Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 30 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (27)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (12)
Sola Fide: deur geloof alleen
Hand. 13:37-39 – “Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek. 38-39 ‘Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.”
Vergelyk ook Rom. 3:21-24 – “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23 Almal het gesondig en is ver van God af, 24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Paulus gebruik die wet en die profete in sy preek om by Jesus te eindig. Die sentrale aspek van sy getuienis is Jesus se dood, en die feit dat God hierdie Jesus uit die dood opgewek het. Deur Jesus uit die dood te laat opstaan, het God al sy beloftes van ouds af vervul. Terwyl die wet mense nie kan vryspreek nie, doen Jesus dit. Die vergewing van sondes, getuig Paulus, kom deur Jesus. Elkeen wat in Hom glo, word vrygespreek van alle sondes. Dit het ’n nuwe oriëntasie van Paulus se luisteraars destyds geverg, en die lyn word deurgetrek na ons toe vandag: Bekering is nodig. Dit beteken geloof in Jesus en die heroriëntering van my en jou lewe aan Jesus Christus.
Nadat ons dan bekeer het, m.a.w. die geneigdheid tot sonde in ons “gesterf” het en ons van die “ou mens” ontslae geraak het, neem die Heilige Gees beheer oor van álles in ons lewe. Die Heilige Gees wat dan binne ons woon, kan nie as ‘n “gas” net in een van ons liggaam se “kamers” woon nie, Hy moet toegelaat word om besit te neem van ál die kamers. Die wisselwerking tussen God se bedoelinge, Jesus se werk en die bemagtiging van die Gees, tesame met hoe ek en jy die evangelie aanvaar en dit toepas, speel alles ’n rol. Die vaste anker in hierdie wisselwerking is die getuienis oor wat Jesus gedoen het, en oor die geloof wat dit vra.
Hoe doen ons dit? Die deel wat ek en jy moet doen is om in die Lig te wandel en dit wat Jesus deur sy Gees aan ons openbaar, te gehoorsaam. Dis ook nie maklik nie, want ons menslike natuur neig steeds tot sonde. Maar as ons eers eenkeer daardie belangrike besluit oor sonde geneem het, is dit maklik om te erken dat ons vir die sonde “dood” is, want ek en jy vind die lewe van Jesus en sy Gees, binne ons!
En nou behoort ons nie meer aan onsself nie, maar aan God se geestelike orde, want ons glo dat die opgestane Jesus, die beloofde Messias en Verlosser is. Ons begryp en erken dat die vergewing van sondes deur Hom is. Elkeen wat glo, word deur Hom vrygespreek van alle sondes waarvan die wet van Moses hulle nie kon vryspreek nie – “... geen mens sal op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is” (Rom. 3:20).
Ons het dus niks waarvan ons voor God vrygespreek kán word nie. Geen verskonings, onderhouding van die wet of selfs ‘n afstammeling van een of ander groot gelowige, gaan ons help nie. My en jou kaartjie hemel toe sal nie afhang of ons afstammelinge van Abraham, gelowige ouers of selfs ‘n vriend van ons predikant was nie. God het ingegryp en Hy het die vryspraak waarvan die wet en die profete getuig, in werking laat tree. Op grond van die soenoffer van Christus het God die sonde klaar vergewe, dit agter Sy rug vir ewig weggewerp.
Dié vryspraak kan nie verkry word deur die wet te onderhou nie, want dan sou dit verdiend wees en eintlik vir ons voel dat dit ‘n beloning is wat ons vir ons eie goeie lewe ontvang. Buitendien, geen mens kan die wet volkome onderhou nie. “Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: ‘Wie deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe” (Gal. 3:11).
God se genade, sou nie aangebreek het as God nie self ingegryp het nie. Daar is één heilsweg wat vir almal, sonder onderskeid geld: “Ons word op grond van God se genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Al wat Jesus vra wanneer Hy ons roep tot oorgawe aan Hom, is om in Hom te glo en volkome te vertrou. Hierdie transformasie is beskikbaar vir elkeen deur die genade van God! God se goedheid is die bron waaruit ons verlossing geskenk word, sonder enige verdienste. Al wat ons moet doen is om ons sondige lewe, aan Hom toe te vertrou. God se eindelose genade is daar om ons eindelose sonde te vergewe en te vergeet, sodat ons in Sy vreugde kan leef. Al is ons sondaars, ons is sondaars wat vergewe is!
“Hierdie een onwankelbare rots, (Sola Fide), wat ons die leer van vryspraak noem ... is die belangrikste artikel van die hele Christelike leer wat aan ons ‘n volledige verstaan van ons kennis van God bied” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Vader, Daar is niks verdiensteliks in wat ek sê of doen nie, maar tog hou U aan om my in U groot genade aan te sien en my deur U krag, van struikeling te bewaar. Heilige Here, dankie dat U my hart en lewe verander het toe ek U as Verlosser en Saligmaker aanvaar het. Amen.
Comments