top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 21 Julie 2023

Koos Espach


Die Kerkvergadering in Jerusalem (6)

Die vraag oor die besnydenis word verwys na ‘n vergadering in Jerusalem (6)


Leef en laat leef


Hand. 15:19-21 – “Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. 20 Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan ‘n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. 21 Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”


Jakobus som die hele debat op en formuleer nou die besluit wat voor die vergadering gelê word. Op grond van alles wat gesê is, die ooreenstemming met die profetewoorde (v. 15-18) en God se skenking van die Heilige Gees (v. 8-9), gee Jakobus sy mening wat saamstem met Petrus se woord (v. 10) en Paulus se verhaal (v. 12) wat die basiese vryheid van die wet aan die nuwe volk van God gee, “die volk wat God self uit die heidennasies vir Hom versamel het” (v. 14). Daarmee erken Jakobus dat Paulus en Barnabas se sending onder die heidene volgens die woord en wil van God was. Hy maak dit eintlik duidelik dat nie-Joodse gelowiges nie “tweedehandse” Christene is wat naas die volk van Israel bestaan nie. Nee, hulle vorm saam met die Joodse gelowiges, die nuwe volk van God, en dit sluit ons ook in.


Aangesien die nie-Jode deur geloof deel van die kerk word, oordeel Jakobus nou dat daar nie onnodige laste op hulle skouers geplaas word, “dat hulle dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.” (Die besnydenis en die wet van Moses.) Daar is slegs vier minimum voorwaardes of vereistes, waaraan hulle moet voldoen. Eerstens moet hulle nie vleis eet wat aan die afgode geoffer is nie, letterlik hulle nie besmet met kultiese maaltye en afgodsbeelde nie. Tweedens moet gelowiges seksuele wanpraktyke, ongeoorloofde geslagsgemeenskap soos verbied in Levitikus 18:6-23, vermy. Derdens mag hulle geen dier waarvan die bloed nie uitgeloop het, eet nie. (Diere wat ’n natuurlike dood gesterf het of deur verwonding van ’n roofdier aan sy einde gekom het.) Die eet van bloed was in die vierde plek, ook reeds in die Ou Testament verbode (Lev. 17:10-15).


Die meeste van die dinge wat die nie-Jode gevra is om hulle van te weerhou, was destyds algemene praktyk in die heidense wêreld en nie onmisbaar vir hulle nie. Vir die ware Christelike gemeenskap tussen die twee groepe in die kerk was dit egter nodig dat hierdie opofferings gemaak word. Vandag ken ons dit as die hantering van verskille oor “kantlynsake”, sake waaroor die Bybel nie altyd duidelik uitspraak gee nie, maar waaroor meeste gelowiges sterk standpunt inneem. Die hartseer is dat hierdie verskil in standpunte deur die eeue, in sommige gevalle, selfs in kerke tot verdeeldheid gelei het en vandag steeds die botoon voer oor God se liefde en vryspraak.


God is ‘n God van eenheid, daarom hoor ons Jesus herhaaldelik bid in Sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 dat “ons een kan wees soos die Vader en die Seun één is.” Jesus het geweet dat satan sou probeer om die kerk deur verdeeldheid te wil vernietig, daarom het Hy ernstig gebid dat die kerk ‘n verenigde liggaam sou wees sodat God sy werk op aarde deur ons kan doen. Feit bly egter dat die prentjie wat ons sien wanneer ons deur ‘n dorp of stad ry, sommer in een straatblok ‘n verskeidenheid kerkgeboue die teendeel van ‘n verenigde liggaam bewys.


Satan ken ook die verenigde krag van gelowiges, daarom is hy desperaat om ons uitmekaar te dryf. Hy verheug hom wanneer lidmate oor nietighede stry en in onmin saamleef. Wanneer satan slaag, word God se mense oneffektief. As gelowige kinders van God moet ons veg teen verdeeldheid. Wanneer verdeeldheid sy kop uitsteek, moet ons Jesus se gebed van Johannes 17 met ons hele hart saambid dat die broederskap van ons gelowiges belangriker is as verskil in standpunte. Die goeie nuus is dat Jesus steeds vir ons bid en vir ons intree by ons Vader. Hy wil nie dat een van ons deur die wêreld ingesluk word en verlore gaan nie.

Beteken dit dan dat ons nooit van mekaar mag verskil nie? Dat as een lid sê ons mag nie vleis eet nie, moet almal dit laat staan ter wille van daardie een lid? Beslis nie! Die punt is nie dat ons ten alle koste konflik moet vermy nie. As alle Christene oor alle eeue dit gedoen het, dan sou musiekinstrumente, soos tromme, nooit in ‘n kerk toegelaat wees nie en sou vroue steeds van die kerkampte verban gewees het. Verskille kan nie gebruik word as ’n wapen om ander gyselaar te hou nie. Ons moet eerder mekaar in liefde akkommodeer en fokus op diens aan die Here en nie verskil oor onbelangrike “kantlynsake” nie.

Ons verskille moet ons help om te groei in die geloof. Die Woord van die Here roep ons op om mekaar se goeie trou en integriteit as Christene te aanvaar en steeds só teenoor mekaar op te tree dat ons verhoudinge nie daaronder ly nie. Wat ons in Christus saam bind, is veel groter as dit waaroor ons verskil. Dit veronderstel dat beide partye sal opoffer, dat albei partye mekaar se belange sal hoër ag as hulle eie. Die mens wat die tempel van God versplinter deur onenigheid te saai, sal deur God gestraf word: “As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1 Kor. 3:17). Jammer satan, jy gaan nie wen nie!


“Die eenheid van die mens met God is die eenheid van mense met mekaar” (Thomas Aquinas).


Gebed: Heilige Gees, gee my die krag sodat ek ‘n positiewe bydrae kan lewer om die eenheid van die kerk te bewaar want “hier is Christus alles en in almal” (Kol. 3:11b). Wat ek ookal doen, laat ek dit van harte doen soos vir die Here en nie vir mense nie. Gee dat ons gelowiges mekaar sal aanvaar, ondanks verskille oor die praktiese uitlewing van ons geloof. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page