Gedagte vir Vandag
Woensdag, 31 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (28)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (13)
In ruil vir Jesus se sterwe, ontvang ons die ewige lewe
Hand. 13:40-41 – “Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie: 41 Kyk, julle verag God! Julle sal verstom staan en te gronde gaan, want in julle tyd doen Ek iets wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie!”
Vergelyk ook Rom. 3:24-25 – “(Ek) word, sonder dat (ek) dit verdien, op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus, wie God gegee het as offer wat deur Sy bloed, versoening bewerk het vir dié wat glo.”
Paulus eindig sy toespraak met ’n waarskuwing teen ongeloof. Hy haal uit een van die kleiner profete, Habakuk 1:5 aan om die erns van die saak onder sy hoorders en ons aandag te bring. Die vermaning uit die tyd van die profeet geld ook vir ons indien ons Jesus nie as Messias aanvaar nie. Hierdie strafgerig sal so verskriklik wees, dat ons dit nie sal glo as iemand dit aan ons vertel nie, en dan kom die oordeel. En hierdie oordeel sal so swaar wees, dat ons ons daaroor sal verwonder wat die oorwinning van Christus en die skande van Sy veragters sal meebring.
Ongelukkig is daar menigte mense wat vir die Christendom verlore gaan want hulle voel hulle kán nie aan die eise en standaarde wat Jesus stel, voldoen nie. Gevolglik verwerp hulle die geloof in Jesus Christus en mis hulle uit op ‘n persoonlike ervaring met die lewende Christus, asook die ewige lewe! Hoe kan ‘n mens hierdie afskuwelike situasie verander? Paulus sê: “God het Hom gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo” (Rom. 3:25-26).
Ons was as gevolg van ons sonde, in ‘n hoek gedryf en ons verkeerde verhouding met God is tot op die been oopgevlek. Ons kan beslis nie deur onsself hierdie verkeerde verhouding verander nie, maar alleen op God vertrou dat Hý die verhouding herstel. Dit beteken nie dat God al ons sondes onder die mat invee en met ‘n gerusstellende “toemaar, dit is nie so erg nie en vergeet daarvan nie.” Nee! God is heilig en regverdig, Hy het werk gemaak van die sonde: “God het Jesus gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.”
Maar hoe hanteer ek en jy ons skuld en sondes by God? Ons kan dit nie ontken nie of probeer vergeet nie, want ons gewete pla ons dan. Dit help dalk om erger sondes by ander te soek, dan voel óns dalk beter. Dit neem egter nog nie óns sondes weg nie. Ons kan dit dalk afbetaal, soos skuld op ‘n kredietkaart, maar dit gaan nie werk nie want ons weet nie wat ons skuld en wat die kostes van sonde behels nie. Paulus het weer die antwoord in ons vergelykende teksvers: “Ek word, sonder dat ek dit verdien, op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus ...” So eenvoudig is dit – ek moet net glo in Jesus Christus en aanvaar dat Sy verlossing deur louter genade van God, verniet is! Ek kan nie self my skuld vereffen nie, dit kos te duur – dit het Jesus gekos!
Soos die Israeliete met hulle Ou Testamentiese offers op die groot Versoendag, hulle hande op die kop van ‘n offerdier moes lê as teken van die oordrag van al hulle skuld op die offerdier (Lev. 1:4), so moet ons deur die geloof ons hand op Christus lê om ons skuld op Hom oor te dra en só genade van God ontvang. God het nie die sonde geïgnoreer of ongestraf laat bly, en só Sy geregtigheid prysgegee nie. Hy het ‘n wonderlike ruil gemaak en élke sonde van élke mens, op Sy onskuldige Seun, Jesus Christus, geplaas en Hóm gestraf daarvoor. Jesus neem ons sonde in ruil vir Sy onskuld! In ruil vir Jesus se vernedering, ontvang ons God se heerlikheid! In ruil vir Sy sterwe, ontvang ons die ewige lewe! Is dit nie verruklik nie? Lees dit weer: In ruil ...!
Die implikasie is dat dit wat die mens nie kon doen deur die wet nie, God nou namens ons doen in Christus op grond van Sy soenverdienste! God het self alles gedoen om ons in ’n regte, volmaak geheiligde verhouding met Homself te stel en daarom het ons ‘n nuwe identiteit in Christus. Ons posisie van geregtigheid beteken ons is Koningskinders, ons is skoongewas, geheilig, afgesonder en in ’n perfekte persoonlike verhouding met God gestel. Ons hoef dus nooit in ons verhouding met God te presteer vir Sy aanvaarding of Sy guns op ons lewe nie: “Ons moet sorg dat ons nie van die genade van God afvallig word nie” (Heb. 12:15a). Dit is reeds ten volle ons deel in Christus, ons leef nie ná vervulling nie, maar uit vervulling. Om God te behaag word ons posisie van geregtigheid dan verander in volkome vervulling en vreugde in Jesus.
“O wonderbaarlike Ruiler! O ondeurgrondelike werk van God! O seëninge wat alle verwagtings oortref! Die sondigheid van baie word deur die regverdige EEN verberg, terwyl die regverdigheid van EEN talle wat sondaars is, vryspreek” (Vader Klemens uit die tweede eeu).
Gebed: Here, en ek self, wat kan ek doen om my sonde te versoen? Sou my hart met ywer gloei, my trane ewig vloei – nóg gebede, nóg geween kan my red, Heer; U alleen. Leeg, net met my sondelas, hou ek aan U verdienste vas, omhels ek U, neem ek U aan, vertrou ek op U, glo ek in U, kies ek U as my Redder. Amen.
Comments