top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 29 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (10)

Petrus word uit die tronk bevry (5)


Om te bid, maar steeds ongelowig te wees


Hand. 12:16-17 – “Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas. 17Hy het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. ‘Vertel dit vir Jakobus en die ander gelowiges,’ het hy gesê en na ‘n ander plek toe vertrek.”


Lukas wys vir ons in hierdie komiese toneeltjie, die onbegryplike grootsheid van die wonder van God se onverwagte ingryping waarvoor juis gebid word. Rodé herken Petrus se stem en oorstelp van vreugde oor die wonder van sy bevryding dink sy nie daaraan om die deur vir hom oop te maak nie, maar hardloop om die nuus aan die biddende gelowiges te gaan uitblaker, dat Petrus voor die deur staan.


Petrus het aangehou met klop tot hulle die deur uiteindelik kom oopmaak. Toe die gelowiges hom sien “was hulle baie verbaas.” Hulle het heel moontlik vreugdevol begin jubel en skreeu sodat Petrus genoodsaak was om hulle “met die hand ’n teken te gee om stil te wees”, sodat die hele omgewing nie wakker gemaak word van die geraas en die wagte kom ondersoek instel oor wat aangaan nie. Nadat hy in detail vertel het hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het, het hy gesê hulle moet hierdie dinge “vir Jakobus en die ander gelowiges vertel.”


Terloops, Jakobus wat van Petrus se bevryding moes hoor, is die broer van Jesus (Mark. 6:3). Jesus se broers het eers nie in Hom geglo nie (Joh. 7:1-5). Maar ná Sy hemelvaart, skryf Lukas dat Sy broers deel was van die groep wat die tien dae tot die uitstorting van die Heilige Gees in gebed volhard het (Hand. 1:14). Jakobus word dan later ook die leier in die Jerusalem-gemeente (Hand. 21:17-25).


Het dit nie al met jou gebeur dat jy bid, maar tog twyfel of God gaan antwoord. Die gelowiges in Jerusalem het gebid vir Petrus omdat hulle magteloos was om hom te bevry. En toe hy bevry word, het hulle reaksie hul twyfel bewys. Dit is amper om vir God te vra om in ons behoeftes te voorsien en wanneer Hy ons gebed verhoor, is ons geloof só swak, of is ons só verbaas, dat ons die voorsiening as toevallig afmaak!


En dan is daar diegene wat reken dat gebed onvanpas is. Diegene wat vergelykings tref deur na ander mense te kyk – die "hulle" van die wêreld – en dan tot die gevolgtrekking kom dat "hulle" nooit in ‘n kerk kom nie maar alles het wat mens nodig het; "hulle" sien relatief goed daaruit want "hulle" werk vir wat "hulle" het. Dit is verdien deur hard te werk en nie hard te bid nie; "hulle" besit baie en "hulle" begroting klop deur "hulle" goeie beplanning en dan kry "hulle" elke jaar nog belasting ook terug; "hulle" daaglikse brood word verskaf deur die bakkery en “hulle” koop dit by die naaste supermark. Niks is verkry deur gebed nie.


Dan is daar baie mense wat reken dat hulle al sóveel keer gevra het, duisend keer geklop het, só baie al aanhoudend gesoek het, maar nooit ontvang het nie (Luk. 11:9-10). Hoe verstaan mens dit? Die gevolgtrekking: “Nee wat, gebed werk nie, dit is onproduktief en niemand luister buitendien nie.” Tog, die boodskap van Petrus se bevryding uit die tronk, is ‘n bewys dat gebed werk! God gryp oral in, selfs soldate kan Hom nie vasketting nie en ‘n uiters hoësekuriteitstronk kon hom nie binne hou nie.


Gebedsvertroue beteken om totaal afhanklik te wees van ons hemelse Vader, om “jou lewe aan die Here oor te laat en te vertrou op Hom; Hy sal sorg” (Ps. 37:5). Gebed is beslis nie ‘n towerstaffie nie. Om elke keer wanneer ons iets nodig het oor ons “gebedslampies” te vryf, gaan nie noodwendig iets voortbring nie. Laat ons dan God dank dat Hý ons gebede volmaak verhoor en nie soos wat óns dit wil hê nie. Ons kan egter God vra om ons geloof te versterk en ten spyte van ons gebrekkige geloof, in ons behoeftes te voorsien volgens Sy wil. En wanneer God uit genade en ten spyte van ons gebrekkige geloof reageer, in vreugde Sy voorsiening aanvaar.


“As jy God se deur kan oop bid, moet dit nie uit eie krag probeer oop béúr nie” (John Wesley).


Gebed: Dankie Vader dat ek weer en weer met my nood kan vra, kan klop, kan soek en U elke keer daar is en luister. Dankie dat ek my hart in U troonkamer kan oopmaak en te weet, U gee om. Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in my opwek sodat ek gelowig kan bly bid. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page