Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Apr 12, 2023
- 4 min read
Woensdag, 12 April 2023
Koos Espach
Die sendingwerk onder die heidene (1)
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (1)
Voorbidding vir sending
Hand. 12:25 – “Barnabas en Saulus het teruggekom nadat hulle hulle opdrag in Jerusalem uitgevoer het, en hulle het vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamgevat.”
Hand. 13:1-3 – “Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodus grootgeword het, en Saulus. 2Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ 3Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.”
Lukas gebruik nou vers 25 as ‘n spreekwoordelike skarnier tussen die eerste 12 en laaste 16 hoofstukke van die boek Handelinge. Die fokus verskuif van Jerusalem na Antiogië in Sirië. Lukas wil ons ook herinner aan die opdrag wat die apostels ontvang het in Handelinge 1:8 omdat die gebeure in Handelinge in ’n groot mate volgens die skema daarvan verloop: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Verder verskuif Lukas dan die fokus van die opdrag aan die apostels in 1:8, na die voortgaande werk van Jesus deur die opdrag en bediening van Saulus/Paulus onder leiding van die Heilige Gees, wat Saulus in Damaskus ontvang het: “Toe sê die Here vir (Ananias): Gaan (na Judas se huis in Reguit straat), want Ek het (Saulus) gekies as my werktuig ...” (Hand. 9:15a). Die meer as 14 jaar na sy bekering was ’n tyd van voorbereiding vir Saulus se taak waarvoor die Here hom oorspronklik geroep het. Wat Petrus reeds begin het toe hy die evangelie aan Kornelius verkondig het (Hand. 10:1-38), word nou voortgesit, en dit vanuit Antiogië, wat die sentrum van die evangelieverkondiging aan die heidene word.
Lukas bevestig dat die goeie nuus oor Jesus Christus wyer as net die grense van Juda begin uitkring en verskaf ‘n naamlys van die verskillende dienaars wat leiding geneem het in die Antiogië gemeente. Van baie van hulle hoor ons nooit weer nie, maar “op ‘n keer toe die gemeente weer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”
Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle die hande op Barnabas en Saulus gelê en hulle gestuur – “... as instrumente om Jesus se Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’ (Hand. 9:15b). Hulle het gevas en gebid om die seën van die Here af te smeek oor die werk waarvoor die Heilige Gees Barnabas en Saulus afgesonder het. Met die handoplegging van die gemeente, gee hulle Barnabas en Saulus oor aan die Gees om hulle te lei en te gebruik in die Naam van die Here Jesus, met die ondersteuning van die gemeente se voortgesette gebede vir hulle.
‘n Kerk wat gehoorsaam aan die Here se stem is, is ‘n kerk met ‘n visie, sê Stephan Joubert. Hulle doen groot dinge in opdrag van die Here omdat hulle Hom onvoorwaardelik vertrou. Dit is ‘n gemeente wat gereeld tyd saam met die Here deurbring, en veral in gebed vir mekaar intree, asook vir sendelinge wat God gebruik. Só gebruik dat sendelinge hulle heelhartig daaraan toewy om die ganse mensdom van Christus se liefde kan vertel en seker maak dat Sy groot verlossing binne elke mensesiel se bereik moet kom.
Kom ons bid vir die sendelinge wêreldwyd, dat die krag van die Heilige Gees in hulle tot openbaring sal kom; dat die lewe van Christus duidelik in hulle geopenbaar sal word. Kom ons bid vir die mense wat die sendelinge bereik, dat hulle die heerlikheid van God mag ken. Kom ons bid dat hierdie mense hulle hoop op die verlossing van Christus sal vestig. En terwyl ons bid vir sendelinge, kom ons bid ook vir elke kerk se jongmense, leerlinge op skool, studente op universiteite en kolleges, dat God se Woord kragtig deur hulle ontvang sal word sodat hulle die lig van die evangelie helder na buite sal laat skyn. Kom ons bid veral vir die kerk van Christus, dat hy verlos sal word van onverskilligheid, gereeld vir mekaar in gebed sal intree en elke lidmaat sal besef dat die hoofdoel van sy of haar lewe is om God en ons naaste lief te hê, en Jesus Christus Koning op aarde te maak.
“Elke hart met Christus is ‘n sendinghart, en elke hart sonder Christus is ‘n sendingveld” (David Livingstone).
Gebed: Ons genadige Vader, my oë is op U gerig. Openbaar deur U Gees die teenwoordigheid en krag van Jesus Christus in die werke van elkeen van U diensknegte. Begin by my tot U eer. Amen.
Comments