top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 8 Mei 2023

Koos Espach


Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (11)

Barnabas en Saulus preek op Siprus (9)


Moenie jou ore uitleen aan vals leermeesters nie


Hand. 13:6 – “Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ‘n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy ‘n profeet is.” (5)


Vergelyk ook 2 Tim 2:16 – “Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal” (Die Boodskap).


Ons het Dinsdag, 25 April net voor ons met vakansie vertrek het, afgesluit met die opmerking dat ons saam met die Heilige Gees die ouens sal uitsnuffel wat bog praat. Ja, saam met die Heilige Gees sal ons by die enigste Waarheid uitkom. “Hy sal ons laat besluit wat ons moet sê en dink en doen” (1 Tess. 5:21- Die Boodskap). Ons sluit vandag af met “vals profete”, hulle “wat voorgee dat hulle profete is.”


Paulus gaan verder en waarsku ons in die vergelykende teksvers dat ons nie ons tyd moet mors met mense wat allerhande praatjies versprei waarvan God niks hou nie. Gill (e-Sword) slaan die spyker op die kop met die verduideliking van die woorde van vals profete: “Die bediening van valse leermeesters is niks meer as ’n gebabbel nie. Dit is net ’n stem wat klanke maak en niks meer nie. Hulle monde maak wel klanke en spoeg woorde uit, maar daar is geen betekenis daar agter nie. Dit is ’n stortvloed van woorde van nietigheid – soos groot borrels water wat groot lyk en baie geraas maak, maar wat niks in hulle het nie. Dit bevat niks anders as leë onbenullighede. Dit is niks meer as ’n nul op ’n kontrak nie. Dié woorde van die vals leermeesters hou geen wins vir enige iemand in nie.”

Dit is nie nodig dat ons na na die woorde van vals predikers hoef te luister nie. Maar die probleem is dat daar vandag so baie verskillende leermeesters is dat ons nie meer weet wie is nou reg en wie is besig om die waarheid te verdraai nie. Dis asof die waarheid en die onwaarhede so verweef is dat ons nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie.


Iemand het die volgende vertel: “Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na die volgelinge van Jesus om hulle te verlei. Die vyand kom met mooi woorde en sagte geaardhede, hulle is nie nors en ongeskik nie. Hulle verdraai die Woord van God op klein subtiele maniere, bring leringe in wat nie honderd persent Bybels is nie en die mense loop soos blinde skape agter hulle aan. Dis ‘n fout! Ons moet terugkeer na God se Woord en vashou aan die waarheid. Ons moenie vir ons predikers en profete aanstel om ons ore te streel nie. Jesus self het baie gepraat oor die eindtyd en die vals profete/predikers. Die Here is bekommerd oor Sy volk. Hulle slaap en die herders lei hulle nie na Sy wil nie. Die herders sus hulle aan die slaap en sê: ‘Vrede en rustigheid’ terwyl daar min tyd is. Sover ek kan sien, het elke apostel in hulle briewe gewaarsku oor die afvalligheid wat kom en die gevare en beproewinge wat vir ons voorlê.”

Dit bly ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ek en jy ons ore leen vir die regte woorde. Ons kan nie sê dat ons prediker darem soveel grade het en hy het immers by dié of dáái Bybelskool gestudeer nie. Tog is dit nie so moeilik om seker te maak dat die waarhede wat by ons ore inkom, waar is nie. Ons moet dit gaan toets aan die Woord van God. God se Woord gee insig aan dié wat nog onervare is. As dit steeds nie duidelik is nie, vra die Heilige Gees om te help. Vra medegelowiges om saam te bid en saam duidelikheid te kry. In die Ou Testament het die Israeliete opdrag ontvang om gesonde oordeel uit te oefen deur hulle leiers se leer deeglik te toets (Deut. 13). Net so gee Paulus in die Nuwe Testament aan die Christene om alle dinge te toets en te hou by wat goed is (1 Tess. 5:21-22).


As ons ons ore aan verkeerde ouens uitleen, is die kans goed dat ons verder van God gaan dwaal. Daarom is dit noodsaaklik om seker te maak ons kry vrede dat my en jou ore ingestel is op die golflengte van God se waarhede. Alles goed en wel, maar hoe onderskei ons wanneer dit God is wat praat en wanneer is dit stemme van die wêreld of dalk ons eie emosies? Die enigste antwoord wat ek kon vind, is om die waarheid van God te vind in sy Woord. God weerspreek Hom nooit nie. Wanneer ek en jy ons aan die gesag van God onderwerp, dan is Sy stem die duidelikste. Ons moet dus die Bybel bestudeer om God se stem te herken en kan onderskei wat reg of verkeerd is.


“Vul julle gemoed met edel gedagtes, want as julle dit nie doen nie, sal die Bose dit met slegte idees vul. Want niemand se kop is ooit heeltemal leeg nie” (Thomas More).


Gebed: Vader in die hemel, dankie dat U Woord die kos is wat ek nodig het om geestelik te lewe. Amen.

Kommentare


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page