top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 19 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (20)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (5)


Los die verkeerde leefstyl en wêreldse begeerlikhede


Hand. 13:17b-20a – “God het die volk deur sy groot mag daarvandaan (uit Egipte) uitgelei 18 en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19 Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20 Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar geduur.”


Vergelyk ook Titus 2:11-15 – “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag ...”


Vergun my om vandag weer aan te sluit by gister se dagstuk en Ds. Pieter Theron se preek. Alles wat ons het en is, is onverdiende genade. Tog lewe die meeste van ons gelowiges asof ons nie ‘n benul het wat genade beteken nie. Sommige bly maar om vas te klou aan die verdienstesisteem. Ons wil met ons goeie dade bewys, en die prys vir ons sonde betaal om vir ons ‘n plekkie in die hemel te verseker. Ongelukkig, of gelukkig, werk dit nie so nie. Wanneer ons probleme, terugslae en teleurstellings ondervind, moet ons onthou dat God volle beheer oor ons lewe het. Vanweë Sy ongeëwenaarde liefde en genade het alles wat met my en jou gebeur, ‘n heilige doel.


Ons het nie gearriveer die dag toe ons vir Christus ontmoet het en Hom as ons Verlosser aanvaar het nie. Dit was nie die eindpunt nie, maar eintlik die beginpunt. Die begin van ’n nuwe lewe waar ons stukkie vir stukkie die doen en late van die ou mens afkap en ’n nuwe manier van lewe aanleer. Hy “voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe.”


Toe ons die dag die Here in ons lewens ingenooi het, het al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, nie sommer net by die agterdeur uitgemarsjeer nie. Die verkeerde goeters in ons lewe het so deel van ons geword, dat ons nie eens lekker weet dat dit nie by ons pas nie. En ons kan vir seker nie so aangaan nie. Ons kan nie op die ou paadjie bly stap nie. Toe ons Jesus ingenooi het, het ons nuwe planne vir ons lewenshuis ontvang. Stukkie vir stukkie word die nuwe planne vir ons gewys.


Daardie ongemak wat ons ervaar as ons nog die ou dinge doen. Daardie stemmetjie wat ons hoor as ons dinge doen wat nie by die nuwe planne inpas nie – die ou mense noem dit jou gewete. Dit is alles maniere wat ons help om die verkeerde dinge in ons lewe raak te sien. Daardie dinge moet ons systap. Stukkie vir stukkie moet ons hulle afbreek en uit ons lewe verwyder, want dit pas eenvoudig net nie meer by ons nie. Alles wat goddeloos is, moet met wortel en tak uitgeroei word. Al die “begeerlikhede” van die vlees wat ’n mens in die modderstrate van die lewe wil inlok, moet vervang word met “selfbeheersing” en sodoende ‘n dieper verhouding en toewyding aan Hom wat soveel genade betoon, begin leef.


So maklik raak verkeerde dinge deel van ons leefstyl, want dis mos die lekker dinge. Maar dit foeter alles op. Daarom moet ons seker maak dat sonde en die ou natuur nie sy intrek neem nie. Met behoeftes is daar niks verkeerd nie. Dit is dinge wat ons nodig het om deur die lewe te kom, baie daarvan ter wille van oorlewing. Die probleem kom in wanneer ons toelaat dat die behoeftes so knaend raak dat dit oorgaan na begeertes toe. So maklik kan ’n begeerte ons in ’n hoek vasdruk, baie van ons steel en ons totaal en al van die pad af druk. Ons moet hard werk om ons behoeftes te vervul, maar die begeertes moet ons liewer los, want soos ons nou al weet, “wêreldse begeerlikhede” vernietig en verwoes ons en ander om ons.


Dit het dalk weer tyd geword om êrens te gaan stil word en seker te maak dat begeertes nie in ons lewens sy lêplek kom kry het nie, want voordat jy jou kom kry, kan die behoefte in ’n begeerte ontwikkel en lê verwoesting net om die draai. Kom ons kyk ‘n bietjie om ons rond en snuffel die verkeerde dinge uit. Watter Godlose dinge is daar in ons lewe? Waar is ons lewenswyse van die pad af? Wat is ons regruk-aksieplan “terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag ...?”


“Al die eienskappe van God is gelyk in hulle wonderbare grootheid, maar sy genade, wat aan moedswillige sondaars vergifnis gun en hulle telkens nóg ‘n kans gee, skyn sekerlik nóg helderder as al die ander”

(Miguel de Cervantes).


Gebed: Hemel Vader, daar is party dinge waarvoor ek maar net nie “nee” kan sê nie. wys my asseblief die dinge waarvoor ek blind is, wat nie by U plan vir my inpas nie. Help my asseblief om vry te kom, sodat U my beheer en ek nie agter elke begeerte wat in my hart opkom, aanloop nie. Help my asseblief om my lewenswyse te verander en die nuwe mens te word wat U my gemaak het om te wees. In Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page