Gedagte vir Vandag
Woensdag, 17 Mei 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (18)
Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (3)
Wat ek is, is net genade
Hand. 13:16-19 – “Paulus het opgestaan, met ‘n handbeweging aandag gevra en gesê: ‘Israeliete en godvresendes, luister!’ 17 Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle ‘n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei 18 en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19 Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20 Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur.”
Ná die voorlesings uit die Skrif en profete, is Paulus en Barnabas gevra om ’n woord van bemoediging in die sinagoge te spreek. So open die Heilige Gees die geleentheid vir Paulus en Barnabas om die evangelie van Jesus te verkondig. Paulus neem die leiding, staan op en wys met sy hand dat hy ’n woord het en vra daarmee stilte. Hy spreek die gehoor aan en vra die Israeliete en godvresendes om te luister. Die godvresendes is persone uit die heidendom wat hulle heidense afgode verwerp en in die God van Israel geglo het. Hulle het die dienste in die sinagoges bygewoon, maar nog nie die noodsaaklikheid van die besnydenis en sommige ander Joodse gebruike en wette aanvaar nie.
Paulus begin sy preek met die verlossingsgeskiedenis van hulle voorvaders wat begin het met Abraham; die verbondsbevestiging met Jakob, en die Here sy naam verander het na Israel (Gen 28:13-15; 32:28). Tydens Israel se verblyf as vreemdelinge in Egipte was hulle magteloos teen die magtige Egipte, maar in Sy vrymagtige genade het die Here, tydens hulle verdrukking, van hulle ’n groot volk gemaak. Daarna het God hulle uit hulle slawerny bevry, vir ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur, ten spyte van die opstandige en trouelose manier waarop hulle Hom behandel het (vgl. Num. 14:27,34).
In Kanaän het God hulle ook nie in die steek gelaat nie en die sewe nasies daar laat uitdelg en hulle land vir Sy volk as ’n kosbare gawe gegee. Eintlik is Paulus besig om die Jode in Antiogië daaraan te herinner dat alles wat hulle is, deur die genade van God tot stand gekom het. En hy was die perfekte ou wat vir hulle oor God se genade kon vertel. In sy BC (before Christ) dae, was hy ’n fanatiese Jood en het die kerk van daardie tyd slaafs nagevolg en met alles in hom verdedig. Alhoewel hy nie vir Jesus ontmoet het nie, het hy dit op homself geneem om Jesus se volgelinge van die aardbol af te vee. Hy het dit op homself geneem om dié Jesus-sekte tot ’n val te bring en hier sou hy nie mooi te werk gaan nie. Inteendeel. Hy het soos ’n besetene aangegaan en die volgelinge van Jesus met die dood gedreig, belaster en vervolg (Hand. 9:1).
Die ou by wie ons so baie leer, by wie se voete ons jare lank sit om te leer van Jesus en hoe ons vandag moet lewe, se prentjie van sy verlede lyk nie so mooi nie. Paulus lyk beslis nie na die beste kandidaat om Jesus se storie en die manual vir die volgende eeue vir Jesus se volgelinge vas te pen nie. Ek is seker daarvan dat daar baie beter mense met baie beter CV’s was om die werk te doen. Dalk ’n paar universiteit proffies wat die oer teks beter verstaan en die geskiedenis ken.
En tog kies God vir Saulus om hom daar op die Damaskus pad te ontmoet en hom te oorspoel met Sy liefde en genade. Soveel so dat God selfs sy naam verander en toelaat dat hy vir ’n paar dae nie kon praat nie. Dís wat kan gebeur as ’n mens in God vasloop. Paulus getuig verder: “Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om in sy diens te stel, al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus” (1 Tim. 1:12-14).
Lyk my en jou CV nie ook dalk soos Paulus s’n nie? Of dalk ’n CV waar ons soos Koos Doep se gebed, so hard probeer om die lewe reg te loop, maar as ons ons weer kom kry, het ons ’n afdraaipaadjie geneem en totaal verdwaal totdat ons loop sit het en vir God gewag het om ons te kom haal. En wanneer ons weer veilig in God se arms rus, besef ons een ding: “Wat ek is, is net genade.” Ons kan hoe hard probeer. Ons kan die grootste drome hê en in die sweet van ons aangesig hard werk, maar as ons nie omring word met God se genade nie, m.a.w. as God nie in ons lewe ’n rol speel nie, as ons nie oorspoel word deur God se goedheid nie, het ons groot moeilikheid.
“Genade is duur omdat dit die prys van ‘n mens se hele lewe kos; en dit is genade omdat dit in ruil vir jou lewe die enigste ware Lewe bied” (Dietrich Bonhoeffer).
Kom ons sê dit reguit vir mekaar: Ek en jy is 100% afhanklik van God se genade en goedheid. Daarsonder sal die lewe maar sukkel. Daarsonder sal ’n gelukkige, vreugdevolle lewe ons die heeltyd systap. Ja, soms met lyding ook. Laat ons dan nou vir hierdie genade vir mekaar bid. Laat ons God vra om ons geliefdes te oorstroom met Sy genade, want ons het vragte daarvan nodig. Daarom bid ek vandag graag vir jou: Mag die Here wat vrede gee, jou altyd in alle opsigte vrede gee! Mag die goedheid en genade van ons Here Jesus Christus oor jou reën, vandag, môre en oormôre. Die Here sal by julle wees! (2 Tess. 3:16-18). Amen.
Comments