top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 16 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (17)

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië (2)


Evangelie in aksie


Hand. 13:14b-15 – “Op die sabbatdag het Paulus en Barnabas na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15 Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: ‘Broers, as julle vir die volk ‘n woord van bemoediging het, praat maar.” (2)


Ons het gister gewonder waar ons sou begin as iemand in ‘n vreemde kerk wat ons besoek, vra om ‘n woord van bemoediging te spreek. Ons het daarom gedink dat die kern van die liefde, ‘n samevatting van die gebooie is en het toe die liefde tot God wat die eerste tafel van die wet van Moses saamvat, bespreek. Naas die eerste gebod oor die gerigtheid van die liefde tot God, stel Jesus ’n tweede wat ewe belangrik is. Dit is die samevatting van die tweede tafel van die wet, naamlik die gebod van liefde tot die naaste. Dit is nie ’n gebod tot selfliefde nie, maar fokus volledig op die ander persoon, wat ook die vreemdeling insluit.


Alles in God se koninkryk draai om liefde tot God en die naaste. Liefde is nie bloot ’n emosie nie, dit beteken ook nie presies dieselfde in beide gevalle nie. Teenoor God behels liefde gehoorsaamheid, verering en toewyding. Maar teenoor die naaste omvat dit barmhartigheid, konkrete diens wat die naaste se welsyn en heil beoog, ongeag die naaste se inherente waarde. Hierdie eis van radikale liefde as vervulling van die wet is die wesenlike evangelie in aksie!


Jesus het ons die grootste daad van liefde kom wys en dit is om as onskuldige, vir die skuld van ander te kom sterf. Is dit nie dalk waar ek en jy ook moet begin nie? Om liefde vrylik uit te deel moet ons eers van die eie ek in ons lewe ontslae raak. Die eie ek moet eers sterf, want dan eers kan ons gee, sonder om te vra what’s in it for me? Dan kan ons uitdeel, sonder om te kla oor die pyn om jou eie goed net so weg te gee. Dan kan ons onwillekeurig onsself opoffer sonder om iets terug te verwag. Liefde wat opoffer. Liefde wat gee. Liefde wat ’n stukkie van jouself gee.


“Ons moet ons naaste liefhê soos onsself” is eintlik ‘n opdrag van Jesus. Dit is egter nie so maklik nie, want ons sien nie altyd die nood van ander mense raak nie. Gerjo-Ben vertel van Karen wat anders is, wat wel die nood van ander raaksien: “Ek werk by ’n droëvrugte- en neutemaatskappy. Daar het ’n onbekende vrou van Brakpan gebel om met die CEO te praat. Sy het die hele naweek na hom gesoek en toe kom sy weer by my uit. Ons begin praat en sy vertel my sy het ’n gestremde dogter wat droëvrugte nodig het, maar kan dit nie bekostig nie. Die dogter drink baie pille en sy sukkel met hardlywigheid. Toe begin ek vir haar pakkies stuur. Ek noem dit net omdat die Here so vir ons sorg. Nie omdat ek die pakkies stuur nie.”


God gebruik gewone mense om ’n ware verskil in ander se lewens te maak. En die verskil wat in ander se lewens gemaak word, word aangevuur deur die wet van Jesus: wees lief vir jou naaste soos vir jouself. As ons almal net hierdie een wet kan uitleef, sal die wêreld soveel anders lyk. Ek dink dat ons die uitleef van die wet nie orals sien grondvat nie, is omdat ons nie altyd lekker weet wie almal ons naaste is nie. Die meeste van ons dink dat ons naaste die mense daar anderkant is, weet nie regtig waar nie, maar dis miskien die “hulle” van die wêreld.


Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Is die meeste van ons se naamlys van vyande nie ook dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Maar ... ek kán nie só lief hê nie! Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder, moor en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie. Die beslissende vraag is dalk nie meer wie is my naaste nie, maar, van wie is ék die naaste? Waar het iemand my nodig; waar kan ek tot hulp wees; waar vestig iemand sy hoop op my, dat ek tyd aan hom sal bestee? Luther het dit nogal mooi gestel: “Vir wie moet ek die Christus wees?”


Ons Koninkrykskinders is anders! Ons is nuutgemaak! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels, in Sy vrede ingesluit kon word! Dis my en jou verantwoordelikheid om Sy liefde in die wêreld ten toon te gaan stel. Is ons bereid om onsself te gee? Is ons bereid om Jesus se opofferende liefde in die krom strate van die wêreld te gaan leef? Dalk moet ons nie te vinnig antwoord nie, want dit is nie so maklik nie. Miskien is dit beter om eers rustig te gaan sit en die Heilige Gees te vra om my en jou te help met die antwoorde, om Hom in ons midde te roep en opnuut besef dat Hy altyd oorweldigend teenwoordig is. En waar dit gebeur, sal ek en jy ons naaste ontdek, want die wonder van Jesus se liefde en Sy voorbeeld, sal die wonder van die liefde in ons verander.


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (CS Lewis).


Gebed: Vader, dankie dat U vir my hierdie liefdesriglyne gegee het in U wet. Here, U weet self hoeveel keer ek al misluk het om hierdie riglyne toe te pas want ek is nog steeds selfgerig. My gewete kla my aan want ek sukkel om myself te verloën. Maak my bereid om my lewe oop te stel vir U genadige invloed en die Gees toe te laat om my te leer hoe om liefde te wys en te gee, hoe om dit op straat uit te leef. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page