Gedagte vir Vandag
Vrydag, 26 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (25)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (10)
Die doel van Jesus se opstanding
Hand. 13:32-34a – “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33 vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. 34 God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie.”
Terwyl ek al die aantekeninge van gister se dagstuk bymekaar voeg om die dagstuk te finaliseer, het ek weereens besef hoe belangrik dit vir ons gelowiges, en eintlik vir die mensdom is, dat Jesus opgestaan het uit die dood. Tydens ons besoek aan die tuingraf in Jerusalem waar, volgens oorlewering, Jesus “begrawe” was, het die gids ons meegedeel dat die Lam van God opgestaan het tot ‘n nuwe lewe, ‘n lewe wat Hy voorheen nie gehad het nie. Indien Hy nié opgestaan het nie, hoef ons nie die Bybel te glo nie, dan het Hy verniet gesterf. En toe het Hy die groot waarheid bygevoeg deur na die plek binne die graf te wys en te sê: “Dit is die plek waar hulle die Lam van God neergelê het. Kyk, dis leeg. Net Jesus se graf is leeg omdat Hy opgestaan het. Al die ander godsdiensleiers is dood en hulle oorskot lê êrens steeds in ‘n graf!”
Paulus en die ander apostels het dit besef en sommige van hulle het dit ook gesien, daarom het hulle aan die mense van die destydse wêreld beklemtoon dat Jesus leef. Hulle woorde eggo steeds vandag, en indien ons ontken dat Jesus leef, is ons in groot moeilikheid! Of ons gids by die tuingraf Oswald Chambers aangehaal het, weet ons nie. Oswald sê: “Ons Heer het uit die dood opgestaan tot ‘n nuwe lewe – ‘n lewe wat Hy nooit voorheen geleef het voordat Hy God in die vlees geword het nie (Joh. 1:14). En wat Sy opstanding vir my en jou beteken, is dat ons opgewek word tot Sy opgestane lewe, nie tot ons ou lewe nie.”
Eendag sal ons ‘n liggaam soos Jesus, ‘n verheerlikte liggaam na Sy opstanding hê, maar wat van nou, vandag, terwyl ons nog op aarde leef? Die Heilige Gees is tans besig om elkeen wat die waarheid van Jesus se opstanding uit die dood eerlik bely, voort te gaan om die krag van die versoening wat Jesus aan die kruis verwerf het, in ons lewe aan te wend. Dankie tog, dankie Jesus, dankie Gees! “Nou kan ons met vrymoedigheid na die genadetroon gaan om barmhartigheid en genade te ontvang en gered kan word ...” (Heb. 4:16). Kan ons regtig vrymoedig wees by God? Hy weet dan alles van ons af. En hier spook al die vrae van gister se dagstuk weer by my!
Ja, ons kan vrymoedig wees by God, omdat ons nie alleen voor God staan nie. Ons het ‘n Hoëpriester wat vir ons by God intree. In Jesus se geselskap kan ons tuiskom by God. Jesus as ons Hoëpriester verstaan ons deur en deur. “Hy is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie ...” (Heb. 4:15). Omdat God ons so goed verstaan, só goed weet hoe versoekings op ons druk en ons kan breek, het Sy Seun mens kom word om hierdie lot met ons te kom deel. Jesus het deernis met ons oor die ellende waarin ons vanweë ons sonde beland het. Maar, Hy het ons ellende op Hom geneem en in ons plek gaan staan om dit te aan die kruis te dra.
Sjoe, ek kan nie dink aan ‘n beter weg waardeur ons Vader vir ons vrye toegang tot Hom kon gegee het as deur sy Seun, ‘n Lam met sy saggeaardheid om ons harte vir Hom te wen nie. Omdat God Jesus tot sy troon verhef het, het ons nou deur Sy bloed die volkome vrymoedigheid om na die genadetroon te gaan met die volle versekering dat Jesus klaar vir al ons sondes betaal het!
Dit laat my dink aan ‘n kind wat seerkry. Hulle hardloop gewoonlik na mamma toe om te help. ‘n Pleister doen die ding partykeer maar ander kere is ‘n soen of drukkie en ‘n tissue om die trane af te vee, net die beste medisyne. Die beskermende arms van die ouers óm hulle, bring kalmte en troos! Net so het ek en jy die beskermende arms van die Here nodig om ons te vertroos. Veral wanneer ons ons nerfaf val teen die sonde of struikel oor ‘n probleem. Dan is die Here daar om te troos. Ons Almagtige Vader het immers Sy uiterste gedoen om ons na Hom toe te trek en ons die hemelse vrymoedigheid te gee om Jesus aan te neem, om met vrymoedigheid na die genadetroon te gaan want ek en jy weet, God weet alles van ons af, maar dis nie ‘n bedreiging nie. Inteendeel, dis ons enigste hoop!
“Ons kan almal weer ‘n kans kry, ‘n kans om op te staan veral wanneer die lewe ons platgeslaan het. Dit is wat Jesus se opstanding uit die dood vir ons moontlik maak – genade! God se genade in Christus”
(Coenie Burger).
Gebed: Genadige Vader, wat kan ek sê? Nee, ek wil nie sê nie, ek wil sing: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort al die lof en die eer.” Amen.
Comentarios