top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 4 Julie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (48)

Paulus en Barnabas in Listra (5)


Bly ‘n nederige dienskneg vir Jesus


Hand. 14:16-18 – “Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17 maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.’ 18 Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.”


Vir die oomblik het Paulus en Barnabas die heldeverering afgeweer en gaan hulle verder deur te verduidelik hoe God oor die lewens van mense en die dinge van die natuur regeer. Teenoor die heidene met hulle baie gode wat vir verskillende dinge verantwoordelik is, skilder Paulus die lewende God wat alles geskep het, sin aan die lewe gee en Sy skepping onderhou – die Bybelse God se goedheid teenoor hulle, waaruit hulle Hom eintlik moes leer ken het (Jer. 10:10-16; Jes. 28:23-29). Al het “God in die verlede al die nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan,” het Hy Hom tog aan hulle geopenbaar deur aan hulle reën te gee, vrugbare seisoene wat hulle gevoed het met voedsame voedsel en hulle harte met vreugde gevul.


God gee wat die mens nie self kan maak nie, reën en goeie seisoene. Hy openbaar Hom van die skepping af in Sy werke, maar die mense het die heerlikheid van die onsterflike God deur hulle sinlose denke verruil vir afbeeldings van die mens se skepsels om dié te vereer. En die ironie is dat Paulus en Barnabas maklik die eer vir hulleself kon toeëien hier in Listra waar hulle ‘n siek man genees het, want die skare was reg om hulle met die gode gelyk te stel. Die gety teen hulle het gedraai ná hulle slegte behandeling in Antiogië en Ikonium. Skielik is daar darem ’n bietjie erkenning. Mens voel amper ons sou Paulus en Barnabas nie kon kwalik neem as hulle dié gebeure so ’n klein bietjie wou uitbuit nie.


Goddank, hierdie twee manne van God keer vasberade dat hulle in die sentrum van die mense se gedagtes kom staan. Dit gee ook die regte perspektief op die plek van wonders en tekens – as dit nie die fokus op God plaas nie, is die gevaar van hoogmoed en magsvertoon lewensgroot. Hulle skuif in nederigheid die aandag weg van hulleself, terug na God toe. Daarmee illustreer Paulus en Barnabas hoe ’n nederige lewenstyl werk.


Ons het almal ’n behoefte na erkenning. Ons wil graag goed voel as ons iets reggekry het en wil graag daarvoor beloon word. Veral as mens swaargekry het en moes opoffer om iets reg te kry. Die probleem is dat ’n sug na waardering maklik ’n sug na mag kan word. Mens kan jou oog van die bal afhaal en erkenning, mag en selfverheerliking begin najaag. Nederigheid kies daarom om op die weg van dienslewering te bly, en nie toe te gee aan die versoeking van mag wat moontlik word as mense jou bewonder of vereer vir wat jy in die Naam van die Here doen nie. Die helderste voorbeeld hiervan kry ons reeds in Jesus se lewe, beide in Sy versoeking in die woestyn (Matt. 4:1-11), en in Sy kruisdood (Fil. 2:5-11).


Die Christelike keuse is om die fokus op God te laat val en onsself vanuit die blik op God te verstaan. Hierdie God gee onder andere reën, goeie oeste, gawes en talente. Eintlik gee Hy álles! Ek en jy kan daarom bekostig om nederig oor onsself te dink en die eer aan God te bring. Hoe groei ’n mens prakties in nederigheid? Paulus en Barnabas se doelbewuste keuse om nie te val vir die versoeking om gode-speletjies uit te haal nie, laat God toe om God te wees. Dit laat die evangelie van verlossing toe om die bron van hoop te wees. En dit help hulle om doelgerig te bly fokus op hulle taak om God se getuies te wees. En dis die les wat ons hier kan leer.


Nederigheid kom nie natuurlik vir enigeen van ons nie. Niemand wil graag aan die onderpunt van die leer wees nie. Dit is moeilik om spontaan en konsekwent die minste te wees, veral binne ons kultuur waar mag en selfbemagtiging so ’n hoë prioriteit is. Ons hou van mense wat “goed doen vir hulleself” en bo uitkom.


Nederigheid beteken dat ons onsself en wat ons doen, nie vergelyk met ander mense nie, maar ons afhanklikheid van God erken (Matt. 5:3). Dit kom daarop neer dat ons nie meer van onsself sal dink as van ander nie en selfs nie om te begeer dat ander ons moet hoog ag nie. Ons gebruik wat ons doen om die lig op God te laat val sodat Hy verheerlik kan word in die oog van ander mense (Matt. 5:16). Dit behels dat ek en jy afstand kry van ons vermoëns en prestasies deur te sorg dat ander ons nie op ’n verhogie plaas nie. Wat ons ook al besit of is, is buitendien gawes van God af. Kom ons bedank Hom in nederigheid vir al Sy gawes. Mag die Here hierdie nederigheid elke dag deel van ons lewens maak.


“Wil jy graag daardie plek bereik wat mense “die hoër geestelike lewe” noem? Klim dan ‘n paar trappies laer af” (Andrew Murray).


Gebed: Here, wanneer my ego só groot word dat ek my eie beuel begin blaas, gee dan dat ek die sagte storting van water in ‘n skottel hoor en U in my geestesoog sal sien terwyl U die voete van die dissipels was. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page