top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 28 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (9)

Petrus word uit die tronk bevry (4)


Verbystering of ongeloof?


Hand. 12:12-15 – “Met dié gedagte (van vers 11) is Petrus na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid. 13Hy het aan die voordeur geklop, en ‘n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. 14Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie maar binnetoe gehardloop het om te vertel dat Petrus by die deur staan. 15Maar hulle sê vir haar: ‘Jy is mal.’ Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: ‘Dan is dit sy gees.”


Lukas beskryf Petrus se bevryding uit die tronk en die aankoms by die gelowiges in detail om ons van die werklikheid van die gebeure te oortuig. Met die besef van die Here se ingrype om hom uit die tronk te red en die moontlikheid dat die soldate hom sou agtervolg as hulle ontdek dat hy ontsnap het, gaan hy na die huis van Maria, die ma van Johannes wat Markus (sy Latynse naam) genoem word. Selfs die diensmeisie, Rodé, wat Petrus aanvanklik nie inlaat by die gemeentebyeenkoms nie, waarskynlik weens haar verbouereerdheid, se naam word genoem.


Petrus het geweet waar hy die gelowiges in die middel van die nag sou kry. Moontlik het hy die vorige keer wat hy in die nag uit die tronk bevry is, ook na dié huis gegaan, waar hulle ‘eie mense’ bymekaar was (Hand. 4:23). Hy het egter nie geweet dat daar baie mense bymekaar was wat juis besig is om vir sy vrylating te bid nie. Petrus klop aan die deur wat toegang verleen het tot die voorportaal en van daar deur die binnehof tot die woonvertrekke. Lukas skilder die teenstelling by die deur: buite staan die kloppende apostel Petrus en binne die luisterende diensmeisiedeurwagster Rodé.


Rodé het Petrus se stem herken, wat daarop dui dat hy ’n bekende in daardie huis was. Oorstelp van vreugde het sy nie dadelik die deur oopgemaak nie maar binnetoe gehardloop om te vertel dat Petrus by die deur staan. Die biddende gelowiges binne-in die huis wou haar nie glo nie. Hulle het gesê sy is mal. Dit is eienaardig dat hulle om die bevryding van Petrus gebid het en tog nie wou glo dat hulle gebede reeds verhoor was nie. Toe sy daarmee volhou, soek hulle nóg ’n ander verklaring en sê dat dit nie Petrus self is nie, maar sy gees.


Attie van Wijk vertel van ‘n gemeente in Texas wat ernstig gebid het téén die oprigting van ‘n kroeg in hulle dorpie. ‘n Week voor die inwyding tref weerlig die gebou tydens ‘n donderstorm, en verwoes die gebou totaal. Die gemeente was baie tevrede maar die kroegbaas wat geweet het van hulle biddende teenkanting, eis van hulle vergoeding in die hof vir sy skade. Hulle het heftig beswaar aangeteken. Tydens die hofsaak sê die regter: “Ek weet nie wat om te besluit nie. Aan die een kant is hier ‘n kroegeienaar wat vas glo in die krag van gebed, en aan die ander kant ‘n hele gemeente wat ontken dat gebed enige verskil maak.”


Die gemeente in Jerusalem was ook so. Terwyl hulle nog ernstig bid, het God reeds sy Almag openbaar en Petrus op ‘n wonderbaarlike wyse uit die gevangenis bevry. Hulle het nooit gedroom dat God deur sy engel al die boeie en slotte en deure sou oopmaak nie. Nog minder dat een van die 16 wagte wakker sou word en alarm maak nie. Toe ‘n vry Petrus by hulle gebedsbyeenkoms opdaag, wou die bidders duidelik nie glo dat hulle gebede so letterlik verhoor sou word nie! Hulle het geredeneer dat Petrus onmoontlik vry kon wees, en dit terwyl hy buite gestaan en klop het!


Ons kan hierdie totale verbystering van die biddende gemeente en ‘n “mal” diensmeisie op twee maniere vertolk: As kleingelowiges het hulle nie regtig verwag dat die Here iets van so groot omvang sou doen nie. Hulle het immers vir Jakobus ook gebid en ten spyte van hulle gebede, het Herodus hom vermoor. Tweedens was hulle moontlik net gewoonweg uit die veld geslaan van verbystering en verwondering.


Ek wonder hoe sou ons opgetree het indien ons deel was van daardie “baie gelowiges wat saam was om te bid?” Is dit nie tekenend van hoe ons sou opgetree het nie? Sou ons aanvaar het God kan meer doen as wat ons verwag? Bid ons só spesifiek dat ons nie eens agterkom as ons gebede verhoor word nie? Bid ons met ‘n verwagting dat ons gebede ‘n verskil gaan maak? Soms glo ons met groot oortuiging net om ander kere weer aan God se beloftes te twyfel. Wel, indien ons nie weet wat die antwoorde sal wees of is nie, kom ons vertrou intussen die Here se alwysheid en verbysterende almag. Vertrou Hom in alle omstandighede en glo dat Hy die wil en die vermoë het om Sy kinders, ons gelowiges, kan red sodat sy Naam vereer kan word en ons geestelik kan groei.


“Christus het nie gekom om ons lyding weg te redeneer of weg te neem nie. Hy het gekom om dit met Sy teenwoordigheid te vul” (Paul Claudel).


Gebed: Vergewe my my ongeloof, Here Jesus. Hou my te alle tye naby U, want by U is dit vir my die veiligste plek. Wys my hoe my gebede ook ‘n verskil maak. Dankie dat ek altyd en in alle omstandighede op U kan vertrou. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page