top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 7 Augustus 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (7)

Timoteus sluit by Paulus aan (4)


Put your hand in the hand


Hand. 16:4-5 – “Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5 So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.” (3)


Ons het Vrydag gewonder hoe ons in hierdie wêreld met sy verskillende afdraaipaaie, sterk kan staan in die geloof. Só sterk dat die duiwel nie ‘n vatkans op ons kan kry en met sy slim praatjies, ons in sy kant van sonde inkatrol nie. As ons vir ’n wyle die pas makeer en bietjie in die spieël kyk, wat sien ons? Ons kyk vas in die sondige mens wat die heeltyd skeeftrek. Iemand in wie se aard dit is om weg te beur van God af. En ja, ons hou van die wêreld. Ons hou so baie van die wêreld, dat ons toelaat dat die wêreld ons aan ons neuse lei, soos wat ’n mens ’n bul aan ’n klein ringetjie in sy neus lei. Soos robotte doen en dink ons soos die wêreld ons programmeer.


Die duiwel maak dit vir ’n mens moeilik. Hy weet waar ons swak punte is en hy sal die heeltyd daarop hamer. Hy hou nie op nie en hy raak nooit moeg nie. Dis asof hy glo, net nog een houtjie met die hamer, dan sal hy deurbreek. Ja, ons weet dat die duiwel aan die kruis oorwin is. Ons weet dat hy daar as verloorder uit die stryd getree het en druipstert die aftog moes blaas, maar dit beteken nie dat hy nie weer en weer gaan probeer nie. Die probleem is, hy los niemand uit nie. Almal wat kinders van God is, loop deur. Sommige swig voor die versoekings en kan net nie stewig staan nie en elke keer eindig dit met ’n sak vol skuldgevoelens. Op ons eie kan ons dit nie teenstaan nie. Ons het hulp nodig. Ons wil saam met die Psalmdigter vra: “Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom? (Ps. 121:1).


En dan gee God vir ons die antwoord deur dieselfde Psalmdigter: “My (en jou, en almal wat Sy kind is), se hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het (v. 2). Dawid plaas die kersie op die koek deur ook vir ons te sê: “Al gaan ek (en jy) deur donker dieptes, sal (ons) nie bang wees nie, want U is by (ons). In U hande is ons veilig” (Ps. 23:4). Dis nie ’n lekker gevoel wanneer ons elke keer na die verkeerde kant toe foeter nie. Dit maak ’n mens skaam. As die lig op ons dade skyn, voel ons skaam. Dan wil ons eintlik in ’n hoekie gaan wegkruip en alles wat ons doen, wegsteek, vir niemand om te sien nie. Maar dankie tog, daar is ’n liefdevolle Vader. Dankie tog dat Hy ons nie alleen los in die hoekie van ons lewens nie. Dankie tog dat Hy ons beteuterde posisie raaksien en iets daaraan doen en ons kom uithelp.


God skenk vir ons hope en hope genade. Genade wat hierdie foute en skeeftrek van ons uit die oog kom haal. Ons weet ons hoef nie pa te staan vir die straf van ons sondes nie. Ons hoef nie iets te gaan offer, sodat die bloed van die dier in die plek van ons bloed moet loop nie. Ons hoef dit nie weer en weer en weer te doen nie. Jesus se bloed het eenmalig gevloei en dit was genoeg, oorgenoeg om die straf van die hele mensdom eens en vir altyd weg te neem. Dankie tog daarvoor! Dit is lewensreddende musiek in ons sondige mens se ore. Dis soveel meer as wat ons verdien, maar dit is God se manier van doen.


Elke huis het sy kruis. Elke mens ’n swak plekkie en ons moet besef op ons eie gaan ons dit nie regkry nie. Ons moet versterkings inkry. Ons moet ons hand uitsteek en hulp vra. Jakobus gee vir ons ’n resep wat getoets is en vir elke kind van God sal werk: “Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ’n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook stywer en stywer vashou” (Jak. 4:7-8: Die Boodskap).


In 1971 het Gene Maclennan die liedjie geskryf, “Put your hand in the Hand.” Dit is deur verskeie sangers gesing en het in baie lande die No 1 top treffer posisie behaal. Die lirieke van Gene se lied spreek vanself en kan maklik toegepas word: Plaas jou hand in die hand van die Groot Man. Sit jou hand in die hand van die Man wat met die see praat en dan raak dit rustig. Sit jou hand in die hand van die Man wat van Galilea kom en al die wonderwerke gedoen het. As jy jou hand in God se hand sit, sien jy jouself anders. Jy sien jy het waarde. Jy sien dat jy ’n doel het. Ewe skielik weet jy wat jou identiteit is. Jy sien die regte pad raak. Jy sien ook jou sonde raak. (Vry vertaal).


Dis wat ons moet doen. Ons moet die Here volle eienaar van ons lewe maak en jaag die ander wat dink hulle het beheer oor my en jou lewe, weg. Maak huis skoon. Onthou, wanneer ek en jy ons hand in God se hand sit, kry ons ’n nuwe bril. Dan sien ons die verkeerde dinge raak en die opdrag is om op te hou daarmee. Ruk dit met wortel en tak uit. Sit wagte neer om te keer dat ons dit weer doen. Ons hoef nie slawe van die sonde te bly nie. Jesus het die skakel wat ons aan die sonde bind, kom breek. Ons hoef nie meer sondeslawe te wees nie. Ons kan met vrymoedigheid en uit dankbaarheid, ons ontslagsertifikaat by Jesus Christus, ons Here, gaan ontvang.


“Sonde is die duurste ding in die heelal. As dit onvergeef bly, kos dit jou die ewigheid. Word dit vergewe, het dit Christus sy lewe gekos om dit te bewerkstellig” (Charles Finney).

Gebed: Vader, U ken my swak plekke. U weet waar ek gedurig gly. Sjoe, so dankie vir al die genade. Soveel meer as wat ek verdien. Ek kom sit weer my hand in U hand en gaan met alles in my die versoekings teenstaan. Gee my asseblief krag. Help my om aan my eie lewe te timmer en ontslae te raak van die dinge wat pla, vir U en vir my. In Jesus se Naam. Amen.

Σχόλια


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page