Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jul 27, 2023
- 4 min read
Donderdag, 27 Julie 2023
Koos Espach
Die Kerkvergadering in Jerusalem (10)
Die besluit van die vergadering (4)
Selfondersoek
Hand. 15:32-35 – “Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk. 33 Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het. 35 Paulus en Barnabas het ‘n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.”
Judas en Silas het nie net die brief oorhandig en die gelowiges mondeling toegelig nie, omdat hulle profete was het hulle ook die gemeente bemoedig en geestelik versterk. Dit was vir die bekeerlinge uit die heidendom ’n groot oomblik van vreugde dat die afgevaardigdes uit Jerusalem hulle as broers (en susters) behandel het en hulle bemoedig het om op die weg van die evangelie voort te gaan. Daarmee word die onderlinge gemeenskap, verbondenheid, liefde en respek bevestig. Judas en Silas het nog ’n tyd lank daar gebly en is later met vreugde toegelaat om na Jerusalem terug te keer.
Daar het uiteindelik rus in die gemeente van Antiogië gekom en die werk van God kon voortgesit word. Paulus en Barnabas en baie ander het die onderbroke werk voortgesit, die gelowiges onderrig en die woord van die Here verkondig aan dié wat nog onbekeerd was.
Die besluit van die kerk in Handelinge 15 sou die belangrike patroon vestig wat oor al die eeue steeds geld: Mense kan na die Here kom net soos hulle is. Ek en jy hoef nie eers te verander om byvoorbeeld ʼn Jood te word nie. Die kerk sou nooit beperk kon word tot ’n enkele groep of kultuur nie. Nooit sal een spesifieke kultuur hul insig in die Christelike geloof tot die absolute waarheid kon verklaar nie – ’n beslissende verskil met die Moslem-geloof wat een kultuur op almal afdwing. In die evangelie van Jesus Christus is Hý belangrik, nie die kultuur waaruit Hy gekom het nie. Hierdie besluit maak die evangelie werklik vry om oor alle grense te beweeg en mense in die koninkryk van God in te sluit deur geloof in Jesus Christus alleen.
Die feit bly staan dat elkeen sélf, eendag voor God rekenskap moet gee. Al stem ons nie altyd saam met ander gelowiges se standpunte nie, moet ons hulle aanvaar want God het hulle ook aangeneem, net soos vir my en jou, foute en al. Die hartklop van ons gelowiges se alledaagse bestaan, is om selfondersoek te doen: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie” (2 Kor. 13:5).
Leef ons wat ons voorgee ons is, doen ons wat ons glo, is Christus se teenwoordigheid sigbaar in ons daaglikse optrede? Word ons verbondenheid aan Christus in ons geloofsvertroue weerspieël? Oor hierdie vrae sal elkeen vir hom- of haarself eendag aan God rekenskap moet gee. Maar, is ons gereed om eendag aan God rekenskap te gee? God het elkeen van ons anders geskep, elkeen wie se vermoëns verskil, elkeen met verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee (1 Kor. 12:4). Daarom is dit nodig om met medegelowiges se gevoelens rekening te hou en nie só op te tree dat hulle ‘n grief begin saamdra nie. Daar is byvoorbeeld baie maniere om die Here te dien, maar ons dien dieselfde Here. Dit is daarom nie nodig om my en jou manier van dien, op ander af te dwing nie.
Ons Vader is op baie verskillende maniere aktief in ons, maar al die vermoë en krag om Sy wil in ons lewe uit te voer, is Syne alleen: “Daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring” (1 Kor. 12:6). God gee vir alle volke om. Hy sluit hulle in en maak hulle deel van Sy volk en Sy koninkryk. Ek en jy is maar net bome tussen ander bome het iemand gesê. God het die deur van Sy koninkryk vir almal oopgemaak. Omdat God in Homself “verskeidenheid in eenheid” is, werk Hy ook op hierdie manier in die kerk.
Niemand kan ‘n huis met net een steen bou nie, daarom het ons gelowiges mekaar nodig. Ons moet eintlik hipersensitief wees oor elke lidmaat se standpunt, al is dit “anders.” Elkeen se standpunte is heel moontlik gebaseer op sy of haar gawes wat hulle ontvang het van dieselfde “Christus wat vir hulle ook gesterf het,” en dit is bedoel vir die uitbou van die hele Christelike gemeenskap van ons gemeenskaplike Here. “Anderste” mense behoort vir enige Christen ‘n prioriteit te wees. Ook nie net die mense van wie ons hou nie, of wat dalk van ons hou nie. God het alle mense lief. Hy stap ‘n pad met almal. Ons kan dus nie die Here dien terwyl ons ander mense miskyk nie. Niemand kan of mag “verlore gaan” as gevolg van my en jou verkeerde optrede wat “aanstoot” kan gee nie! Dit is belangrik om mekaar in ag te neem. Doen dit dan!
“Om mense lief te hê beteken om hulle te sien soos God hulle bedoel het om te wees, nie soos jou opinie hulle wil verander nie” (Feodor Dostojewski).
Gebed: Here, maak my sensitief vir die pad wat U met my mede broers en susters in die geloof loop sodat ek nie ‘n struikelblok vir hulle sal wees nie. Help my om nie met onbedagsame woorde of dade oor mense se gevoelens loop nie. Hou my nederig. Weerhou my van afgunstige en selfsugtige opinies wat ander kan aanstoot gee en selfs mense gevolglik verlore kan laat gaan, verlore vir U koninkryk deur mý verkeerde optrede. Here, maak my deursigtig dat ander skaars van my sal weet, maar agter my vir U sal sien. Amen.
Comments