verhoor, vrygelaat te word nie. Die rolle is nou omgekeerd! Die stadsbestuur word nou die beskuldigdes en die aanklaers is die twee gegeseldes. Die gegeseldes, Paulus en Silas, stuur ‘n boodskap aan die stadsbestuur, deur die polisie (soldate) wat hulle heel moontlik die vorige dag gegesel het: Hulle moet sélf kom en die Romeinse burgers, Paulus en Silas, uit die tronk en uit die stad lei.
Toe die polisie die boodskap aan die stadsbestuur oordra, het hulle besef hulle is in groot moeilikheid. Hulle is sélf nou strafbaar omdat hulle Romeinse burgers gestraf het. Hulle het nie daaraan getwyfel dat Paulus en Silas Romeinse burgers was nie, want iemand wat hom ten onregte daarop beroep het, is tot die dood veroordeel. Hulle vrees vir straf was dus verklaarbaar. As die goewerneur van Masedonië van hulle optrede sou hoor, sou hulle ongetwyfeld van hulle ampte onthef en selfs tereggestel word. Asvaal geskrik neem die stadsbestuur nou heeltemal ’n ander houding in. Hulle kom na Paulus en Silas toe, met hulle pers Lidia-vervaardigde togas, hoed in die hand en behandel hulle baie vriendelik en lei hulle uit die tronk uit. Geen bevele hierdie keer nie, maar soebat amper om asseblief Filippi te verlaat.
Dit gebeur ten aanskoue van Filippi se inwoners, die vorige dag se gepeupel, die geldgierige eienaars van die bekeerde slavin, die bekeerde tronkbewaarder en sy mense asook Lidia en al die gelowiges. Die hoogwaardigheidsbekleërs van die stad lei op hierdie gedenkwaardige môre die minderwaardige gevangenis, Paulus en Silas, uit die tronk en versoek hulle nederig om die stad te verlaat, en sodoende die stadsbestuur verder vernedering te spaar. Goddelike humor – niemand mors met God se gesante nie!
Terwyl ons so glimlag oor hierdie stukkie humor en die glipsie van die stadsbestuur, is daar seker ‘n les te leer uit die petalje. Die stadsbestuur se oordeel dat Paulus en Silas hulle skuldig gemaak het aan ‘n misdryf, sonder om eers die saak te ondersoek en dadelik opgetree het, werk eintlik vandag nog so. Daar is só baie mense wat maklik ander oordeel en veroordeel sonder dat hulle die ware feite ken of behoorlik ondersoek ingestel het. En hier sluit ek myself in. Jesus het sommer vroeg in sy aardse bediening tydens die Bergpreek ons versoek: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word” (Matt. 7:1-2)
Waarom sou Jesus ‘n beroep op ons doen om nie ‘n ander te oordeel nie? Eerstens ken ons nie al die feite van ‘n ander se lewensomstandighede nie en is dit nodig om onsself in ‘n ander se skoene te plaas om dalk te besef wat daardie persoon se behoeftes en versoekings is. Wanneer ál die feite bekend is van ‘n ander, is dit moontlik om selfs goeie dinge in ‘n slegte mens waar te neem. Ons moet versigtig wees met onpartydige oordeel. Instink en redelose optrede kan iemand klaar beoordeel. Ons eie lewe kan met so dik laag stof bedek wees dat die bietjie vuilgoed wat ons van ‘n ander wil afstof, nie raakgesien word nie. Die gevolglike probleem daarvan is dat mens geneig is om jou eie sondetjies met verkleinwoordjies te spel en na ander, met ‘n vergrootglas kyk.
Jesus waarsku teen sulke foutvinderige ingesteldheid. Ons het genoeg om te doen om ons eie lewensfoute te kritiseer as om vitterige regstellings by ander te soek, ander uitmekaar te trek en lekker te kry oor hulle foute. As ons waarlik liefhet, wil ons nie oordeel nie en ook nie veroordeel nie. Ons mag egter ons naaste met liefde reghelp. Ons gelowiges praat met mekaar, nooit oor mekaar nie. Kom ek en jy maak aan ons kant skoon en met opregtheid en liefde in die hart, help ons die een met die splinter – ons hanteer ander soos ons in daardie situasie gehanteer sou wil word. Is jy ingesluit by ons?
“As ons gedurig besig is om mense openlik of in ons gedagtes te veroordeel, het ons nie tyd of enige voorneme om hulle lief te hê nie. En ons weet watter een van die twee gesindhede Jesus veroordeel het” (Albert Woods).
Gebed: Ag Here, hoe kan ek verwag dat U my sonde nie moet beoordeel nie terwyl ek reeds my mede-sondaar gestenig het? Vergewe asseblief my kritiese en beoordelende gees. Help my om met meer takt en selfregverdiging met ander om te gaan. Maak my oë oop vir liefde en aanvaarding. Amen.
Commenti