Gedagte vir Vandag
Maandag, 22 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (21)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (6)
God het ons geskep so na sy hart
Hand. 13:20b-22 – “Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. 21 Toe die Israeliete daarna ‘n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. 22 Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai ‘n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.”
Die raadslede van die sinagoge in Antiogië in Pisidië, versoek Barnabas en Paulus om ’n woord van bemoediging te bring. Interessant dat dit Paulus is wat hier aan die woord kom, uit eie keuse, terwyl bemoediging, Barnabas se bynaam, al so ingeburger geraak het dat dit sy naam geword het. Paulus se toespraak is in vier dele met ’n baie sterk klem op die opstanding van Jesus, as die kern van die hele geskiedenis van die Israeliete.
Hy begin by die geskiedenis van die aartsvaders se verblyf in Egipte, waardeur God hulle ’n groot volk gemaak het. Hy vertel die geskiedenis van die Eksodus en die woestyntyd en lê klem op God se geduld. Die Intog word kortliks vertel in terme van die sewe nasies wat God uitgewis het om die land aan hulle te gee. In die hooftrekke van die geskiedenis beklemtoon Paulus God se rol en aandeel: God het sy volk uitgekies! Paulus se vertelling vorder deur die Rigtertyd tot by die profeet Samuel en die koningsgeskiedenis wat daarna ’n aanvang neem met Saul (Paulus was uit sy nageslag en het trouens sy naam gedra) en sy opvolger, Dawid, die man na God se hart (Ps. 89).
Ons almal kom een of ander tyd by ’n kruispad te staan waar ons die vraag vra: Wat maak ek nou eintlik hier? Wat is my doel op aarde? Hoe word ek soos Dawid, ‘n man na God se hart? En dikwels word die antwoord weggejaag met ’n minderwaardigheidsgevoel wat oor ons neerdaal. Ai, dis nie lekker om op so ’n plek te wees nie. Maar dan onthou ek ‘n vers waar God ’n idee oor my gehad het nog voordat ek gebore is. Hoor hoe mooi is die lirieke van Dawid se loflied in Psalm 139:14-15 – "Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.”
Sjoe! Dis wonderlik om te weet dat God nog voor my geboorte al betrokke was by my. Nog voor ek aanmekaar geweef is, het Hy al die volmaakte prentjie van my in Sy gedagtes gehad. Ek dink, met respek, Hy was opgewonde oor my koms. Hy het my dag vir dag in my moeder se skoot gevorm met ’n baie spesifieke doel. Elke dag het Hy geloer om te sien wat het groter geword en wat het bygekom. Verwonderd het Hy gekyk na my ontwikkeling en groei.
Ek stel my voor hoe Hy nie kon wag dat ek my eerste asemteug gee nie en toe daai eerste skree kom, kon Hy Hom nie inhou nie en het uitbundig gelag, van vreugde, van opgewondenheid en van tevredenheid. In my geestesoog sien ek hoe God vir Jesus ’n high five gee. Dan spring ek weer uit my gat van minderwaardigheid. Ek is gemaak deur die lewende God. Dit was Sy idee dat ek op die aarde is en daarom het ek waarde. Ek ontvang dus nie my waarde oor wie ek is of wat ek doen nie, maar ek ontvang my waarde van God. Die Een wat my gevorm het en lewe in my geblaas het.
En omdat God my gemaak het, weet ek daar is ook ’n plan vir my lewe. Ek is nie sommer net toevallig hier waar ek nou is nie. Nee, God het vir my en elkeen van ons ’n spesifieke taak wat ons hier op die aarde moet uitvoer. Ons hoef nie op ons eie te probeer om dit te doen nie. God sal met Sy Gees in ons werk. Dit is dan juis die Heilige Gees wat ons sal help om in gehoorsaamheid aan ons Vader te leef. Ons moet so leef dat die Heilige Gees op ’n manier die stuur kan oorneem. Dan sal ons die dinge van ons Vader wíl doen.
Ons moet met die hulp van die Heilige Gees elke dag probeer om nader aan God se beeld vir ons te kom. Ons moet versterkings inkry. Ons moet bid. Met die krag van Bo sal ons al hoe nader aan God se ideale prentjie vir my en jou kom en sal ons al hoe meer dinge doen wat God gelukkig maak. Dis nou my en jou verantwoordelikheid om by God seker te maak wat Sy plan is. En dan moet ons in aksie kom om God se plan vir ons lewe voluit uit te leef, sonder enige onsekerheid oor ons waarde in God se oë.
“God se wil vir ons is dat ons elke dag op sy krag sal vertrou. Sy wil vir ons is die sekerheid dat alles reg is omdat Hy reg langs ons is, binne ons is” (William Barclay).
Gebed: Vader wat in die hemel is, dankie vir die wete dat U reeds aan my gedink het nog voordat selfs my ouers aan my gedink het. Dankie dat ek waarde het. Dankie dat ek ’n roeping het, ’n plan wat U vir my lewe het. Help my om dit uit te leef. Amen.
Comments