Gedagte vir Vandag
Vrydag, 4 Augustus 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (6)
Timoteus sluit by Paulus aan (3)
Wie se geloof is dit?
Hand. 16:4-5 – “Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5 So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.” (2)
Ons gee vandag nog ‘n kykie na die versterking in ons geloof. Hoe bly ons standvastig in ons geloof in Jesus Christus? Hoe bly ons sterk staan daarin? Ek meen, op ‘n stadium in ons lewe kan ons nie meer deurglip op ons ouers se geloof nie. Ons moet geloof ons eie maak. Ons kom op ‘n stadium in ons lewe dat ons sélf moet besluit wat ons glo Jesus Christus in ons lewe kan doen. Daar moet ‘n punt in my en jou lewe kom waar ons nie meer kan hum en ha wanneer ons gevra word: “Wie se geloof is dit nie?” ons moet kan verklaar: “Dit is wat ék glo.”
Daar is mense wie sê dat dit maklik is om tussen die lyne te leef en nooit oor die grense te foeter nie. Aan die een kant bewonder ek hulle, maar aan die ander kant wonder ek of hulle eerlik met hulself is. Vir my is dit nie maklik om elke oomblik van die dag in die middel van die pad te stap nie. Dis vir my byvoorbeeld moeilik om net bloot gelate te sit as iemand voor my indruk of die noodbaan gebruik om vinniger voor te kom. Dis soos ’n knoppie wat net gedruk word en voor ek my kom kry, het ek alreeds ’n paar dinge gesê of gedink. Gewoonlik gaan dit dan gepaard met ‘n stem wat vanaf die passasierskant antwoord dat ek ‘n gelowige Christen is en my so moet gedra. Herken jy daardie stem?
So het ons almal, of die meeste van ons, ’n flaw. Sommige van ons het meer as net een. Dalk is dit jou tong wat sommer net dinge sê en daarmee verwoesting saai; of jou vingers wat dinge vat wat nie eintlik joune is nie; miskien is dit jou brein wat verkeerde goeters dink; dalk is dit jou gedagtes wat jou mislei en van die waarheid weglei; miskien is dit jou voete wat jou op verkeerde paaie neem. Dalk is dit ...? Kom ons wees eerlik met mekaar en sê dat ons almal sukkel om op alle terreine binne die grense te bly. Eintlik wil ek sê dit is menslik om te sukkel. Omdat ons mense is, is daar ’n groot kans dat ons een of ander tyd, of meer gereeld, die grense gaan toets. En ja, soms gaan ons daaroor glip.
Nou dat ons weet dat die grootste gros van ons met ietsie sukkel, moet ons ook vir mekaar sê dat dit nie ’n rede is om op daardie verkeerde pad aan te hou speel nie. Dit is ongelukkig die pad wat ons geloof verder laat kwyn. Om dit te erken is die eerste stap, maar die tweede stap is om daaruit te kom. Ons moet bewustelik planne maak om weer terug op die regte pad te kom. Ons moet harder probeer om dan daarop te bly. Dit is eenvoudig nie maklik om vandag op alle terreine op die regte pad te bly nie. Daar is soveel versoekings. Daar is soveel afdraaipaaie wat ons kan vat. Die ergste van alles is dat ons nie eens altyd weet dat ons ’n verkeerde pad vat nie. Dit lyk alles so mooi en so reg en so lekker.
En wanneer mense so in die algemeen praat oor dinge wat nie reg is nie, pop die verkeerde ding of dinge mos altyd in ’n mens se kop op. Ons weet mos wat is reg en verkeerd. Dis deel van ons DNA. Dan is dit nodig om weer te besin wat Jesus, die gekruisigde vir ons beteken. Wat glo ons oor die werk van die Heilige Gees? Is ons geloof gebou op die krag van God en nie op die “wysheid” van mense nie? Het ons al dit met onsself uitgemaak dat die Bybel die betroubare Woord van God is? Sjoe! Laat mens dink né. Wanneer dit oor geloof gaan is die vraag of dit myne en joune is, nogal belangrik. Of wag ons dalk dat iets eers moet gebeur? Ons dalk eers deur weerlig getref moet word?
Ja, ek weet dit klink bietjie rof. Maar dis wat met Martin Luther gebeur het. Hy is sommer twee maal deur weerlig getref. In Julie 1505 het hy as regstudent buite rondgeloop toe ‘n weerligstraal die grond naby hom tref en hom teen die grond geslinger het. Uit vrees het hy belowe om ‘n monnik te word en binne ‘n maand sy studies in die regte gestop en by ‘n klooster aangesluit. Hy het egter gesukkel om closure te kry. Hoe meer hy van God geleer het, hoe onwaardiger het hy gevoel. Hy het gevas, gebid, harder studeer, maar steeds gevoel hy sal nie deur die Here aanvaar word nie. Na jare se worstel, word hy weer deur weerlig getref. Die weerlig van God se Woord, die Waarheid!
Hy het die waarheid ontdek en erken dat Paulus se woorde van Romeine 1:17 vir hom soos die poort na die Paradys was. Hierdie skokkend-blye boodskap dat God elke mens wat glo in Jesus Christus, uit genade vryspreek, nie uit goeie werke nie, het die wekroep van die Hervorming geword. Is dit nie die beste nuus ooit nie? Ek en jy hoef nie eers goed te word en dan na die Here te gaan nie. Ons kan maar na hom toe gaan met al ons flaws, Hy maak dit weer goed! Geloof maak ons waardig om ‘n kind van God te word, dieselfde geloof wat ons verseker dat ons vrygespreek is en die hemel kan ingaan. Dit is ‘n genadedaad van God. Ek en jy kan niks daartoe bydra nie. Uit oneindige dankbaarheid kan ons maar net die waarheid van Paulus se oortuiging van Romeine 1:17 oorweeg. Oorweeg dit, dis die oorweging werd!
“Volharding in die geloof is nie net ‘n uithouwedren nie; dit is honderde kort wedrenne, die een ná die ander” (Walter Elliot).
Gebed: Here, U ken my gesukkel. U weet ek wil nie, maar ek trap kort-kort in die gat. Help my om van die verkeerde pad te beur en die Ewige Oop Deur te vind en standvastig sal bly by Jesus, die opgestane Heer wat my ingang is. Amen.
Comentários