top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 13 April 2023

Koos Espach


Die sendingwerk onder die heidene (2)

Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (2)


’n Gestuurde Gemeente leef deur Gebed en Getuienis


Hand. 13:2b-3 – “Die Heilige Gees het gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ 3Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.”


Antiogië in Sirië was ’n gevestigde gemeente met ampsdraers net soos die gemeente van Jerusalem. Ironies was dit ook die gemeente waar die gelowiges die eerste keer Christene genoem is (Hand. 11:26). Nog ‘n eerste waarvan ons lees, was Antiogië die gemeente wat plek vir mense uit ander bevolkingsgroepe gemaak het (Hand. 11:19-21). Nou word hulle die eerste gemeente wat doelbewus sendelinge uitstuur, en nie Jerusalem-gemeente nie.


Toe hulle besluit het om dit te doen, lees ons nêrens dat die gemeente eers uitgerekte kerkraadsvergaderings gehou het en begrotings deurgepraat het. Nee, hulle het God se aangesig gaan soek. Hulle het gebid en gevas om God se wil vir hulle kerk te vind. Hulle wag dan vir bevestiging van die Here se wil en ontvang antwoord van die Heilige Gees wie hulle duidelik lei om hulle beste leiers, Barnabas en Saulus, as sendelinge te stuur.


Ons weet dat gebed ‘n basiese bousteen van ons geloof vorm, maar of dit altyd die regte plek in ons lewe inneem is ‘n ander vraag. Chris van Wyk vertel die storie van David Wilkerson, ‘n Amerikaanse Christen-evangelis wat een nag tot laat gesit en TV kyk en die vraag gevra het: “Here, wat sal gebeur as ek die TV stel verkoop en die tyd in gebed spandeer?” Hy het nie vir ‘n antwoord gewag nie maar sy TV verkoop, en daarna elke nag van 12 tot 2 aan gebed gewy. Een nag het sy gedagtes aanmekaar gefokus op ’n spesifieke uitgawe van die Life-tydskrif op sy lessenaar totdat hy naderhand gevra het: “Here, is daar iets in dié tydskrif wat ek moet raaksien?”


Wat Wilkerson in daardie uitgawe van Life gesien het, sou sy lewe, en die lewe van baie ander, verander. Hy het ’n berig oor ’n bende-verhoor in New York gelees. Hy vertel self: “… my aandag is vasgevang deur die oë van een van die figure in ’n kunstenaar se voorstelling van die verhoor. Dit was ’n seun. Een van sewe seuns wat verhoor word vir moord. Die kunstenaar het só ’n blik van verwildering, haat en wanhoop in sy gelaat vasgevang, dat ek net weer en weer moes kyk, en begin huil het.”


Die sewe seuns was tieners. Hulle was almal lede van ’n bende wat bekendgestaan het as die “Drake!” Hulle het na ‘n park in New York gegaan waar hulle ’n vyftienjarige polioslagoffer, Michael Farmer, brutaal aangeval en vermoor het. Agterna het hulle sy bloed aan hulle hare afgevee en gesê: “Ons het hom goed bygekom.” Wilkerson vertel hoe grusaam die storie vir hom was. “Daarom was ek so verslae toe die gedagte skielik by my opkom – helder – asof dit van elders gekom het: ‘Gaan na New York en help daardie seuns.’”


Hierdie roepstem wat Wilkerson in sy gebedstyd beleef het, het hom in 1958 na New York geneem. Hy het die belange van die bendelede en dwelmverslaafdes op sy hart gedra, en sy bediening het behoorlik vlam gevat. Dit is ontwikkel in ’n program wat bekendstaan as “Teen Challenge” en waarmee merkwaardige resultate steeds onder dwelmafhanklikes behaal word – Teen Challenge was shown as having an 86 percent or higher success rate of recovery from drug addiction among its participants. Thus, it came to be known as the “Jesus Factor.” (Die verhaal van sy koms na New York word in die bekende boek, “The Cross and the Switchblade” vertel.)

Nou kan julle dalk vra: “So what? Hoe raak dit my?” Wilkerson het die Here se stem gehoor omdat hy tyd gemaak het om daagliks te hoor wat God sê. En hy het geluister na God se stem in die Bybel, maar ook in die koerante en in die tydskrifte en in sy ervaringe daarvan, daaroor gebid. Ek en jy kan ook kragtige bidders wees. Deur ons gebede in gereelde, kort gesprekke met God te verander, deel ons dit wat op ons harte is in opregtheid met die Here. Ons kan dit sommer deur die loop van die dag doen, dan werk gebed volspoed in ons lewe en sal ons God se wil, deur die Heilige Gees vir ons lewe hoor. Probeer dit!


“As ‘n mens bid, is dit beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart” (John Bunyan).


Gebed: Here, dit is wonderlik om met U te mag praat op spesifieke tye, maar dankie dat ek nie beperk is tot daardie tye nie. Dankie dat U elke oomblik van die dag of nag daar is om na my te luister wanneer ek U nodig mag kry. Dankie dat U presies weet wat ek nodig het, en tog nog geduldig wag om na my te luister. Maak dit stil in my, sodat ek U stem beter kan hoor. Amen.

 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page