top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 29 Augustus 2023

Koos Espach


In die tronk in Filippi (10)

Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (4)


Emosies maak saak


Hand. 16:32-34 – “Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33 Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34 Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ‘n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.”


Lukas beskryf verder die verhaal van ‘n tronkbewaarder wat bewe van angs en ‘n hele huisgesin se harte vol blydskap! God is nooit afwesig nie. God het die haglike omstandighede van Paulus, Silas, die tronkbewaarder en al sy mense verander. Die donkerste donker is nooit te donker vir die lig van die evangelie nie. Die bewaarder hoor hy moet slegs net glo in die Here Jesus om gered te word. Hy gryp hierdie kans van sy lewe met beide hande aan en neem Paulus en Silas na sy huis sodat al sy huismense kan deel in die verlossingsboodskap.


In die middernagtelike uur, toe hulle begin glo in die Here Jesus, open die Here die bewaarder se oë om die wonde van Paulus en Silas raak te sien en te versorg, wonde wat hy en die soldate vir hulle toegedien het. Sy eerste liefdesdaad vind plaas en die bewaarder reinig daardie nag die apostels se wonde, en hy en sy huisgesin se sonde word gereinig deur die Here Jesus.


Na Paulus en Silas aan hulle die woord van die Here verkondig het – die woord van die Here het tot inhoud dat Jesus die Christus is en dat Hy alleen die verlossing bring – word almal wat deel is van die bewaarder, gedoop. Hy berei verder dieselfde nag vir hulle ’n ete voor. Moontlik kan dit gesien word as ’n liefdesmaal wat die hele huisgesin ná hulle doop saam, soos nagmaal, as herdenking aan Jesus se sterwe en opstanding, jubelend van vreugde gevier het. Hulle verwarring, onrus, angs en bewing het verander na vrede en blydskap. Die hele huisgesin het hulle uitermate verbly omdat hulle tot geloof in God gekom het met ’n geloof wat bly, “’n Geloof wat ‘n gawe van God is” (Ef. 2:8).


Lukas vertel vir ons die “tronkbewaarder en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.” Is ek en jy en ons huisgesinne nog vol blydskap omdat ons die gawe ontvang het om in God te kan glo? Raak ons nog opgewonde oor ons geloof of neem ons geloof maar as vanselfsprekend aan? In sy brief aan die Filippense beklemtoon Paulus telkens vir hulle om bly te wees: “Julle geloof is ‘n offer in diens van God ... is ek daaroor bly, ja, ek is saam met julle almal bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees” (Fil. 2:17-18); 3:1 – “... wees bly in die Here!”; 4:4 – “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Paulus soek dit vandag by ons ook, veral by ons mans. En dis nou nie blydskap wat afhanklik van ons uiterlike omstandighede is nie. Dit is die blydskap wat ‘n vrug van die werk van die Heilige Gees in ons lewe is (vgl. Gal. 5).


Ai, en ons mans sukkel maar met emosies. Dis mos vroumens dinge. Dit is hulle departement om te huil, bly te wees en selfs oor mens se diepste gevoelens te praat. Los die manlike emosies soos kwaad word, opgewonde raak oor politiek of sport en selfs aggressief wees daaroor, aan die manne. Moenie van ons mans verwag om sag te wees nie. Veral nie tussen ander mans nie, netnou dink hulle ons is sissies! Nou ja, ek glo nie God het ons mans so gemaak nie. Ons het self so geword. Ons mag maar bly wees, of huil, of sag en liefdevol optree. Dis wat Paulus verwag wanneer hy die brief rig aan die ‘broers’ van Filippi, en aan ons. Hierdie blydskap waarna hy verwys is meer as net ‘n vlietende emosie – dis ‘n ingesteldheid van my en jou wat geanker is in die Here!


Blydskap in die Here is ook nie om die heeldag en elke dag met ‘n glimlag op jou gesig rond te loop nie. Dit is eerder daardie warmte wat jy uitstraal en ander mense rondom jou aantrek en verander om ook so te voel, bly te wees in die Here. Wanneer ons lewe in die Here geanker is, vloei daar hemelse krag deur ons. Dit is asof ons meer kalmte ervaar. Dit veroorsaak dat ons meer geduldig is. Die Gees se teenwoordigheid maak selfs dat ons sagmoedig raak. Let wel, sagmoedig beteken nie om ‘n softie te wees nie, nee, dit verander mens se emosies om selfs ‘n traan saam met iemand te stort, of soos in die tronkbewaarder en sy huisgesin se geval, saam bly te wees.


William Barclay vertel dat satan, nadat hy uit die hemel uitgewerp is deur sy opstandigheid teen God (Op. 12:9), deur die heelal gesweef het en een van die ‘goeie’ engele ontmoet. Nadat hulle ‘n tydjie gesels het, vra die engel vir satan wat mis hy vandat hy uit die hemel weg is? “Ek mis die blydskap en vreugde in die lofgesange, die bruisende vreugde in die oggend, dag en nag. Ek mis die vreugde van die hemel.”


Daar is soveel van ons gelowiges wat hulle vreugde verloor het of dit selfs nog nooit geken het nie – mense wat vreugdelose Christene geword het. Blydskap in die Here maak dat ons anders optree. Wanneer die lewe druk, druk ons hom terug. Ek weet nie presies waar jy nou is nie. Dalk is jy bo-op die brander of dalk onder die water en weet nie eers waar bo is nie. Onthou, ons kan ons steeds verbly in die Here. Hy is voor ons om die pad gelyk te maak; langs ons om in Sy arms toe te vou; agter ons om die aanvalle van die Bose af te weer; onder ons om ons te dra as ons mag val; rondom ons om ons te beskerm; bokant ons om ons te seën; binne ons om ons te lei met Sy Heilige Gees; Hy is vir ons, pleit vir ons, by ons, van nou af tot in ewigheid. Wees bly in die Here, wees bly!

“Die Here se blydskap in jou lewe maak dat jy soos ‘n kaggelvuur op ‘n koue winteraand ander mense wat buite in die koue staan, nader trek” (Stephan Joubert).


Gebed: Here. Laat U blydskap my hele uitkyk op die lewe verander. Wees Here van my emosies en die uitdrukking van my gevoelens. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page