Gedagte vir Vandag
Vrydag, 7 Julie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (51)
Paulus en Barnabas in Listra (8)
Sien God raak in beproewing en versoeking
Hand. 14:19-20 – “Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20 Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.”
Die haatdraende Jode vanaf Antiogië in Pisidië en Ikonium, het die Listra-skare omgepraat, en hulle stenig Paulus – iets wat hulle reeds in Ikonium wou doen, maar nie kon regkry nie. Aangesien ’n lyk as onrein beskou is, het hulle Paulus tot buite die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is, en hom daar as prooi vir die wilde diere gelos. (Daarom moes Jesus ook buite Jerusalem gaan sterf het.) Die gelowiges wat wel daar was, het Paulus buite die stad gevind waar hy gelê het en hulle het moontlik gegaan om hom te begrawe. Hulle beleef die wonder dat Paulus, wat vir dood agtergelaat is, deur ’n wondergenesing (opwekking?), opstaan en dadelik in die stad kon ingaan en die volgende dag saam met Barnabas na Derbe kon stap, wat 75 km oos van Listra geleë was. Dit spreek ook van Paulus se moed en vertroue op die Here om weer in die stad Listra wat hom wou vermoor het, in te gaan.
Is dit nie tragies dat die evangelie sulke uiteenlopende reaksies kan hê nie? Van valse verering as gode tot mishandeling en vir dood agtergelaat! Dit het Paulus egter nie afgeskrik nie. Hy het eenvoudig aangegaan met sy sendingwerk.
Partymaal wonder ek hoekom die geloofspaadjie so steil is, want daar word beslis nie ’n maklike pad gewaarborg vir dié wat vir Jesus volg nie. Inteendeel, dit gaan baie maal so erg dat ek bang is die bootjie val om. Nee, nog erger! Dit voel vir my soms of die bootjie reeds omgeslaan het en ek enige oomblik deur die waters van onrus en sonde ingesuig gaan word. Miskien het die samelewing waarin alles in ’n kits opgelos kan word ons verleer om swaarkry te hanteer. As jy siek is, pop jy ’n pil. As die geld skraps is, vul jy ’n vorm in by die bank en dan koop jy maar weer verder – die kredietkaart is nog meer geduldig!
Vir enige probleem is daar ’n kitsoplossing. Maar wanneer ons op God se lewenspad swaarkry, is daar nie kitsoplossings nie. Daar is nie pille, vorms en kredietkaarte wat alles regmaak nie. Nee, dit is ’n pad waarin ons geloof tot die uiterste getoets word. Ons lewe in ‘n wêreld wat swaar dra aan sy verlede, wat volgens menigte mense se oordeel, in elke opsig gebroke is, wat verskeurd is, en die mense wat daarop woon, stukkend is. Dit is ‘n aarde vol dorings, distels, hongersnood, hartseer, korrupsie, kommer en die dood. ‘n Aarde waar ons bekommerd is oor môre, waarin baie bekommerd is of daar môre iets gaan wees om te eet of te drink, bekommerd is oor ons kinders en kleinkinders, wat van hulle gaan word en of hulle veilig is.
In swaarkry tye vang ek myself ook dat ek net vaskyk in die krisis hier voor my. Dis asof ek dan nie lekker kan dink of onthou van God se beloftes nie. Op my eie probeer ek daardeur worstel. God belowe so baie dinge vir ons, maar ons mis dit, want ons ken nie God se Woord nie, en indien ons dit ken, pas ons dit nie toe nie. Wanneer ons ’n opdraend slaan, sukkel ons om staande te bly, omdat ons dit belofteloos en alleen probeer uitswoeg. Wanneer ons egter weet dat daar al langs die pad vir ons ’n belofte van God is, kan ons juis daaraan vashou en kan ons as oorwinnaars anderkant uitkom.
En ja, as ek weer dink aan wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het, weet ek dat Hy my té liefhet om my te los. Ons moenie toelaat dat swaarkry ons onderkry nie. Dit moet ons ook nie mismoedig maak nie. Nee, dit moet ons eintlik aanvuur soos vir Paulus, want God stap saam met ons op die pad. Deur die swaarsleep is Hy besig om aan my en jou te werk en ons sal sekerlik anders wees wanneer ons aan die anderkant uitkom. Al weet ons nog nie waar anderkant is nie. Ons moenie mismoedig word nie. Ons moet berus by die feit dat God met ons werk en ons moet bly glo dat Hy die beste weet. Ons moet weet dat ons ook hierdeur sal kom en dat God ons nooit alleen sal laat nie.
Ons het nie al die antwoorde nie. Swaarkry tref orals en sonder aankondiging. God sal saam met ons daardeur. God sal selfs die negatief in ’n positief omdraai. Ons moet net uithou en aanhou en vasbyt. Dis nie maklik nie, maar ek en jy moet ons bes doen om staande en standvastig te bly en saam met Paulus aan die belofte vas te hou: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor. 4:16-17). Byt net vas!
“Sonder beproewings en versoekings sal die mens die ware betekenis van God se woord nooit verstaan nie” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, soms voel ek plat geslaan en wil moedeloosheid, beheer van my neem. Dit is dán wanneer U my weer op my knieë bring, die beste plek om te wees om met U te kan praat en na U te luister. Dankie dat ek dan kan opkyk na U toe en kan straal van blydskap want U vertroos my eerder as om my te verstoot. Amen.
댓글