top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 22 Augustus 2023

Koos Espach


Die Verblyf in Filippi (8)

In die tronk in Filippi (5)


Kies om verheug te wees


Hand. 16:23-25 – “Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24 Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem. 25 Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenis het na hulle geluister.”

Met hulle bebloede liggame in ‘n ongemaklike posisie en hulle voete in ‘n houtblok vasgeklem, kla Paulus en Silas nie, maar sing middernag nog lofliedere tot eer van die Here. Hulle dank God dat hulle in Filippi se boendoehof en tronk kon ly. Ongelooflik! Hulle is vol innerlike vrede, nié omdat hulle in die moeilikheid is en gered moet word nie. Hulle is reeds gered – hulle is verlos van hulle sonde. Hulle leef daaruit. Hulle is kinders van God en is daarom nie bang nie. Nou ja, ’n loflied tot God in die tronk en sulke haglike omstandighede, was seker iets uitsonderliks en die ander gevangenes het verseker verstom na hulle geluister.


Waar wil ‘n mens hagliker omstandighede hê as dié waarin Paulus en Silas hulle bevind het in Filippi? Hulle is vroeër die dag stukkend geslaan deur Romeinse soldate wat hulle nie veel steur aan die beperking van net 39 houe soos wat die Joodse gewoonte was nie. Hulle is gevolglik ‘baie’ geslaan. Hulle sit in die donkerste en koudste sel van die tronk en weet nie of hulle ooit weer daar sou uitkom nie. Teen middernag begin hulle bid ... en sing, nie klaagliedere nie, maar lofliedere! Hulle verdryf die donkerte met vrolike sang en gebed. En ek glo hulle het gehoop en vertrou ook. Geen omstandighede is te moeilik dat die Here dit nie kan verander nie. Geen probleem is te groot dat God dit nie deur ‘n wonderbaarlike manier kan oplos nie.


Wat leer ons hier? Hulle is nie eers kans gegee om hulleself te verdedig nie, maar Paulus en Silas weier dat hulle afgryslike omstandighede ‘n demper op hulle blydskap plaas. Hulle het nie God verwyt dat Hy toegelaat het dat hierdie dinge met hulle gebeur nie. In plaas daarvan het hulle Hom vir Sy goedheid geloof deur gebed en sang!


Dit is vir sommige gelowiges moeilik om Christenskap en blydskap met mekaar te versoen. Jesus het immers self gesê ons sal ter wille van Hom beledig en vervolg en valslik beskuldig word (Matt. 5:11). Maar Hy het ook belowe: “Niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie” (Joh. 16:22). God het ons as waardevolle “kinders van Hom” (Joh. 1:12), die gawe en vermoë gegee om dinge te geniet, om die lewe te geniet en nie net te verduur nie. Deel van hierdie ervaring is om saam met Dawid en Paulus God te “loof voor die nasies, en tot eer van sy Naam lofpsalms te sing” (Rom. 15:9). Om God uit dankbaarheid te behaag, word aanbidding ‘n lewenswyse.


Hoe doen ons dit? Ons aanbidding begin by die kerkdiens: Skriflesing, gebed, sang, bieg, luister na die preek, aantekeninge maak, offergawes, doop, nagmaal en selfs ander aanbidders te groet, álles, om God te behaag. Maar aanbidding is nie net vir kerkdienste nie, nee, “soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig Sy teenwoordigheid” (Ps. 105:4).


Hoe ek en jy uitdrukking gee aan blydskap, is nie belangrik nie. Of ons ons vreugde uitroep in verwondering omdat ons God se kinders kan wees, en of ons die vreugde ervaar in ‘n stille blydskap wat ons hart verwarm – die hoofsaak is dat ons Hom loof en prys met ‘n dankbare hart. Evelyn Underhill het gesê die geheim van vreugde is om nie te stry vir jóú wil nie, maar om jou volkome aan God se wil oor te gee en só jou vrede vind.


Paulus en Silas se geloof en vreugde midde-in hulle swaarkry het ongelooflike gevolge gehad. Selfs die donkerste donker word lig as mens op God vertrou. Om op God te vertrou en ‘n vreugdevolle kind van Hom te wees, is ‘n magtige getuienis teenoor die wêreld. Wanneer die vrede in ons harte werk, sien die wêreld iets van Sy liefde en begeer hulle om dit ook te besit. Só bring ons eer aan die Here. Ons moenie toelaat dat moeilike omstandighede die blydskap daarvan om te weet dat ek en jy kinders van God is, ophef nie. Ons kan eerder kies om die Gees toe te laat om ons met onblusbare blydskap te vul. En dié wat ons dophou, sal ten goede verander.


“Dit help nie om blydskap te agtervolg nie, dit is iets wat vanself na jou toe kom as jy met jou lewe na God gegaan het” (Horace Bushnell).


Gebed: Dankie Here dat U selfs my heel moeilikste omstandighede kan verander. Saam met die profeet Habakuk wil ek bid: Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie …, sal ek nogtans jubel en juig in God, my Redder. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page