Gedagte vir Vandag
Woensdag, 30 Augustus 2023
Koos Espach
In die tronk in Filippi (11)
Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (5)
Raak opgewonde oor jou geloof
Hand. 16:35-37 – “Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: ‘Laat daardie mense los.’ 36 Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: ‘Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!’ 37 Maar Paulus sê vir die polisie: ‘Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”
Paulus en Silas is vry! Hulle is nie meer in die tronk nie. Inteendeel, hulle het soos eregaste die huis van die tronkbewaarder betree, hulle wonde is verpleeg en het pas heerlik saam met hom en sy hele huisgesin geëet. Verwarring, skrik en angs wat deur die aardbewing veroorsaak is, het gewyk en daar is nou vrede en almal is verheug. Dan doen hulle die ondenkbare. Paulus en Silas keer terug na die tronk toe. Hulle wou nie dat die bekeerde tronkwag sy werk verloor of selfs tereggestel word nie.
Wat die stadsbestuur laat besluit het om Paulus en Silas los te laat, word nie gesê nie. Verklaarders skryf dit toe dat die sigbare hand van die Almagtige God deur die aardbewing, hulle verontrus het. Ander meen die geseling en die nag in die gevangenis was genoegsame straf. Daar was tog ander gevangenis ook, maar die boodskap was duidelik: “Laat daardie mense los.” Hulle het presies geweet wie moet losgelaat word! Dit kon moontlik ‘n aanduiding wees dat die stadsbestuur se gewete hulle gepla het. Hulle het Paulus en Silas sonder ‘n behoorlike verhoor laat gesel en opsluit. Nietemin, die volgende oggend vroeg het die stadsbestuur, die polisie gestuur met die boodskap aan die bewaarder om hulle stilweg, sonder verhoor, vry te laat.
Maar Paulus het ‘n troefkaart gebêre vir hierdie oomblik. Hy gaan nie die situasie net so gelate aanvaar nie. Hulle is as Romeinse burgers soos misdadigers in die openbaar gegesel en in die tronk gegooi. (Paulus en Silas was albei Romeinse burgers ook, waarskynlik omdat hulle in die diaspora, na die Joodse verstrooiing, in Romeinse provinsies gebore is van ouers wat Romeinse burgerreg ontvang het. Waarom hulle nie in die begin van hul inhegtenisname op dié burgerskap beroep het nie, kan nie gesê word nie). Die stadsbestuur het hulle egter skuldig gemaak aan ’n oortreding van die Romeinse wet. Die Lex Porcia het alle Romeinse burgers gevrywaar teen onterende strawwe soos geseling, slaan met stokke en kruisiging.
Paulus vra dan ook nou om in die openbaar tot hulle reg herstel te word. Die stadsbestuur moes “self kom en hulle (eervol) uitlei” – uit die gevangenis en uit die stad vir almal om te sien. So kan hulle die skandvlek van Paulus en Silas se naam verwyder, wat ook die gemeente en die Here Jesus raak. Dit gaan nie in die eerste plek omdat hy aan hulle eie persoon en eer gedink het nie, maar omdat die evangelie daardeur gedien sou word (vgl. ook Fil. 1:12).
Ek wonder wat sou ons gedoen het as ons in Paulus en Silas se skoene was? Ek sou maar te dankbaar wees om vrygelaat te word en later regsmening ingewin het. Paulus het nie hierdie opsie oorweeg nie. Geen tronkmuur was hoog genoeg om hom stil en mismoedig te kry nie. God se genade was vir hom te groot. Die Heilige Gees is ook nie deur al die slotte en staal tronkdeure, buite gehou nie. Hy was deurentyd by Paulus en Silas en het op die koop toe, nog Paulus se veggees vir die evangelie, sy geloof en sy gedagtes skerp gehou. Soveel so dat hy selfs die Romeinse tronkbewaarder met die evangelie kon konfronteer, sy kop kon swaai en hom en sy gesin bekeer en doop!
Geen situasie in Filippi was vir hom te donker wat nie deur die evangelie verlig kon word nie. Ek dink ons kan met reg sê dat Paulus se hele lewe Godgerig was, selfs in ‘n donker koue tronk. Hy het dan ook op ‘n keer in sy brief aan die Filippense sy belydenis gedeel: “Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:20-21).
Dit is nog baie vroeg in die oggend terwyl ek hier skryf. Die nag is nog donkerder as gewoonlik. Dit is alweer “loadshedding” wat verskriklik ongerieflik is. Daar is nie genoeg lig om behoorlik te kan sien wat ek tik nie. In skaamte laat sak ek my kop en glimlag vir myself. Ek kla in my gedagtes oor ‘n rukkie se ongerief in my heerlike warm ‘oorlogkamer’, terwyl Paulus en Silas met oopgekloofde rûe in ‘n koue tronksel nie gekla het nie, maar die Here kon loof en prys. En ek wonder, kan ek Paulus se woorde agter hom aan sê? Kan ek eerlik soos Paulus sê: “Vir my is die lewe Christus, en die sterwe ‘n wins?” Is my lewe ook voluit op die Here gefokus, of kry Hy net die afskeeptyd wanneer ek ‘n kans kry om tyd aan Hom te wy? Wat sou jy antwoord? Ek is eerlik, dis tyd dat ek my prioriteite in orde kry en meer opgewonde raak oor my geloof en minder kla! En jy?
“’n Christen is absoluut vry: meester van almal; onderdanig aan niemand nie. ‘n Christen is ook absoluut gebonde: dienskneg van God en diensbaar aan almal” (Martin Luther).
Gebed: Here Jesus, ek erken hoe nodig ek U het en aanvaar U as my Here. Wees Here oor my verstand, my gedagtes, my gesindhede, my oortuigings en my verbeelding. Amen.
Comentarios