top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 27, 2023
  • 4 min read

Maandag, 27 Maart 2023

Koos Espach


Jakobus word doodgemaak en Petrus gevange geneem (8)

Petrus word uit die tronk bevry (3)


Oorwinning in Christus


Hand. 12:10b-11 – “Toe hulle buite kom en ‘n ent met die straat af was, het die engel vir Petrus skielik verlaat. Toe dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy dink: nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodus te red en van alles wat die Joodse volk van plan was om te doen.”


Herodes en die 16 soldate wat Petrus in die tronk bewaak, kon die Here nie uit die tronksel hou nie. Hulle is nie bestand teen die gebede van die gemeente en die engel van die Here nie, en Petrus word bevry. Petrus gehoorsaam die engel soos iemand in ’n droom en volg die engel sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Om die wonderwerk wat plaasgevind het, te beklemtoon, sê Lukas dat die buitedeur van yster was en vanself oopgegaan het. Hierdie deur moes swaar gewees en met ’n besondere slot gesluit gewees het. Die engel begelei Petrus ‘n ent in die straat af om hom in die alledaagse wêreld terug te lei en verdwyn dan skielik. Petrus besef wat werklik met hom gebeur het en moet dan verder self sy weg vind.


Alleen in die donker straat, kom Petrus tot verhaal. Hy praat met homself en spreek die beslissende belydenis uit: “Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het” om my van ’n gewisse dood te red. Hy is gered uit die hand van Herodes Agrippa wat reeds vir Jakobus doodgemaak het, en gered uit die verwagting van die Joodse volk dat Herodes die Christene gaan uitroei – “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps. 34:8).


Ons het dit al genoem, maar dis nodig om ons weer daaraan te herinner dat die tipiese siening van ons Christene, dat ons verlos is van alle teëspoed, nie waar is nie. Dit beteken eintlik ons is verlos in teëspoed – en dit is iets heeltemal anders. As kinders van God (Joh. 1:12), sal ons verseker teëspoed ervaar, maar Jesus het gesê ons moenie verras wees wanneer dit gebeur nie – “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16:33). Eintlik sê Jesus vir ons daar is niks om te vrees nie. Die Skotse evangelis Oswald Chambers beaam dit: “God gee nie vir ons ‘n oorwinnende lewe nie – Hy gee vir ons lewe terwyl ons oorwin!”


Dat ons gelowiges “in die wêreld dit moeilik sal hê”, is ongelukkig ‘n feit wat ons moet erken. Vervolging en verdrukking sal deel wees van elke Christen omdat die wêreld in vyandskap teen Christus en Sy eiendom verkeer. Maar tog is die oorwinning verseker, dit is ’n voldonge feit: “Ek het die wêreld klaar oorwin” sê Jesus, en met daardie woorde van triomf het Hy sy gesprek met die dissipels afgesluit en as oorwinnaar die kruis tegemoet gegaan.


Die wêreld is die terrein wat beheers word deur die mag wat God vyandig gesind is. Van Bybelse tyd af veg hierdie magte met die kerk en die gelowiges. Dit is egter nie die eindpunt van die saak dat ons moeilikheid, lyding en probleme gaan hê nie, die eindpunt is dat ons moet “moed hou: Jesus het die wêreld klaar oorwin.” Jesus het al hierdie magte gebreek, sodat ons êrens as oorwinnaars gaan uitstap. Die moeilikheid met die wêreld is maar net ’n tussenstap wat ons tot die eer van God moet hanteer: “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?” (Rom. 8:32).


Ons is so geneig om maklik handdoek in te gooi en moedeloos te raak. Ons word só maklik oorweldig deur die donker wolke van beproewing en verwarrende omstandighede. Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. Hy wil vir ons sê dat Sy lig steeds skyn, selfs in die donkerste plekke of tye. Ons moet nie moed verloor nie! Ons moet ons lewensblydskap en ons wil om vorentoe te gaan, bly behou. Ons het ’n groot verantwoordelikheid, daarom moet ons sorg dat ons nie ter wille van ander mense ons beginsels prysgee nie. Ons in Suid-Afrika beleef nog nie werklik vervolging nie, maar ons beleef al die voorlopers daarvan, want daar is al hoe meer terreine in ons lewe waar ons Christelike beginsels ernstig in gedrang kom omdat die beleid regoor die wêreld is dat die Naam van die Here geen voorkeur bo enige ander godsdiens of vorm van (heidense) aanbidding het nie.


Hierdie dinge mag ons nie ontmoedig en laat uitsak nie! Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat die Here vir ons beplan het nie. Jesus het belowe dat Hy ons self in daardie dae sal bewaar: “Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Op. 3:10). Ons hoef dus nie Jesus se vermoë om dít te doen, te betwyfel nie. Hy het reeds bewys dat Hy die dood oorwin het en die lewe beheers. Ek en jy moet net moed hou en ander ook bemoedig.


“As jy teleurgestel wil word, kyk na jou medemens. As jy moed wil skep, kyk na Jesus Christus – Hy gee krag aan dié wat moeg is, Hy maak die moedelose weer vol moed” (E. Sauer).


Gebed: Dankie Jesus, dat ek deur U lyding bemoedig word – my swaarkry is nie meer net my probleem nie, dit is óns probleem. Wanneer ek stukkend is, hou U my vas. U stuur ‘n engel wat mure om my bou sodat ek in my swakheid veilig mag wees by U. Ek prys U, Here! Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page