top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 25 April 2023

Koos Espach


Ons vertrek Woensdag, 26 April op ‘n kort vakansie en sal DV weer Maandag, 8 Mei die dagstukkies versend.


Barnabas en Saulus preek op Siprus (8)


Wandel met God se Woord en dra goeie vrugte


Hand. 13:6 – “Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ‘n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy ‘n profeet is.” (4)


Vergelyk ook Judas vers 10 – “Maar hierdie mense (vals leraars) praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie.”


Judas waarsku ons gelowiges óók om op ons hoede te wees vir vals leraars. Geloof hang nie sommer in die lug nie. Dit is gebaseer op leerstellings waarin ‘n mens op grond van die Bybel glo. Die waarheid van die Bybel mag nooit in die gedrang kom nie, want dit is waar ons die ware feite omtrent Jesus en die verlossing leer. Vals leraars verdraai die Skrif wat tot verwarring lei, en dit maak dat mense nie meer seker is oor die pad wat na die ewige lewe lei nie.


Om te verhoed dat ek en jy verdwaal, moet ons altyd ‘n goeie padkaart hê. Daar is wel baie betroubare padkaarte beskikbaar, maar die beste volgens my, is die Bybel. Dit is God se lewensgids onderweg na Sy ewige feesmaal, die lig op ons lewenspad en die koersaanduider in die donker, die donker van die pad wat vals leraars verkondig. Saam met God se Woord het ons ook die Heilige Gees wat ons help om enduit die regte koers te hou ten spyte van ons omstandighede.


Jesus herinner ons weer aan Johannes die Doper se woorde: “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matt. 3:10). Jesus kondig die finale oordeel aan oor skynbekering, oor hulle wat nie leef volgens die maatstaf van die groter getrouheid aan die wet nie. Ons gelowiges wat volgens God se Woord optree, word geroep om ware profete te wees (Matt. 5:12) wat goeie werke doen (Matt. 5:16), mense met die regte visie (oog) om te onderskei wat heilig en sleg is (Matt. 6:22), mense wat die nou poort en smal pad kan vind (Matt. 7:13) en goeie vrugte te dra, nie doringbosse wat voorgee ons dra druiwe nie (Matt. 7:16).


Na Jesus se hemelvaart het die vals profete vinnig op die kerk van die Here toegeslaan. Die afgelope paar dae het ons verskeie voorbeelde daarvan uit die Bybel aangehaal. Die bekende Duitse teoloog Helmut Thielicke (1908-1986), het beweer dat die breë weg nie noodwendig die pad van die wêreld, die pad van radikale Godverloëning is nie, maar dikwels die pad van die kerk wat valse leraars, tans steeds voorhou. Dit is die kerk wat volgens hom, koers kry op die breë weg wanneer die kerk, die taal van die massa begin praat en mense se natuurlike begeertes na die hart begin aangryp. Dit gaan nie meer om die eer van God nie want Sy Woord word aangepas om by die menslike stroom van eiebelang in te val. Die kerk het ‘n kompromie tussen die goeie en slegte begin formuleer.


Wat van ons? Is ons nog op koers volgens God se Woord? Gebruik ons nog ons vermoë om deur God se genade, Hom te kies? Wat maak ek en jy met die Here se goeie nuus, dra dit vrug, goeie vrug? Indien ons steeds wegkruip agter ons vindingryke verskonings waarom ons nie betrokke wil raak by die evangelie wat mens se lewe radikaal verander nie, dan waarsku Jesus: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die Here kan nie bekostig dat vrugtelose bome kosbare spasie in Sy vrugteboord opneem nie, inteendeel, almal wat Sy genade goedkoop maak, word uiteindelik uitgekap.


Om Jesus te volg, is ‘n ernstige aangeleentheid en Hy het ons gewaarsku dit gaan nie maklik wees nie (Matt. 5:11). Ons moenie dat die dwaasheid van vals profete ons uit Jesus se vrugteboord hou nie. Indien dwaasheid ons roep, moenie antwoord nie. Volg Jesus wat die weg en die waarheid en die lewe is (Joh. 14:6). Hy is die ware koers na God toe. God sal vir die res sorg. Hoe doen ons dit? 1 Tessalonisense 5:19 gee die antwoord: “Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na Sy stem” (Die Boodskap). Saam met die Heilige Gees sal ons die ouens uitsnuffel wat bog praat. Ja, saam met die Heilige Gees sal ons by die enigste Waarheid uitkom. “Hy sal ons laat besluit wat ons moet sê en dink en doen” (1 Tess. 5:21- Die Boodskap).

“Die kerk moet vrede en verdraagsaamheid najaag, maar dan nie ten koste van en in stryd met God se koninkryk nie. Wie met God wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Here, weerhou my van vals leraars. Ek kan nie sonder U Heilige Gees se stem onderskei tussen reg en verkeerd nie. Dankie Jesus vir die versekering dat U alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur U nie. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page