top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 25 Julie 2023

Koos Espach


Die Kerkvergadering in Jerusalem (8)

Die besluit van die vergadering (2)


Gebruik Jesustaal wanneer jy praat


Hand. 15:23-27 – “Hulle het die volgende brief saamgestuur: ‘Van die apostels en die ouderlinge, julle broers. Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië. Groete. 24 Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie. 25 Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus, 26 wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. 27 Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra.”


Die apostels en ouderlinge besluit saam met die hele gemeente om ’n afvaardiging na Antiogië te stuur om die besluit van die vergadering bekend te maak. Die brief wat hulle saamstuur, sluit aan by die onenigheid wat deur mense – wat geen opdrag van Jerusalem gehad het nie – veroorsaak is. Die adres is uitgebreider as wat ’n mens sou verwag, aangesien dit nie net gerig word aan die gemeente van Antiogië waar die moeilikheid ontstaan het nie, maar ook aan die Christene in Sirië, waarvan Antiogië die hoofstad was, en die aangrensende Silisië.


Ons kan vandag hierdie vergadering in Jerusalem beskou as die eerste sinode vergadering, al was daar moontlik nie veel papierwerk betrokke nie. Daar was nie verskillende verslae en rapporte wat gelewer moes word nie. Daar moes besluite geneem word oor “mense wat van Jerusalem af gekom het en die “nuwe” gelowiges verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van Jerusalem ontvang het nie.” Dit was ‘n tyd om te luister na mekaar. Elke mens het ‘n storie en dis wonderlik om te sit en luister na wat God in ander mense se lewe gedoen het. En hoe meer stories vertel word, hoe duideliker is dit wat God besig is om in Sy koninkryk op aarde te doen. En dit is wat “Judas en Silas ook mondelings aan die ‘nuwe’ gelowiges moes gaan oordra.” Hulle moes nie net hulself verteenwoordig nie, maar as Christene vir Christus gaan verteenwoordig!


Hoekom is praat, die gebruik van woorde, so belangrik? Omdat woorde ‘n storie vorm wat betekenis aan ander oordra. Dit laat ‘n blywende indruk van ons by ander. Die woorde wat ek en jy gebruik, is eintlik ‘n vertoonvenster van wie ons is, sê die slim mense. Dit tipeer ons, vorm deel van ons karakter, dit sê wie ons is. Jakobus is die boek in die Bybel wat in 1:26 dit baie duidelik maak dat ons woorde vertel of ons Christene is of nie: “As iemand dink hy is godsdienstig maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.”


Jakobus sê ook die sonde van die tong is om te gou te praat en kwaad word (Jak. 1:19). Dit lei na woede, beledigings en onnodige bitsigheid. Is dit nie dalk waar van baie van ons ook nie? Sondae bid ons “Onse Vader” maar in die week tree ons op soos weeskinders sonder die Vader. Die tong word dan ‘n getuienis van die bose drifte wat innerlik in ons skuil en dit maak ons “godsdiens waardeloos.”


Sonder dat mense ons ken, oordeel hulle ons aan ons woorde. As ons soos Judas Barsabbas en Silas, Christus verteenwoordig wanneer ons praat, moet mense wat ons hoor, seker ‘n goeie indruk te kry dat ons God verteenwoordig. Egte godsdiens is rein en onbesmet want dit word deur God bepaal. Daarom het die huisgesin van God, die kerk en almal wat deel daarvan is, ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Pragtige kerkgeboue en fantastiese eredienste beteken niks as God se liefde nie in ons woorde na ander gerig word nie.


Die tong maak of breek. Daarom is dit nodig om altyd Jesustaal te gebruik. Egte godsdiens beteken om onsself te verdiep in dit wat in die spieël waargeneem word. Ek en jy moet ons woorde beoordeel in die lig van sy Woord. God se woord raak dan ons tonge aan. Ons tonge kan dan in toom gehou word. Ons kan God se woord in menswoorde herhaal. Dit raak ons ore aan om die noodkrete van die weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede, te kan hoor. God se woord raak ons hande aan wat soms maar toe-erig kan wees om iets te dóén. God se woord raak ons harte aan om ons skoon te hou van die besmetting van die wêreld en van alle dinge wat ons van binne af besoedel. God se woord laat liefde vir ons naaste ‘n werklikheid word. Liefde vir ons naaste help ons om lief te bly vir God.


“Min dinge is so leeg soos ‘n godsdiens wat net uit godsdienstige gebare bestaan, sonder ‘n genadige gesindheid teenoor jou naaste” (Ferdinand Deist).

Gebed: Hemel Vader, vandag wil ek saam met Johannes vir U graag sê: Ek wil nie hierdie sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie want as ek die wêreld liefhet, is U liefde nie in my nie. (1 Joh. 2:15). Dankie Here dat ek daardie wysheid van U ontvang het om te kan onderskei tussen die verkeerde en die egte. Help my om my woorde skoon te hou van die besmetting van die wêreld. Amen.


Comments


Recent Posts