top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 30 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (11)

Petrus word uit die tronk bevry (6)


Jesus bly teenwoordig in ons lewe


Hand. 12:17b – “Petrus het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het ... en na ‘n ander plek toe vertrek.” (2)


Vergelyk ook Matt. 16:13 en 16 – “Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: ‘Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?’ 16Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.”


Nadat Petrus in detail vertel het hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het, het hy gesê hulle moet hierdie dinge “vir Jakobus en die ander gelowiges vertel.” Daarna het Petrus na ‘n ander plek vertrek, en so skuif Lukas vir Petrus eersaam uit die verhaal uit. Maar ons kan hom nie sommer net so uit die verhaal skuif nie. Simon Petrus, die sondaarmens wat deur sy verbondenheid met Jesus, ‘n rotsbelydenis uitspreek (Matt. 16:16), waarop die kerk van Christus gebou sou word, kan ons ‘n magdom dinge leer.


Verskillende verklarings is gegee van waarheen Petrus sou gegaan het. Uit Gal. 2:1 e.v. en Hand. 15:2 e.v. blyk dit dat Petrus nog in Jerusalem was toe Paulus daar aangekom het. Hand. 15:6-11 kom Petrus weer aan die woord in die vergadering van apostels en ouderlinge. Daarna is daar enkele verwysings na hom in die Bybel: Volgens Gal. 2:11 was hy in Antiogië; 1 Pet. 1:1 skep die indruk dat hy in Klein-Asië gewerk het in die provinsies Pontus in die noorde van die huidige Turkye, Galasië, Kappadosië, Asië, en terug na Bitinië in die noorde. Teen die einde van sy lewe sou Petrus ook na Rome gegaan het. Tydens die vervolging van die Christene onder keiser Nero, veral ná die groot brand wat die helfte van die stad Rome in 64 n.C. afgebrand het, sou Petrus volgens oorlewering daar gearresteer word en met sy kop na onder gekruisig word.


Ons kan seker verder teruggaan in die lewe van Petrus en begin waar Jesus hom ‘n opdrag gee om Hom te volg en ‘n visser van mense te word, maar vir die doeleindes van ons bespreking, begin ons by Jesus wat Petrus nog ‘n kans gee. Jesus verskyn ná sy opstanding, vir die derde keer aan sy dissipels langs die See van Galilea (Joh. 21:9-14). Petrus en ses ander dissipels staan by die koolvuur langs die see. Die afgelope drie jaar as volgeling van Jesus, het Petrus al só baie mislukkings gehad en foute gemaak. Die grootste mislukking in sy lewe, was die aand daar langs nog ‘n koolvuur by die hoëpriester se paleis waar hy in Jesus se uur van nood, ontken het hy ken Jesus (Joh. 18:25-27). Vir Petrus voel hierdie sonde onverskoonbaar, onvergeeflik.


Petrus en Jesus het ná die verloëning, nog nie met mekaar gesels nie, en dalk wonder hy hoe Jesus nou oor hom voel. Maar Jesus reageer anders: die Seun van God, maak ontbyt vir Sy volgelinge! Hy vra dat hulle ook van die vis moet bring wat hulle gevang het. Jesus, kom vorentoe, neem die brood en so ook die vis, en voed hulle met dieselfde hande wat aan die kruis deurboor is! Hulle weet spontaan: “Dit is die Here” wat die dood oorwin het, die Een wat die stukkendheid en seerkry van die mens se aardse bestaan, kom heelmaak en omskep het in oorvloed! Die Een wat Petrus nog ‘n kans wil gee!


Die Here wil teenwoordig bly in my en jou lewe. Daar was genoeg vis op die kole vir almal, maar Hy vra dat ons “van die vis moet bring wat ons gevang het” (Joh. 21:10). Waarom moet ons vis by Sy vis gevoeg word? Hy het reeds gesorg vir alles en dit is meer as genoeg! Selfs die groot vangs was immers ‘n wonderwerk wat Hý laat gebeur het, en tog sê Jesus: “wat júlle gevang het” – asof dit net hulle werk was. “Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek.”


Jesus versoek dat die ‘visse’, die gawes wat Hy ons gee, by Sy gawes gevoeg word. Hy neem ons net soos wat ons is, met ons huidige beroep, as’t ware in diens. Jesus wil ons hande en voete, ons alles, gebruik om Sy werk voort te sit op aarde! Ons word geroep tot mede-arbeiders met ons beperkte kennis van ‘visvang’, om ons kundigheid, ons werk waarop Hy die vrug gee, by te voeg sodat dit deel word van Sy werk! Ons daaglikse arbeidsveld gebruik Hy, skakel Hy in en voeg Hy by om Sy triomfstog, die oorwinning van sy opstanding, die wêreld in te dra en Sy koninkryk op aarde te help vestig. Dit is dikwels nie groot goed wat die Here van ons verwag nie, maar klein dingetjies. Ek en jy kan ‘n verskil maak.


“Gelukkig is hulle wat weet dat dissipelskap eenvoudig beteken dat jy uit genade leef en dat genade eenvoudig dissipelskap beteken” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Dankie Jesus dat U nooit ver van my af is nie. Dankie dat U my alles gee wat ek nodig het om U te volg. Dankie dat U nie net die bekwames roep nie, maar dié bekwaam wat U roep. Amen.


留言


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page