top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 3 Julie 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (47)

Paulus en Barnabas in Listra (4)


Bekeer en glo!


Hand. 14:15a – “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer.”


Vergelyk ook Mark. 1:15 – “Jesus het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”


Ons Christene bevind ons tans in die “Koninkrykstyd” volgens God se jaar. Dit klink miskien snaaks want ons verstaan ‘n kalenderjaar is vanaf 1 Januarie tot 31 Desember. Maar ons tye en die tye van die wêreld is in God se hand. Die kerklike jaar herinner ons dat ons leef tussen die tyd van Jesus se eerste koms en die tyd van Sy wederkoms. Ek en jy is deel van die verhaal van die groot dinge wat God in Christus gedoen het, steeds doen en nog gaan doen. Hierdie verhaal bepaal ook die begin, verloop en einde van ons klein lewensverhale. “Koninkrykstyd” is die tyd waarin ons onthou dat God self sy koninkryk laat kom, maar dat Hy daarby ook vir ons, deur sy Gees, wil gebruik.


Die eerste boodskap wat Jesus gebring het met die begin van sy aardse bediening is dat “die tyd aangebreek het, die koninkryk van God het naby gekom. Ons moet ons bekeer en glo in die evangelie.” Jesus kondig aan met dié kragtige woorde, die dringendheid van bekering en geloof, eerstens wat van God se kant ’n werklikheid geword het: die tyd is vervul en die koninkryk is naby; en tweedens hoe die mens hom teenoor hierdie werklikheid moet stel: ons moet bekeer en glo.


Bekering. Dit is ‘n woord wat miskien in kerktaal ook ietwat afgestomp geraak het. Verstaan ons egter wat dit beteken as ons opgeroep word tot bekering? Jesus se boodskap kom van ‘n Bron buite Homself, dit kom van God af. Dit is nie ‘n uitdrukking van Sy opinies nie, dit is die stem van God wat deur Jesus oorgedra word aan Sy hoorders en lesers. En daardie boodskap was, en is steeds die gevolg van ‘n nuwe situasie: “Bekeer julle ...” Draai weg van julle ou weë en volg die pad na God. Ewigheidstyd het wêreldstyd ingeneem: God het die wêreld ingeneem deur Jesus Christus en daarom is dit van uiterste noodsaaklikheid om die regte pad te vind wat na God toe lei. Dat ek en jy Jesus vertrou om Sy heerskappy oor ons lewe uit te leef. Dat ons verhouding met God groei en ontwikkel!


Sommige Christene glo bekering beteken eenvoudig om om te draai, ‘n u-draai te maak en jou lewe te verander. Dit is ook reg, maar die Bybel sê vir ons bekering gaan oor baie meer as dit. Die letterlike betekenis van die woord “bekering” in die Nuwe Testament is “om berou en selfverwyt te voel vir jou sonde teen God, om van rigting te wil verander, nie net daaroor te tob of praat nie, maar dit daadwerklik dóén en die Heilige Gees toe te laat om beheer van ons lewe te neem – dat ons alles in gehoorsaamheid aan die Woord van God doen.


Dis moeilik! Want dit beteken dat ons ‘n hele paar dinge waaraan ons vashou, dalk sal moet los: ou denkpatrone, troetel dingetjies waaraan ons gewoond geraak het en ons lekker gemaklik laat. Wanneer iemand tot bekering kom, verander sy pad se loop want die evangelie van Jesus Christus ís in sy aard, lewensveranderend. Ons tree anders op as gewoonlik. Ons doen dinge op ’n anderste manier as voor ons tot bekering gekom het. Ons praat anders. Ons dink anders. Dis asof ons met alles in ons ontslae wil raak van die verkeerde dinge. Dis asof ‘n lekker skerp spotlight skyn op die dinge wat nie so vars is nie. Asof ons neusgate meer oop is en ons dinge ruik wat al ’n klankie het, die dinge wat eintlik die wêreld vergiftig.


Bekering beteken ‘n verandering is nodig en dit gaan nie net om ’n uiterlike leefwyse nie, maar om ’n radikale innerlike lewensvernuwing. Dit gaan om ’n nuwe geboorte of ’n wedergeboorte wat uit die hemel deur God bewerkstellig word en die mens ‘n hartsverandering laat ondergaan. Ons harte word aangeraak en dis juis die hart wat die mens aanvuur om ’n nuwe lewenstyl aan te leer. Jakobus voeg in sy brief vir ons by: “Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie” (Jak. 3:17 – Die Boodskap). Dis die wysheid wat van Bo kom. Die wysheid wys vir ons wat het ’n klankie en waar is dinge nie so vars nie. Dis tyd om skoon te maak. ‘n Springclean is nodig!


Ons moet ontslae raak van daai dinge wat ons so lekker gedoen het voor ons God se kind geword het. Voor sy Gees by ons ingetrek het. Ons moet die stoflappe gaan uithaal. Ons moet vra vir ’n hoop wysheid en sommer ’n skerp spotlight ook. Dan moet ons die verkeerde goeters een vir een gaan uitvis en verwyder. Ons moet afstof sodat ons lewe weer rein kan wees, skoon van enige ongeruimdhede wat nie by die nuwe mens pas nie. Dan sal ons leef soos God wil hê ons moet leef.


“Verandering verf net die huis, bekering breek die ou huis af tot op die grond en bou dit weer van die grond af op. Verandering vernis net die buitekant van ‘n voorwerp; bekering breek die voorwerp totaal af en skep ‘n nuwe een” (Augustus Toplady).


Gebed: Vader, sonder dat ek dit eers opmerk, kruip die stof, die verkeerde dade weer terug in my geestelike huis. Help my om daarvan ontslae te raak, sodat ek weer rein voor U kan staan. U boodskap is eenvoudig: Dit is nie wat ek doen nie, dit is wat U doen. U het deur u Gees by my ingetrek en my nuutgemaak. U het my harde hart in ‘n sagte hart verander, ‘n omgee hart. Ek moet leef vanuit en deur die Gees, en mettertyd sal ek net soos Paulus kan sê: ‘En dit is nou nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal. 2:20). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page