Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 23 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (22)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (7)
God is ons krag in ons swakheid
Hand. 13:23-25 – “Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. 24 Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. 25 En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.”
Paulus gaan voort om die Jode en godvresendes in Antiogië toe te spreek. Hy ignoreer die res van die geskiedenis van Israel en spel Johannes die Doper se optrede uit as die voorbereiding vir die koms van Jesus, die Een wat uit Dawid se nageslag as Verlosser vir Israel, gebore is. Uit Dawid se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus na Israel as Verlosser laat kom om hulle van hul sondes te verlos, en Hy moet deur hulle in Antiogië ook so aanvaar word.
Paulus gee dan ‘n kort oorsig van wat gebeur het vanaf die optrede van Johannes die Doper tot die verskyning van Jesus. Die Doper het baie duidelik te kenne gegee dat hy net die voorloper van die Messias was. Hy was eintlik ‘n “... niemand – Hy was die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit” (Joh. 1:23). Hy is maar net die stem wat uitroep; sy persoon is van geen belang of betekenis nie. Hoofsaak is sy boodskap: die oproep om die weg vir die Messias voor te berei en die Jode tot dringendheid op te roep om hulle te bekeer (Luk. 3:7-14). Die Messias sou ná hom kom, en was soveel groter as hy dat hy nie eers waardig genoeg was om “sy skoene los te maak nie,” ’n werk wat slegs deur slawe gedoen is.
Ek dink dis menslik om soms soos die Doper, onwaardig te voel wanneer ons in God se geselskap is. Dis menslik om oor ons swakhede na te dink en sommer besluit dat God ons nie kan gebruik nie. Dis egter nie waar nie. God word nie deur ons beperkings beperk nie! Al is ons broos en vol foute en “soos kleipotte wat maklik breek, kom die krag wat alles oortref van God, nie van ons nie” (2 Kor. 4:7). Die Bybel wemel van voorbeelde hoe God graag onvolmaakte, gewone mense soos ek en jy, gebruik om ondanks hulle swakhede, buitengewone dinge te laat doen.
Die groot sendeling Hudson Taylor het dit goed opgesom: “Al God se reuse was swakkelinge!” Moses se swakheid was sy humeur – Egiptenaar doodgeslaan; rots geslaan toe hy daarmee moes praat; kliptafels met die Tien Gebooie gebreek – tog het God hom in ‘n uiters “sagmoedige man” verander (Num. 12:3). Gideon se swakheid was sy selfbeeld en onsekerheid, maar God het hom in ‘n “dapper man” verander (Rigters 6:12). Abraham se swakheid was sy vrees. Hy het sommer twee maal beweer sy vrou is sy suster om homself te beskerm. God het hom in “die vader van ... almal wat glo” verander (Rom. 4:12). Die verloënaar Petrus het “’n rots” geword (Matt. 16:18). Die owerspeler Dawid was “’n man na God se hart” (Hand. 13:22). Dis ‘n baie lang lys. Ons sal soos die Hebreërskrywer daarna verwys dat “hulle in swakheid krag ontvang het” (Heb. 11:32-34).
In my gedagtes sien ek ‘n prentjie van ’n baba wat wil probeer loop. Dis baie keer se val en opstaan voor die baba dit regkry. As die baba halfpad deur die gevallery tou opgooi, dan gaan die baba nooit leer loop nie. En so baie mis. Net so moet ons nie moed opgee nie. Ons moenie mismoedig met onsself word nie. Ons moenie in die klomp kere se val vaskyk nie, want as ons dit doen, sal ons net mismoedig word en op die ou end in die swart gat beland en vasklou aan die minderwaardige gevoel van ‘n swakkeling.
Ons moet eintlik kyk na al die kere se opstaan. Op een of ander stadium in ons lewe moet ons besluit of ons mense wil beïndruk of beïnvloed. Dit sal ons help om, wanneer ons dalk volgende keer weer val, vinniger op te staan, want ons weet ons kan. Ons het almal nog ’n goeie skoot van die sondeval weg. Ons moet besef dat ons wel nog hier en daar gaan glip. Ons moet dit egter nie as ’n verskoning gebruik nie, maar eerder as aanmoediging om regtig te probeer om teen die swakheid op te staan en staatmaak op “die Heilige Gees wat ons in ons swakheid bystaan” (Rom. 8:26).
Ons maak soms die fout dat ons die reg het om self te besluit oor wie en wat ons wil gehoorsaam. Maar God bly in beheer. Vat nou vir Jakob. God het juis sy sterkpunt (die dyspier is die liggaam se sterkste) aangeraak en dit in ‘n swakheid verander. Jakob kon nie meer weghardloop nie en hy moes hinkepink verder deur die lewe gaan en teen wil en dank is hy gedwing om God te vertrou. Ons kan nie God se mag probeer beperk nie. Ek meen, niemand is in ‘n beter posisie om te weet tot waartoe ons instaat is, as die Een wat ons gemaak het nie. Wanneer God in sy Woord opdragte gee, weet Hy al wat die uitkoms gaan wees. Ek en jy moenie huiwer om dit te gehoorsaam nie. God weet wat die beste vir ons is. En, after all, met respek, Hy is darem God!
“Swaarkry is dikwels die gehoortoestel waarmee ons God se stem helderder hoor. Alles hang af van hoe ons daarop reageer” (Kobie Linde).
Gebed: Here, help my om my swakhede te erken en deur U Gees wat my bystaan te hanteer. Dis so moeilik, Here, maar dit is wat U eer gee, en ek weet U sal my met die gevolge help. In Jesus se Naam. Amen.
Comments