top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 6 April 2023

Koos Espach


Die begin van die heiden-sending (53)

Herodus se dood (1)


Oes wat mens saai


Hand. 12:20-23 – “Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodus op die hals gehaal. Daarom het hulle saam ‘n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s’n afhanklik was vir lewensmiddele. 21Op die vasgestelde dag het Herodus sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. 22Die mense het toe geskreeu: ‘Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!’ 23Op daardie selfde oomblik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodus is deur wurms verteer, en het gesterwe.”


Vergelyk ook Gal. 6:7 – “Moenie julself verlei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.”


Lukas gaan maak met ons, ná Petrus se aangrypende bevryding uit die tronk, nou ‘n draai by twee gebiede net noord van Galilea – Tirus en Sidon. Herodus het in hierdie gebied ook namens die Romeine geregeer. Die bergagtige Fenisië met sy twee groot stede Tirus en Sidon, het nie eintlik plek vir landbou nie. Hulle was vir hulle voedsel afhanklik van hulle bure in Galilea, en het graan per skip na hulle hawens vervoer. Herodes was in ’n woedende vete met Fenisië gewikkel, waarskynlik oor die landsgrens, en het daaroor hulle voedseltoevoer stopgesit.


Die twee stede het saam ‘n afvaardiging na Herodes toe gestuur om oor vrede te onderhandel sodat hy die verbod op hulle voedselvoorsiening ophef. Hulle benader Herodes deur sy hoofamptenaar Blastus, wat oor sy ‘slaapkamer’ aangestel is. Hulle het hom vir hulle saak gewen deur moontlik geld aan hom te gee. (Klink dit nie bekend nie?) Blastus het die saak met Herodes bespreek en daarin geslaag om ’n onderhoud vir hulle met die koning te reël.


Op die vasgestelde dag het Herodus sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en die gesante toegespreek. Die volk was ook teenwoordig en hy het die geleentheid gebruik om almal te beïndruk. By die aanskoue van die skouspel en aanhoor van die formele toespraak het die mense wat daar byeen was, aanhoudend uitgeskreeu dat “dit ‘n god is wat praat, nie ‘n mens nie!” Dit was definitief nie Jode nie, aangesien die Jode nie iemand as ’n god sou beskou het nie. God het dadelik ingegryp omdat Herodes, hom nie teen die verering verset het en nie aan God die eer gegee het nie. Hy is deur ‘n engel neergevel en wurms het hom verteer – “die wurms van die goddelose sal nie sterwe nie” (Jes. 66:24). Herodes beswyk onder die oordeel van God, en dit in teenwoordigheid van die gesante van Tirus en Sidon voor wie hy graag juis wou skitter.


Dit laat my dink aan die gesegde: die wiele van geregtigheid draai stadig, maar verseker. God laat nie met Hom mors nie. Hy tree op om sy Naam te beskerm en Sy wil te laat geskied. Dit is ook ’n duidelike aanduiding dat ’n mens nie God se lankmoedigheid moet onderskat nie, of veral as swakheid of traagheid om op te tree, moet interpreteer nie. Waar Sy eer in gedrang gebring word, tree Hy op.


God is vandag nog steeds die Almagtige wat heers oor die hemel en die aarde. Wêreldmaghebbers en ook ons gewone mense moet Hom steeds eer en voor Hom buig. Mense wat weier om Hom te eer, sal Hy uiteindelik tot ‘n val bring. God hou nie van mense wat Sy plek probeer inneem nie. Hy hou nie van mense met gebalde vuiste in protes voor Hom nie, Hy wil graag dankbare mense op hulle knieë, in afhanklike aanbidding voor Hom sien.


Neem nou maar Jesus se intog in Jerusalem (Matt. 21:1-11). Die mense het gevra: “Wie is hierdie man?” (v. 10). Sy intog was op ‘n donkie se rug, nie soos ‘n Koning op ‘n wit perd nie, anders sou hulle geweet het. Hier was niks triomfanteliks te bespeur nie; geen wenner in aksie nie; geen glamour om die mense te beïndruk nie. Bloot ‘n Man wat aan Sy volgelinge wil wys hoe nederigheid en sagmoedigheid lyk!


Elkeen van ons is besig om op die akker van die lewe te saai. Terwyl ons daarmee besig is, moet ek en jy as gelowiges onthou, ons doen dit nie net vir onsself nie. God hou elkeen van ons verantwoordelik vir die “saad wat ons uitstrooi”, en die oes wat opgelewer word, sal vir ons tel. Maak dit sin? Die hoogmoediges, dié wat God nie eer nie, sal die ongemaklike taak hê om die oes wat hulle self gesaai het, in te bring. God se kinders, daarenteen, saai in hoop want ons leef nog in die saaityd.


Wat ons in ons harte saai, of in ons gesin, ons naaste, of waar ook al, sal die oes wat ons inbring, bepaal. Ek dink die dividende in die hemel word bepaal deur wat ons daar belê terwyl ons op die aarde is. As ons ons lewe belê in die vlietende nietighede van hierdie wêreld, oes ons nietighede, dinge wat ons lewe verwoes. As ons egter ten volle wil groei, is dit nodig om na die vaste kos van die Woord te smag, en positiewe dinge wat ooreenstem met die vrugte van die Gees in Galasiërs 5:16-25, nou te saai sodat ons hemelse dividende kan oes!


“Wat ‘n hopelose, eindelose pad loop hulle wat goed soek, in plaas daarvan om God te soek”

(Bernardus van Clairvaux).


Gebed: Ons Vader in die hemel, daar is so baie dae wat ek skuldig staan voor U omdat ek só besig is om aan my toekomstige beleggings te werk, dat ek nie tyd het vir U nie. Wanneer ek wel ‘n tydjie afknyp is dit buitendien met gedagtes, dat U tydjie ook inmeng in my tyd, wat my huidige lewensstandaard beïnvloed. Ek is só besig om ‘n aardse bestaan te maak dat ek vergeet om te lewe, vergeet om my rykdom in U te soek! Help asseblief Here! Skenk my meer tyd om aan my hemelse skat te werk. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page