top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 9 Augustus 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (9)

Die gesig in Troas (2)


Die Heilige Gees sit vir ons ore aan


Hand. 16:8-10 – “Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. 9 Daar het Paulus in die nag in ‘n gesig ‘n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ 10 Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.”


Paulus kry nie sy sin om sy opvolgwerk klaar te maak by die gemeentes wat hy en Barnabas gestig het nie, inteendeel, hy word twee keer deur die Heilige Gees verhinder en word op ‘n nuwe roete en avonture geneem. Die Gees verplig Paulus, Silas en Timoteus om na die weste toe te draai. Hulle trek deur die landstreek Misië en kom by Troas aan. In Troas word dit vir hom duidelik waarom die Heilige Gees hulle daarheen gelei het. Hy sien die nag ‘n gesig wat sou bepaal wat die verdere verloop van die reis sou wees. ’n Masedoniese man het aan hom verskyn en gesmeek dat hy na Masedonië toe moes oorkom om hulle te help.


Die Masedoniese man het daar in Paulus se nagtelike visioen gestaan en hom baie ernstig en ordentlik gevra: “Kom oor (die see) na Masedonië, help ons” – die mense en die land Masedonië. Daarmee rig die Here Paulus se gesig na die weste en open Hy die sending na die westerse mense, as ’n deel van die ‘tot aan die einde van die aarde’ van Jesus se opdrag in Hand. 1:8. Die hulpgeroep getuig ook van die bankrotskap van die trotse Romeinse en Griekse kultuur, met al hulle afgode, wat nie hulle mense werklik kan help nie.

Paulus kon die hulpgeroep van die Masedoniese man nie anders interpreteer as dat dit ’n soeke was om die evangelie te hoor nie. Dit was die soeke na die enigste werklike hulp vir die lewe saam met die lewende God en deur Sy genade, verlossing uit die finale veroordeling en ewige verderf. Dit is treffend om daaraan te dink dat alleen die evangelie van Jesus Christus kon help! Dit is ook treffend om te dink, wanneer ons 20 eeue terugkyk, watter enorme historiese gevolge vandag se teks van Handelinge 16:8-10 vir ons gelowiges inhou. Dit was vir ons van groot belang want hier begin die evangelie verkondiging in Europa! En dit was nie toevallig nie, dit was die Gees van Jesus as die Heer van die sending, wat die roete bepaal het.


Dan natuurlik, dankie Here vir Paulus wat U daar op die pad na Damaskus van vervolger na navolger verander het, dat U daar Paulus se Verlosser en Heer geword het. Dankie Paulus dat jy daar en dan jou bedanking by die Fariseërs en hoëpriester ingedien het en ‘n lewenslange volgeling van Jesus geword het. Te danke aan jou weet ons vandag soveel meer van Jesus se genade en liefde. Dankie dat jy jou nie doof gehou het vir die Gees se stem nie, maar fyn daarna geluister het (1 Tess. 5:19). Dankie dat jy positief gereageer het op Sy stem wat jou Europa toe gestuur het en daar aan ons heidense voorouers ook die evangelie gebring het.


Dit laat ons met die vraag of ons ook fyn luister na die Heilige Gees? Ons weet mos die Gees wat in ons woon is nie ‘n rustende Gees nie, maar ‘n Gees wat hard werk om my en jou te laat stry teen die sonde en op die regte pad te hou. Ja, ons weet ook dat dit soms ‘n hobbelrige pad is en deesdae met al die slaggate, nog moeiliker. Maar ons weet ook die pad wat ons volg, is die pad waarop ‘n kruis staan, die kruis van die navolging van Christus. Die pad van die Gees is die pad van selfverloëning, die pad van dissipelskap. Op hierdie pad word nie gevra of dit vir my en jou eer en roem, voorspoed en welvaart bring nie. Op die pad van die Heilige Gees gaan dit om eer vir Christus. Op hierdie pad vra ons gedurig soos Dawid: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin ...” (Ps. 25:4-5).


Elke mens, hoe oud en volwasse ook al, het die behoefte om gelei te word. Ons soek elke dag aanwysings, iets om te help of om op te steun, by 'n vashaakplek. Ons is geneig om op ons gesonde verstand te vertrou of op ons organisasie vermoë en ons goeie insigte. Die Heilige Gees is egter veel groter as my en jou logika en rasionaliteit. Die stem van die Here is magtig, sê Dawid in Psalm 29:4. Ek en jy moet leer om daarna te luister. Spreekwoordelik sit die Gees vir ons “ore aan” soos vir Paulus. Hy leer ons fyn luister en voel. Terwyl ons ander planne maak, bepaal die Gees die rigting waarin ons gaan. Die Gees stap saam met ons as kinders van God, Hy lei en bestuur ons. Mag ek en jy die Gees se stem erken en in gehoorsaamheid daarop reageer, al is dit soms ongemaklik en ongerieflik. Die Gees se pad is nie altyd ‘n gemaklike pad nie, maar dit lei direk na God toe! God se wêreld gaan dan beslis anders lyk. luister fyn!


“Op die geloofspad moet ons nie slegs beginners wees nie, ons kan saam met die Heilige Gees, aanhouers wees” (Ralph Emerson).


Gebed: Heilige Gees, ek bely vandag dat ek nie altyd U stem hoor nie. En wanneer ek dit hoor, is ek nie altyd gereed om daarop te reageer nie. Wees my genadig en help my om al hoe meer afhanklik te word van U leiding hier binne my. “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin ...” Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page