Gedagte vir Vandag
Donderdag, 25 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (24)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (9)
Leef elke dag reg in die geloof
Hand. 13:32-35 – “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33 vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. 34 God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het. 35 Daarom sê God ook op ‘n ander plek: U sal nie toelaat dat U troue dienaar vergaan nie.”
Paulus se toespraak bereik sy kernpunt wanneer hy fokus op Jesus as die opgestane Verlosser. God stuur Paulus en Barnabas om hierdie boodskap van verlossing aan die nakomelinge van Abraham te bring – “Abraham, vader van ons almal” (Rom. 4:16), vader van die gelowiges. Paulus sluit nie net die teenwoordige godvresendes in nie, maar almal wat in Jesus Christus glo (Rom. 10:9). Die Jode het Jesus om die lewe gebring, maar God het dieselfde Jesus uit die dood opgewek. God het hierdeur die planne van die Jode verydel en het deur die opstanding van Jesus, duidelik bewys dat hulle veroordeling van Hom sondig was.
Hy, Jesus van Nasaret, wat onder die mense van sy aardse tyd, in die stofstrate van veral Galilea en Judea beweeg het, is inderdaad deur God opgewek en só die dood vir ewig oorwin, “en daarom sal Hy nooit vergaan nie.” God se werk aan Jesus is volkome! Geen Jood of Romein of enigiemand, sal iets aan Hom kan doen nie! Sy oorwinning is volkome! Die heilige en betroubare beloftes wat God aan Dawid toegesê het, bestaan daarin dat God aan Dawid ’n seun beloof het, wat tot in ewigheid op sy troon sal sit (2 Sam. 7:12 e.v.). Die ewige Messias wat nie kan sterwe nie, is die groot verbondsweldaad wat God aan ons gegee het waarvoor Paulus Psalm 2:7 as bewys aanhaal saam met ’n samestelling van ’n hele paar ander Skrifgedeeltes (Jes. 55:3; Ps. 16:10; Hab. 1:5).
Die Jode het gedink hulle het God se planne omvergegooi toe hulle sy Seun doodgemaak het. Tog was dit vir Hom niks om die dood te oorwin nie. Deur Jesus se opstanding het die dood vir ewig sy mag verloor en God se plan ontvou steeds. En alhoewel mense altyd teen Hom sal saamsweer, sal hulle nooit suksesvol wees nie. Jesus kom weer, en Hy sal oor alles Koning wees. Soos altyd kan ek en jy kies aan wie se kant ons wil wees. Ons het steeds die keuse of ons Jesus as God se Seun sal erken of nie. Ons moet egter onthou: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is. Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (Rom. 14:11-12).
Die feit bly staan dat elkeen sélf, eendag voor God rekenskap moet gee. Die hartklop van ons gelowiges se alledaagse bestaan, is om selfondersoek te doen of ons wel in die geloof lewe. Leef ons wat ons voorgee ons is; doen ons wat ons glo; is Christus se teenwoordigheid sigbaar in ons daaglikse optrede; word ons verbondenheid aan Christus in ons geloofsvertroue weerspieël? Oor hierdie vrae sal elkeen vir hom- en haarself aan God rekenskap moet gee. Is ons regtig gereed om eendag aan God rekenskap te gee?
Christus is ons volmaakte voorbeeld. Hy roep ons om ons lewe aan Hom oor te gee en wanneer ons dit doen, word ons al hoe meer sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Dan leef óns nie meer nie, maar Christus leef in ons. Ek en jy word minder terwyl Christus meer word. Die Gees sorg dat elke masker wat ons dra, voor God afgehaal word. Hy ontmasker al ons motiewe en laat ons voor God staan en vra: “Glo ek regtig in Christus; het ek Christus werklik lief; vertrou ek Christus; is ek aan Christus verbind; leef ek in gemeenskap met Christus; is ek werklik die tempel en plek waarin Jesus Christus elke dag leef; glo ek regtig dat Jesus Christus sy lewe aan die kruis afgelê het om die volle losprys vir al my sondes te betaal; glo ek dat ek niks verdien nie en net met Sy verdienste voor God staan?” Sjoe! Moeilike vrae om opreg te beantwoord.
Indien ons antwoord ja is op al die bogenoemde vrae, (en eintlik weet ons dit is onmoontlik), besef ons opnuut weer dat die Heilige Gees ons in die waarheid omtrent onsself lei, nie net hoe groot ons sonde is nie, maar ook hoe eindeloos en volkome die liefde van God is. Is dit nie ‘n wonderlike troos nie? Indien ons vashou aan die geloof in Christus wat ons bely, tree Hy as ons Hoëpriester in vir ons wanneer ons stukkend voor die hemelse poorte opdaag. Hy dra ons tot voor God se genadetroon, waar Hy namens ons met God praat en sorg dat ons vergifnis ontvang! Daarom kan ek en jy “dan met vrymoedigheid na die genadetroon gaan, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:16). Ons lewe is nie in ons hande nie, ons moet só leef dat ons nie onverhoeds gevang word nie. Genadetyd is nie onbeperkte tyd nie, dis God se ekstra tyd aan ons om reg te maak, daarom moet ons elke dag reg leef!
“Ons mislei onsself wanneer ons Jesus en Sy evangelie klee in óns idee van geregtigheid en Hom dan in ons eie naam volg” (Cornelius Plantinga).
Gebed: Here, weerhou my daarvan om ‘n bordjie om my nek te hang wat sê hoe vroom ek is of hoe godsdienstig ek is. Gee eerder dat iets van U karakter in my sigbaar sal word. Troos my met die wete dat U vergewe, dat U geduldig is met my. “U, Skepper-Gees, kom by my bly, dring my om my aan God te wy. Leer my om met hoop te sug, my oë op ons Heer te rig” (Liedboek 433:4). Amen.
Comentarios