Gedagte vir Vandag
Woensdag, 19 Julie 2023
Koos Espach
Die Kerkvergadering in Jerusalem (4)
Die vraag oor die besnydenis word verwys na ‘n vergadering in Jerusalem (4)
Koningskind, meld aan vir diens
Hand. 15:12-14 – “Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het. 13 Toe hulle klaar was, sê Jakobus: ‘Broers, luister na my! 14 Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel.”
Ons kan hier van ons teks aflei dit blyk dat die hele gemeente, die apostels en die ouderlinge, dat alle partye in die gesprek deelneem. Beide die gewone gelowiges en die leierskap gesels saam. Die aandrang op die besnydenis kom immers spesifiek uit gelowiges wat vroeër Fariseërs was se geledere. Dit is duidelik dat almal se menings en perspektiewe verreken word. Die proses word nie afgejaag of met die hantering deur ’n magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie.
Na Petrus se bydrae vertel Barnabas en Paulus van hulle ondervinding, tydens hul eerste sendingreis, wat God onder die heidennasies gedoen het. Hulle beklemtoon wat God doen, en hoe God deur die gemeente se bediening nagevolg moet word. Hier is ’n diepe soeke na God se handelinge ter sprake, God se werk wat hulle verduidelik.
Toe Paulus en Barnabas klaar was, het Jakobus, die broer van Jesus, wat n baie prominente rol in die gemeente van Jerusalem gespeel het, die aandag van die vergadering gevra. Hy beaam dat God die inisiatief geneem het met die verlossing van die heidene en dat hulle redding slegs die uitvloeisel is van Sy liefdeswil. God self het begin om na die heidene om te sien deur vir hom ’n volk uit die heidene, te versamel wat vir die eerste keer in Antiogië, Christene genoem is (Hand. 11:26b). Hy versamel hierdie volk vir Homself, vir sy Naam. Dit gaan naamlik alles om die eer van God se Naam, sodat Hy daardeur vereer kan word. Hulle sal dus ’n volk wees wat hom eer.
Almal wat toetree tot die volk van God, is hulle oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Ons is bevoorreg. Ons het voor God saam met medegelowiges ’n hoë status verkry. “Ons is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade van God moet verkondig” (1 Pet. 2:9). Ek en jy wat in Christus glo is ook lede van hierdie Koninklike familie. Ons het blou bloed in ons are, nie omdat ons Bloubul rugbyondersteuners is nie, maar omdat Jesus se bloed wat ter wille van ons gevloei het ons aan Hom en ander gelowiges bind. Op grond van Jesus se kruisiging is ons persoonlik deur God uitgekies om sy eie seuns en dogters te wees, mense wat elke dag vir Hom Vader mag sê.
As koningskinders vra ons Vader en Koning van ons om vir ander mense te gaan vertel wat Hy vir ons gedoen het. Ons moet ook vertel dat daar nog plek oor is in God se familie en hulle uitnooi om deel te word van Sy hemelse huishouding. Hoe lyk ons dagboek in God se oë? Is daar darem iewers ‘n plekkie of inskrywing van Hom of bevat die besigheids- en ander afsprake die meeste plek? Jesus se groot opdrag sê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (Matt. 28:19-20). Dit is Jesus se opdrag, nie ‘n voorstel nie. As dissipels van Jesus is ons deel van God se familie en is dit verpligtend vir elkeen, nie net die sendeling, predikant of pastoor nie. God gaan ons verantwoordelik hou vir die dood van ongelowiges: “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan deur sy sonde sterwe, en jy waarsku hom nie, sal Ek van jou rekenskap eis vir sy dood” (Eseg. 3:18).
Jesus vra ons nie net om na Hom toe te kom nie, maar ook om vir Hom te gaan. Almal het Jesus nodig en ons besit die grootste nuus ter wêreld, daarom is dit ‘n ongelooflike eer om God te verteenwoordig en die goeie nuus met ander te deel. As deel van God se werkspan, moet ons nooit vergeet hoe hopeloos alles sonder Christus is nie. Daar is mense op aarde wat net óns kan bereik want ons woon waar ons woon en God het ons daar geplaas. Ons moet ons opdrag uitvoer. Christus wag om ander se sondeklere spierwit te was met Sy bloed. Hy spesialiseer in stukkende mense. Hy verander graag sondaars na Koningskinders. Dis ‘n voorreg om deur God gebruik te word en as ons dus wil hê God moet ons gebruik, moet ons omgee vir die dinge waarvoor God omgee.
“Niemand gee homself vrylik en gewillig in God se diens nie, tensy hy die Vader se liefde gesmaak het en hy nie anders kan nie as om God te dien” (Johannes Calvyn).
Gebed: Here, wie het U in my lewe geplaas sodat ek hom of haar van U kan vertel? Ek plaas my vertroue in U en gee my oor aan die leiding van die Gees sodat ek U kragtige getuie kan wees. Gees van God, lei my na die plekke toe waar God aan die werk is, ek wil aanmeld vir diens. Ek loof U Naam vir hierdie besondere voorreg. Amen.
Comments