Gedagte vir Vandag
Woensdag, 7 Junie 2023
Koos Espach
NB. Ons vertrek DV môre, Donderdag 8 Junie op ‘n kort vakansie en sal DV weer Woensdag, 14 Junie die dagstukkies versend.
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (33)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (18)
Wees Ligdraers in ‘n donker wêreld
Hand. 13:46-47 – “Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47 want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ‘n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (3)
Vergelyk ook Jes. 49:6b – “Ek maak jou (Israel) ‘n lig vir die nasies, sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.”
Op versoek is Paulus en Barnabas die volgende sabbat weer aan die woord in die sinagoge in Antiogië in Pisidië (v. 46a). Die Jode raak egter afgunstig en maak die deur toe vir Paulus se verdere getuienis. Hulle ontvanklikheid verdamp soos mis voor die son. Hulle reageer soos die Jode in Jerusalem reeds vroeër teenoor Jesus gereageer het. Hulle begin Paulus onderbreek en verwerp sy boodskap. Die Jode wat soveel agting vir die Skrif het, behoort te geweet het dat die Skrif leer dat die evangelie ook vir die heidene bedoel is. Paulus haal aan uit Jesaja 49:6 die woorde wat aan die Kneg van die Here, die Messias, gerig is. Hy sal ’n lig vir die nasies wees, sodat Hy verlossing vir die hele wêreld kan bring.
Johannes vertel vir ons in sy evangelie waar Jesus in die tempel iets van Sy wese laat deurskemer het met een van Sy betekenisryke “Ek is ...” uitsprake. In Joh. 8:12 verklaar Jesus dat Hy self die lig vir die wêreld is. Die beeld van lig teenoor duisternis loop soos ‘n goue draad vanaf die skepping van die heelal. Sonder lig is lewe onmoontlik. Voordat daar lig was, was daar nie lewe nie – “Die aarde was heeltemal onbewoonbaar” (Gen. 1:2) – alles was in duisternis gehul. Maar God vat die duisternis uit Sy skepping weg deur net te sê: “Laat daar lig wees!” God spreek en daar was lig en Hy skei die lig van die donker. Die oomblik toe God lig bring, kom daar lewe vir plante, diere, voëls en uiteindelik vir die mens. Sedertdien staan lig en donker altyd teenoor mekaar – altyd in kontras.
Wanneer Jesus dus sê “Ek is die lig vir die wêreld ...”, verwys Hy ook terug na die skeppingsgebeure. Hy verduidelik hiermee wie en wat Hy werklik is. Hy vertel ook vir ons daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. Hy is die Bron, die Kern en die Oorsprong van alle werklike lig. Kort na die skeppingsgebeure het daar weer ’n diep donkerte oor die aarde gekom toe die mens in sonde geval het en dit die donkerte van sonde, dood en die hel, gebring het. In die plek van vreugde en vrede het daar, hooploosheid, ongeluk en onmin, gekom. Maar tog hou God aan om lig te wees want die “duisternis van die sonde kon nie die lig uitdoof nie” (Joh. 1:5).
Jesus is die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Jesus het die houvas van donkerte op ons lewens gebreek en daarom hoef die uitverkore kinders van God nie meer in die duisternis van die sonde te leef nie. Hoe weet ek en jy of hierdie belofte ook vir ons bedoel is? Die belofte is vir elkeen wat Jesus as hul Lig aanvaar. ‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n keuse wat ons telkens moet herhaal. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ‘n mens buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings totdat die mens hom of haar in die donkerte van sonde bevind nie.
Elkeen wat dus Jesus Christus in geloof aanneem, hoef nie meer in die duisternis te leef nie. As ons na die Lig toe kom, is ons kinders van God – “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Wat ’n wonderlike troos is dit nie! Ons kan kinders van die Lig wees! Die vraag wat elkeen van ons egter vir onsself moet vra is: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om te sê: “Ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is,” dan het ek die Lig wat lewe gee!
Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die Lig. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in my besluite en my dade. Hoe skyn my lig om die donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur, te verlig? Kortom: “Is ek en jy ’n ligmens?” Ons lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees!
“Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap – en in hulleself die Lig dra” (Felix Adler).
Gebed: Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. Help my om ‘n verskil te maak in die wêreld Here, ek wil graag U hoop en lewe en lig uitdra in die wêreld! Amen.
Comments