top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 Augustus 2023

Koos Espach


In die tronk in Filippi (7)

Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (1)


Loflied om middernag in ‘n tronk


Hand. 16:23-26 – “Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24 Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. 25 Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenis het na hulle geluister. 26 Skielik kom daar ‘n groot aardbewing, wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.”


Die tronkbewaarder het die opdrag ontvang om hulle streng te bewaak. Hy kom die stadsbestuur se opdrag na en neem dubbele voorsorg. Hy plaas hulle in die binneste sel waaruit hulle nie maklik kon ontsnap nie. Hulle moes dan eers by al die ander selle en wagte verbykom. Hy plaas hulle in ’n Romeinse voetblok met hulle bene tussen twee swaar houtblokke op mekaar. Dis twee gate in ‘n houtblok wyd uitmekaar om die gevangene wydsbeen te laat sit sodat ontsnapping onmoontlik is, hom te pynig en uit die slaap te hou. Die binneste sel het ook geen venster gehad nie en dit was pikdonker daarbinne.


Skielik gebeur die onverwagte: terwyl Paulus en Silas hulle dank uitsing om die Here te prys, is daar ’n geweldige aardbewing wat so erg was dat die fondamente van die tronk heen en weer geskud was. Onmiddellik is al die deure van die tronk oopgeruk en die boeie van elke gevangene is (deur die Here) losgemaak (vgl. Lukas 4:18 se aanhaling uit Jesaja 61:2 dat Jesus met die Heilige Gees gesalf is om die goeie boodskap te verkondig en gestuur is om vir gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is). Hier het dit nou letterlik gebeur – die verhoogde Jesus het ingegryp! Nóg ‘n bewys van hoe God sy magtige teenwoordigheid toon, selfs teenoor die bouwerk en versterkte mure wat mense opgerig het.


In Paulus se tyd was tronke skrikwekkende plekke. In die binneste deel van die tronk nog erger. Dit het gepaardgegaan met een stuk lyding, pikdonkerte, marteling, swak en min kos en ondraaglike higiëniese toestande. Gevangenis is daar gelaat, soms vergeet van en die dood was eintlik ‘n uitkoms. Ek wonder wat sou ek gedoen het as ek in Paulus en Silas se sandale was daardie nag met ‘n pynigende liggaam van die lyfstraf en ongemak van die houtblok. Waarskynlik sou ek gewonder het of dit die moeite werd is om ‘n sendeling vir Christus te wees, my bedanking uitgeskryf en aan die Here oorhandig het – dankie, maar genoeg is genoeg! En jy, wat sou jy gedoen het?


Stel jou die prentjie voor, hier stap ek en jy met ons bedankingsbrief na die kerk toe om vir die skriba te oorhandig sodat sy dit na die Here toe kan stuur. Op pad daarheen maan die Heilige Gees ons dat Paulus en Silas nie bedank het nie. Hulle het lofliedere gesing. Hulle het God geprys in uiters skrikwekkende omstandighede. Twee mishandelde mense wat om middernag hulle stemme verhef tot God én sodat almal in die tronk hulle kan hoor. Hulle kon mekaar nie eers sien nie a.g.v. die donker. Hulle klere is van hulle afgeskeur en hulle kry koud. Maar hulle loof en prys Hom vir die slegte toestand waarin hulle verkeer. Ongewoon? Ongelooflik? Nee, God is aan die werk!


Nou ja, jammer pel, ongelukkig kan ons nie bedank nie. Dis nie só maklik nie. Kinders van God het ‘n opdrag ontvang: “Gaan dan uit en maak die mense My dissipels … (Matt. 28:19). Ons is lewenslank aan Christus verbonde! Paulus en Silas se vreugde midde-in hulle swaarkry het ongelooflike gevolge gehad. Hulle het God onder alle omstandighede vertrou en geloof. En dis die les wat ons daaruit kan leer. Ek en jy behoort sendingwerk te doen, nie omdat dit ‘n voorskrif vir lyding is nie, maar om Jesus Christus se opdrag te gehoorsaam.


Charles Spurgeon vertel van ‘n jong klerk wat eendag vir die hertog van Wellington gesê het: “U het baie van Indië gesien; dink u dit is regtig nodig om die evangelie na hulle toe te neem terwyl hulle soveel goeie godsdienste van hulle eie het?” Die hertog het geantwoord: “Meneer, ek verstaan nie jou soort teologie nie. Ek is gewoond daaraan om bevele te gehoorsaam. Jesus Christus het Sy dissipels beveel om die evangelie na alle mense te neem.” Laat mens dink né.


Dan moet ons ook onthou dat Jesus ons Christene gewaarsku het dat vervolging ons voorland is (Matt. 5:10). Ek en jy wat Sy Bergpreek seënspreke in Matteus 5:3-11 ter harte neem – die afhanklikes van God, die treurendes, sagmoediges, geregtigheidsoekers, barmhartiges, dié met ‘n rein hart, die vredemakers – ja, ons is nie net geseëndes nie, maar vervolgdes ook. Vervolging het natuurlik duisend name: beswaddering, beskinder, belaglik, skynheilig en nog baie ander. Ag, so what! Vervolging en lyding wat daarmee gepaardgaan is seker onafwendbaar. Uiteindelik dra ons soos ons broer Paulus op ‘n manier ook die littekens daarvan, dit maak nie saak nie. Dit maak ons koninkrykskinders!


“Die lewe is soos ‘n yslike rivier met die ongereddes wat vinnig stroomaf spoel in die rigting van ‘n waterval. Hoe kan ons as Christene dan op die wal staan en vir hulle totsiens wuif? (Paul Little).


Gebed: Here, ek is ook bang vir die gevolge van reg doen. Dankie dat U genade vir Paulus genoeg was. Daarom weet ek dit sal ook vir my so wees. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page