Gedagte vir Vandag
Maandag, 5 Junie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (31)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (16)
Laat jou lig skyn in God se wingerd
Hand. 13:46-47 – “Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47 want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ‘n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (1)
Die Woord van die Here is in die eerste plek aan Israel toevertrou, maar as hulle dit van hulle af wegstoot en weier om daaraan gehoorsaam te wees, omdat hulle die vervulling daarvan in Christus nie wil aanvaar nie, gaan dit van hulle af weg. Op sy verdere sendingreise sou Paulus telkens eerste aan die Jode die evangelie verkondig. By daardie geleenthede het hy egter dikwels met ongeloof te doen gekry, sodat by gedwing was om hom tot nie-Jode, die heidene te wend.
God het sy verbondsvolk die groot verantwoordelikheid gegee om onder Sy sorg, toegerus met alles wat hulle nodig het, vrugte te lewer tot Sy eer. Dit is eintlik tragies dat mense binne-in God se “wingerd”, oftewel, toepaslik op ons, in die ruimte waar sy Woord verkondig word en waar Sy genade en liefde aanwesig is, kan woon en werk sonder om Hom behoorlik te ken. Baie mense is steeds “blind” soos die destydse Joodseleiers, dat hulle nie eers agterkom dat God se Seun op besoek is aan sy Vader se wingerd nie. Dit bly tragies dat Jesus moes sterf omdat Hy mense opnuut weer met God wou versoen.
Dit is vandag ontsettend hartseer om te dink dat mense steeds Jesus die rug toekeer omdat hulle nie belangstel nie. Hulle kom wel soms bymekaar in die “wingerd”, die kerk, maar steur hulle nie veel aan wat Hy sê nie. Dit kan egter ook ons struikeling word. Dit gebeur wanneer ons die kerk en ons geloof vervreem van God se bedoeling daarmee, en van God se opdrag tot vrugte dra. Dit kan vir mense in God se wingerd so maklik oor die wingerd begin gaan – wat met die wingerd gebeur, hoe dit bestuur en gelei word, aan watter verwagtinge óns dit wil laat doen, watter opbrengs dit vir ons moet hê – dat ons verby die Eienaar van die wingerd begin leef, verby die bepalings van Sy Woord handel en volgens ons eie interpretasies, toepas om óns koninkrykie te handhaaf.
Baie mense is ook geneig om te sê hulle sal beslis nie dieselfde foute maak as wat ons voorvaders gemaak het nie. Ons sal nie God se woord verwerp nie. Baie mense, gelowiges, ons, sal in ‘n poging om die vorige geslagte en hulle denke en dade te verdedig en iets sê soos: “Hulle het gehandel volgens die lig wat hulle gehad het.” Gee ons dan nie toe aan die Joodse leiers dat dit dwaalligte was nie? Wat maak ons beter as hulle om nie vandag ‘n meer aanvaarbare weergawe van die dwaalligte sal volg nie? En die “Lig vir die nasies wat verlossing bring tot in die uithoeke van die aarde”, heeltemal sal mis nie.
Hoe dieper Jesus in liefdevolle diensbaarheid tot die verbondsvolk neergebuig het, hoe hoër het hulle leiers se haat en minagting teenoor Hom gestyg. Ons kan nie, nee, kom ons stel dit sterker; ons mag nie dieselfde foute en vooroordele as die Jode van destyds maak nie. Ons mag ons nie doof hou vir God se woord en siende blind wees vir Sy lig nie. Ons mag nie vasgevang word op die weg van die minste weerstand en ons op vandag se breë weg van verkeerdhede en sonde bevind nie. Dit spel m.o.e.i.l.i.k.h.e.i.d en die donkerte van die ewige dood. Dit geld nie net vir ons nie, maar ook ons nageslag, hulle van wie ons vaders en moeders en selfs grootouers is, wat moontlik ons slegte en swak voorbeeld sal volg.
Wanneer ons God se wil bokant ons eie begeertes plaas, sal ons geloof al hoe sterker word. Dit sal ons sensitief maak om gehoorsaam, tree vir tree te wil loop op die pad wat God wil hê ons moet loop, Sy lig sal volg om ons te lei na die wingerd waar Hy ons graag wil gebruik. Ja, dit sal nie maklik wees om ons wil na die wil van God te buig nie. Die vordering met die werksaamhede in Sy wingerd sal dalk stadig wees. Algaande sal die oortuiging in ons groei dat ons in die beste wingerd aan diens is, want ons is bewus van die offer wat Jesus Christus vir my en jou gebring het in Sy onmeetlike liefde vir ons. Daarom kan ek en jy as kinders van God met oorgawe ons ligte in sy wingerd laat skyn.
“’n Loods kan hoe ervare wees, maar as hy die instruksies uit die beheertoring ignoreer, is ‘n ramp aan die kom. Hy kan wel nie die lugvaartbeheerder sien nie, maar sy stem hoor, en dit is die enigste leiding om veilig te land. So is dit ook met God: Wie Sy stem ignoreer, stuur op ‘n ramp af” (JP Verster).
Gebed: Jesus, Seun van God, Lig vir die nasies, gestuur deur die Vader om U koninkryk op aarde te vestig en te bevestig. Dankie dat U die Een is deur wie God ons oproep om gehoorsaam en getrou te wees. Help my om U deur die geloof te volg, al kan ek U nie sien nie, maar net kyk waar U lig skyn. Dankie dat ek welkom kan wees in U wingerd, omdat ek wel U stem ken. Amen.
Comments