Gedagte vir Vandag
Woensdag, 5 April 2023
Koos Espach
Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (15)
Petrus word uit die tronk bevry (10)
By ons moet dit nie so wees nie
Hand. 12:18-19 – “Toe dit dag word, was die soldate nie min ontsteld oor wat van Petrus geword het nie. 19Herodus het hom laat soek, en omdat hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle doodgemaak moet word. Hierna het Herodus van Judea af na Sesarea toe gegaan en ‘n tyd daar gebly.”
Lukas neem ons terug tronk toe die volgende oggend. Die gevolge van Petrus se bevryding uit die tronk is nie goeie nuus vir die wagte nie. Die Romeinse Regstelsel het bepaal dat ‘n wag wat ‘n gevangene laat wegkom, dieselfde straf moes ontvang as wat die ontsnapte opgelê is. Petrus kon nêrens gevind word nie en die Joodse koning Herodus, wat hom waarskynlik ook gebind het aan hierdie reg, het die soldate daar en dan laat teregstel. Herodus se plan om Petrus om die lewe te bring, het gefaal. Hy kon God se koninkrykswerk nie keer of tot stilstand bring nie!
Herodes verlaat Jerusalem, die godsdienstige hoofstad van die Jode, én die massa Joodse Paasgangers wat hy wou behaag. Hy keer vernederd terug na sy lewe in Sesarea, waar hy weer sy aansien kan verhoog. Sesarea was die hoofstad van die Romeinse provinsie Judea, ’n heidense Grieks-Romeinse stad wat Herodus Agrippa se oupa gebou het. Ironies, dit laat my dink aan Jesus se woorde in Lukas 14:11 en 18:14: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”
Ek wil, sonder om te veralgemeen, sê dat ons op elke terrein van die lewe hoogmoedige mense vind, mense wat voel dat hulle posisie in die samelewing hulle die reg gee om hoër geag te word as ander. Miskien is dit hulle intellektuele vermoëns wat hulle neerbuigend laat optree teenoor dié wat hulle as hulle minderes beskou. Die Spreukeskrywer dink egter dat “God met hooghartige spotters, die spot dryf, maar goed is vir dié wat beskeie is” (Spr. 3:34). Jesus het natuurlik vir ons die beste voorbeeld van nederigheid gestel: “Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Fil. 2:7).
Na aanleiding van Johannes en Jakobus se versoek om die ereposisies te beklee wanneer Jesus as koning in Israel heers (Mark. 10:37), raak die ander dissipels vir die twee broers se possoekery kwaad (dalk wou hulle self die ereposisies beklee). Jesus wys die versoek af. Hy ken die mensdom se magsbeheptheid en sê vir sy dissipels: “Maar by julle moet dit nie so wees nie” (Luk. 22:26).
Jesus het vir ons gelowiges ‘n voorbeeld van nederigheid voorgestel, ‘n voorbeeld wat trouens kenmerkend vir ons behoort te wees sodat ons bereid sal wees om mekaar se voete te was soos wat Hy sy dissipels se voete gewas het (Joh. 13:1-17). Die bedoeling is egter nie dat ons letterlik mekaar se voete moet was nie, maar soos Jesus sy volgelinge in nederigheid gedien het, moet ons ook mekaar in nederigheid dien.
Hoekom moet ons Christene so optree? Omdat Jesus presies dit gedoen het. Om nie in die strik van hoogmoed te trap nie, moet ons altyd Jesus se nederigheid onthou. Hy was bereid om tydens Sy aardse diens, heel agter in die ry te staan. Hy het mense met Sy hele lewe kom dien. Maar ongelukkig het meeste van Sy volgelinge wat vol verwagting was dat Hy die Messias is, Hom destyds verlaat. Die eise wat Hy stel om die ewige lewe te verkry behels die drink van ‘n lydensbeker. Dis verregaande! Hulle wou iemand volg wat vir hulle iets kon dóén – kos gee wanneer hulle honger is, gesond maak wanneer hulle siek is en tot hulp kan wees teen Romeinse druk. Maar toe hulle hoor wat Hy eis, toe is die kerk meteens leeg! Sy mooiweers-vriende verlaat Hom toe die eerste skaduwee oor hulle val – die skaduwee van die kruis!
Talle mense loop vandag nog van die Here Jesus af weg wanneer hulle voel Sy dienslewering is nie na wense nie. Party mense stap agter Jesus aan net omdat hulle die duiwel en die hel vrees. Ander weer omdat hulle glo dat, indien hulle so 'n tydjie hier en daar aan Jesus afstaan, Hy hulle darem iewers hier en daar sal beloon. Waar staan ek en jy in die dienslewering tou, voor of agter? Is ons bereid om enduit saam met Jesus te stap? Sy pad gaan deur Getsemane, “deur die stadspoort tot buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het” (Heb. 13:12-13). Dit is ‘n eensame pad wat later nie meer die geringste teken van ‘n voetspoor het om te volg nie – slegs ‘n stem wat sê: “Volg My!” (Matt. 4:19).
“Wie saam met Jesus wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan” (Anoniem).
Gebed: Here, daar is só baie mense wat moeg en moedeloos raak vir die uitdagings van die evangelie. “Daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Ek wil graag in U voetspore volg, die voetspore van nederige diens. Help my asseblief. Amen.
Comments