Gedagte vir Vandag
Woensdag, 28 Junie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (44)
Paulus en Barnabas in Listra (1)
Drink by die Fontein van die lewe
Hand. 14:8-10 – “In Listra was daar ‘n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9 Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10 Toe roep hy na hom: ‘Staan regop, op jou voete!’ Die man het opgespring en hy kon loop.”
Die bedreiging van aanranding en steniging in Ikonium word te veel vir Paulus en Barnabas en hulle vlug na Listra en Derbe, twee stede in die distrik Likaonië, in die Romeinse provinsie Galasië. Hulle bevind hulle eers in Listra wat ongeveer 38 km suid van Ikonium was. Hier was egter geen sinagoge van die Jode of godvresendes wat iets van die God van die Ou Testament geweet het, by wie Paulus-hulle kon begin met hulle verkondiging nie. In die stad raak hulle betrokke by die genesing van ’n man wat met gebreklike voete gebore is. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie.
Hierdie man het gesit en luister terwyl Paulus praat. Paulus het opgemerk dat die man luister en die Here open die oë van Paulus wat deurdringend na die man kyk, en sien dat die Heilige Gees in die man die geloof gewek het om genees te word. Paulus roep na die lam man met ’n harde stem dat almal dit kan hoor: “Staan regop, op jou voete!” Dat dit die Here is wat deur Paulus praat, blyk uit die Here se opdrag van Esegiël 2:1: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.” Jesus sterf ook met ’n harde stem dat die wêreld kan hoor: “Vader in u hande gee Ek my gees oor, en net daarna het Hy sy asem uitgeblaas” (Luk. 23:46).
Die opspring van die man was ’n daad van gehoorsaamheid wat uit sy geloof voortgespruit het. Dat God verantwoordelik is vir die wondergenesing, was vir die hele skare duidelik. Die man het in geloof Paulus se opdrag gehoorsaam, en aan sy uitbundige vreugde uiting gegee deur borrelend op te spring op die voete wat sy lewe lank sy hindernis was, en sy gees ook terneergedruk het. Sy borrelende reaksie van vreugde herinner ons aan Jesus wat dieselfde woorde gebruik om die werking van die Heilige Gees te beskryf as die lewende water wat Hy gee en in ons sal opborrel tot die ewige lewe (Joh. 4:14).
‘n Sekere Bowden vertel hierdie aangrypende storie: “Die Kruik sê vir die Fontein toe hy daar kom om gevul te word met suiwer water: ‘Ek hoop nie ek kom te dikwels om gevul te word nie, maar ek word leeggetap en moet herhaaldelik gevul word.’ Die borrelende Fontein antwoord: ‘Moenie sleg voel of bekommerd wees oor jou dikwelse besoek nie, jy is maar een van baie wat met dieselfde behoefte hierheen kom.’ Die Kruik antwoord: ‘Maar jy is uiters vrygewig om aan almal te gee wat kom skep!’ ‘Ek weier niemand ooit nie en stuur ook niemand ooit leeg weg nie en ek verarm ook nie al gee ek baie weg. Ek vloei juis om te voorsien in die behoeftes van dorstiges, en elkeen wat ‘n behoefte het, kan maar vrylik kom skep, dit is verniet!”
Dit is maar net ‘n storie van die Fontein en ‘n Kruik. Die waarheid egter is: Jesus nooi ons uit om by Hom, die Fontein van die lewe te kom skep: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37). Ons behoort gereelde besoeke af te lê by Jesus vir aanvulling van geestelike voorrade. Die genade wat gister ontvang is, sal nie noodwendig in die behoeftes van vandag voorsien nie. Daarom kan ons die Fontein elke dag, 24/7, besoek. Jesus, die lewende Fontein, “weier niemand nie en stuur ook niemand ooit leeg weg nie. Hy verarm ook nie al gee Hy baie weg.” Sy genade is gratis vir almal wat daarna hunker. Jesus hét nie net wat ons siele nodig het nie. Hy ís wat ons siele nodig het. Ek en jy kan letterlik na Hom toe kom “om te drink.” Nie net eenmalig nie, maar aanhoudend, lewenslank.
“Natuurlike water kan ‘n mens se lewe in stand hou, mits daar herhaaldelik gedrink word; maar die ‘lewende water van Jesus’, bring oorvloedige geestelike lewe in hierdie tyd, en dit voer tot die ewige lewe in heerlikheid” (Onbekend).
Gebed: Dankie Here vir die uitnodiging om by U te kom drink wanneer ek dors het. Ek kan nie sonder water leef nie! Net so kan ek ook nie sonder U leef nie en beslis ook nie wil waag om sonder U te sterf nie. Ek bid vir elkeen wat in die nood van sy of haar verlorenheid na redding smag, om op U uitnodiging te reageer, en na U toe sal gaan om daar hulle geestelike dors te les. Alleen by U, die Fontein van die lewe, is ’n bruisende, opborrelende, oorvloediger lewe te vind. Amen.
Comments