Gedagte vir Vandag
Maandag, 31 Julie 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (2)
Paulus en Barnabas skei van mekaar (2)
Konflik in God se Koninkryk
Hand. 15:36-39 – “’n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: ‘Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.’ 37 Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem. 38 Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie. 39 Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met ‘n skip na Siprus toe vertrek.” (2)
Ons het Vrydag reeds besluit om eers Barnabas te bespreek en dan Paulus. Paulus het geweier om in Barnabas se versoek dat Johannes Markus hulle moet vergesel, te voldoen. Die prys was net te hoog. As Johannes Markus alreeds in Pamfilië omgedraai het – nog voor die eintlike aksie begin het – wat sou hy doen in Antiogië in Pisidië of Ikonium waar die apostels uit die stad verdryf is, of in Listra waar Paulus gestenig en vir dood agtergelaat is? Waar lê die gee van ’n tweede kans vir iemand wat gefaal het? Vir Paulus swaai die skaal na die kant waar Markus nie kan saamgaan nie. Barnabas is oortuig dat sy neef Markus, sy kant sal bring. Twee antwoorde op dieselfde vraag. Dit lei tot skeiding tussen hierdie twee formidabele kerkleiers.
Barnabas se vertroue in Johannes Markus was werklik profeties. Markus het ontwikkel in ’n belangrike en sterk geestelike leier in die kerk van die Here. Barnabas het gewys dit is gepas om aan mense ’n tweede kans te gee, minstens onder die regte omstandighede. Wat laat Barnabas vir Markus kies? Hy het moontlik Markus se persoonlike potensiaal raakgesien. Hy het ook geweet dat God ons nooit verstoot nie, maar aan ons verskeie geleenthede vir skuldbelydenis en vergifnis gee. En dan, die heel belangrikste, hy eggo Jesus se optrede teenoor Petrus nadat dié Hom verraai het!
Hiermee doen Barnabas eintlik presies wat hy vroeër met Paulus self gedoen het. Toe niemand Paulus ’n kans wou gee nie, het hy hom in Tarsus gaan haal en ’n geleentheid in Antiogië gegee. Op ’n manier gaan hy nou ’n stappie verder. Hy begelei nie net iemand wat die eerste keer tot bekering gekom het nie (Paulus), maar ook iemand wat gefaal het, en nou ’n tweede kans behoort te kry (Markus). Die gevolg hiervan is ongelooflik. Johannes Markus word as betroubare bedienaar van die evangelie herstel; hy word ’n sleutelfiguur in die vroeë kerk, onder andere die skrywer van die oudste evangelie, “Die Evangelie volgens Markus,” en die vertroueling van Petrus (1 Pet. 5:12-14) en selfs Paulus; hy word uiteindelik met Paulus versoen. Dit is roerend om te lees hoe Paulus later oor hom skryf in Skrifgedeeltes soos Kol. 4:10; Fil. 24-25; 2 Tim. 4:9-13.
Is dit nie ook maar deel van die evangelie nie: ‘n lewe van tweede kanse? En eintlik lê Barnabas die fondasie om broodnodige lewenspraktyke, (rules for life), vir die Here se kerk voor te stel. Dit is geleenthede wat ons met medegelowiges moet loop en tweede kanse gee; lidmate van die kerk – die gemeenskap van die heiliges wat ons bely ons in glo – toelaat om foute te maak en ook tekort te skiet – niemand is immers volmaak nie; mede-gelowiges nie afskryf nie, maar betrokke te raak by mekaar, en mekaar te help vorm deur aanmoediging en erkenning gee aan die feit dat bediening slegs in gemeenskap kan geskied, as lede van dieselfde Liggaam – geen alleen-leierskap nie, maar vennootskap.
Waar eindig Barnabas se verhaal? Daar is ’n tradisie wat sê dat hy op die eiland Siprus, naby die stad Salamis, deur Jode gestenig is. Dit beteken dat hy soos talle vroeë Christene en waarskynlik al die ander apostels, behalwe Johannes, as ’n martelaar sterf vir Christus. In ’n sekere sin leef sy verhaal voort oral waar gelowiges lewenspraktyke van begeleiding, bemoediging, en vrygewigheid volg. Mag Barnabas se verhaal ook in ons voortleef.
Barnabas se lewensverhaal was dié van ’n gewone mens soos ek en jy. Deur die Here se genade kan elkeen van ons só ’n lewensverloop hê. Patykeer is konflik onvermydelik. Wanneer dit oor beuselagtighede gaan, is dit hartseer. Maar wanneer dit te doen het met die eer van die Here, dan moet dit maar gebeur, solank ons net waardig teenoor mekaar optree, nie sterk of stoer of kranig of kordaat nie. Kom ons bid vir baie wysheid in sulke omstandighede. Mag Barnabas se lewenspraktyke van begeleiding, bemoediging, en vrygewigheid ook in ons en julle gemeente voortleef.
“Wie kan wreed in sy oordeel oor ander wees wat daagliks God se sagte oog op jou eie mislukkings voel?” (Charles Hodge).
Gebed: Hemel Vader, skenk my asseblief die wysheid om te weet wanneer om van ander te verskil, en wanneer om eerder stil te bly. Maak my U geloofwaardige volgeling, juis wanneer my swakhede so oop en bloot voor U lê. Amen.
Comments