Gedagte vir Vandag
Donderdag, 3 Augustus 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (5)
Timoteus sluit by Paulus aan (2)
Ek is ‘n kindjie klein, Here maak my hartjie rein
Hand. 16:4-5 – “Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5 So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.”
Die reis moes voortgesit word. Paulus, Silas en Timoteus besoek die gemeentes in Derbe, Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië, wat op die vorige sendingreis gestig is. In die gemeentes hou hulle die vier reëls voor waarop die vergadering in Jerusalem besluit het, naamlik: geen afgodsvleis, geen bloed, geen verwurgde diere, en geen onsedelikheid nie. Die besnydenis en onderhouding van die wet van Moses word nie van die gelowiges verwag nie, slegs geloof in die Here Jesus as Verlosser.
Met hulle besoeke aan die gemeentes is die gelowiges “in hulle geloof in die Here Jesus versterk.” Die getalle van die lidmate in elke stad het daagliks vermeerder onder die seënende hand van die Here wat die mense oortuig het deur die prediking van die drie sendelinge. Wat beteken dit om iemand in hulle geloof te versterk? Martin Luther het gesê daar is twee soorte geloof: eerstens ‘n geloof omtrent God. Dit beteken ons glo alles wat oor God gesê word. Hierdie geloof is eerder ‘n vorm van kennis as geloof. Tweedens is daar geloof in God. Dit beteken ons plaas ons volle vertroue in Hom. Dit verbind my en jou om gereeld met Hom te praat en sonder twyfel te glo dat Hy sal wees en doen volgens wat Hy belowe het. Dit beteken ons is Christene wat ons ten volle op Hom werp, in lewe of in die dood.
En tog is die lewe nie so maklik nie. Dit is soms moeilik om in die geloof sterk te staan. Daar gebeur kort-kort dinge wat veroorsaak dat ons nie voluit kan hardloop nie en eers die pas moet makeer. Die een probleem na die ander klim op ons rug. Ons voete begin sleep, want die las is eenvoudig net te swaar. Met die gevolg dat ons nie die beeld van die verlossende God kan uitleef nie. Inteendeel, ons sien eintlik nie meer kans om môre op te staan en die lewe in die oë te kyk nie, asof ons nie in staat is om self reg te kom nie. Dit voel asof ons geloof nie sterk genoeg is en dit onmoontlik is om in God se koninkryk te kan kom, tensy Hy ons optel en daar indra.
Wat probeer die sonde doen? Dit verslap ons geloof in Christus terwyl ons “geloof sterk moet bly.” Sonde probeer die lekker uit die lewe haal. Eers probeer die vader van die sonde, satan, vir jou ’n leuen vertel deur te sê hy weet waar die ware fun van die lewe is, maar as jy jou weer kom kry, het jy meer probleme as iets anders. Of dit probeer mens vasdruk in reëls en regulasies van jy mag nie dit en jy mag nie daai nie. Ja, aanvanklik lyk daardie kant beter, makliker, maar ongelukkig begin jy gou aan ’n groot stuk bagasie sleep. Stadig maar seker word jy ingekatrol en voor jy lekker weet, is jy in die kloue van sonde en vasgevang in die nette van satan se gebondenheid. Dan is jy ’n gevangene, ontneem van vryheid – God se vryheid.
Dalk sê ons vir onsself dat ons dit nooit sal toelaat dat die bose ons met ’n slap riem kom vang nie. Moenie so seker wees nie. Op baie slinkse maniere kom hy en probeer God se vryheid by ons steel. Miskien sal dit goed wees as ons een of ander tyd op ’n klip gaan sit en mooi kyk na wat ons glo en die maniertjies wat ons vir onsself aangeleer het. Maak dit ons vry, of bind dit ons vas? Voel dit nog of ons sterk staan in die geloof of het ons versterking nodig? Om te voorkóm dat ons om die bos gelei word, moet ons ’n lewe leef waar ons die heeltyd vir onsself sê: God het alles gemaak, vir my en jou ook. God is die Skepper. Alles wat God gemaak het, het groot waarde. Wie is ek en jy dan om nou die beheer daarvan oor te neem en te besluit wat is reg of verkeerd?
Daarom is dit miskien nodig om opnuut weer ons geloof in perspektief te neem. Is daar iets wat my en jou laat twyfel of ons nog binne God se wil beweeg? Charles Spurgeon sê wanneer ons vir God bedank vir alles, vir elke ding wat ons doen en sê, dan besef ons gou waar dit vandaan kom en wat die waarde daarvan is. Indien ons dan nie vir God daarvoor dankie kan sê nie, weet ons mos hier is iets nie reg nie. Dalk is dit dan nie ’n Godgegewe geskenk nie, maar ’n mensgemaakte ding en wanneer die mens iets te make het met die ding, is die kans maar al te goed dat daar êrens iets gaan ontspoor. Kom ons sê dankie vir die Here dat Hy ons lankal opgetel het en nog nooit weer neergesit het nie, dat Hy ons in Sy koninkryk sal indra, as dit dalk nodig is.
“Geloof in Christus is nie ‘n kitskursus nie; dit is ‘n kuns wat deur jare se vertroue en twyfel, se val en opstaan, aangeleer word” (Coenie Burger).
Gebed: Here, dankie dat U my vandag opnuut geleer het om dankbaar te wees vir alles wat ek van U ontvang, selfs om vas te staan in my geloof. Ek is geneig om ‘n wegloper te wees, ‘n selfversekerde wandelaar vol eie geregtigheid. Ek hou my groot, maar dankie Here, diep binne my weet ek wat U weet: ek is bloot ‘n kindjie klein. Amen.
Comments